Breyten Breytenbach. Brief vir Daniel

Beste Daniel

Dit was ‘n aangename verrassing om jou blog en die gedig (wat ek nie geken het nie) vanoggend op Versindaba te lees. Salf aan ou rowe. Dankie!

En dit het allerlei herinneringe weer wakker gemaak. In jou gedig verwys jy daarna dat jy my gevra het of daar destyds met die manuskrip van Voetskrif gepeuter is en dat ek jou vertel het dat die gedig “Help” uitgelaat moes word. Absurd, maar dis wat gebeur het. Verder het die bundel redelik ongeskonde anderkant uitgekom, behalwe dat dit natuurlik geskryf is onder die swaard van die wete dat Veiligheidsoë alles deeglik sou fynkam en interpreteer. ‘n Vreemde en donker kolk was dit alles – wat hulle daarmee wou bereik deur die publiksie te laat deurgaan; die ‘onderhandelinge’ wat daar seker was tussen Bartho Smit en die Gryskak; my eie verorberende behoefte om te kon kommunikeer met ‘buite’, om te sein dat ek nog leef, maar ook duidelikheid te kry en so helder moontlik te praat sonder om buite die spore van die toelaatbare te trap (nie ‘n slegte dissipline nie!); Bartho-hulle se geesteswroeginge sekerlik – hoe om nie gebruik te word deur die staat nie (en die staat was beman deur jou eie mense) en tog te sorg dat die man se goed verskyn. Ek is jammer dat ek nooit die kans gehad het om later van jare vir Bartho dankie te sê nie.

Hoekom het Kalfie Broodryk aangedring daarop dat die bundel aan hom opgedra word? Dit was ‘n opdrag van sy kant, nie ‘n versoek nie. Ydelheid, gewis. In opdrag van sy base of/en ‘n manier om die boek in die lewe te help? ‘n Manier om bekommerdes buite vet om die oë smeer? (Kyk, ons het die mak digter. Hy word goed opgepas en na omgesien, Hy kan selfs skryf en publiseer!) En onder die bekommerdes daar buite was daar mense met invloed: Olof Palme, bv., maar nog interessanter ook Leopold Senghor. Senghor, self digter maar ook president van Senegal was, net soos Houphouet-Boigny die Ivoorkus president, sleutelfigure in SA se berugte “détente” politiek in terme waarvan die isolasie van SA in Afrika omseil sou word. (Hulle had natuurlik ook ander gedeelde belange: ekonomie, wapenverkope, geldwassery, waarskynlik die gebruikmaak toe reeds van huursoldate.) Baie jare daarna, een winderige oggend op Gorée het Senghor se destydse Direkteur van die Presidensie, later ook Eerste Minister, my vertel hoe Senghor sy kabinet byeengeroep het en opdrag gegee het hulle moet in alle diskresie vir my in die bresse tree by Sitting Bull Vorster. Geen antwoord gekry nie. Weer geskryf en oplaas van die Ministerie van Buitelandse Sake ‘n mededeling gekry – was dit van Pik Botha? – met die versekering dat hulle my nie sou doodmaak nie. Tot sy eer moet gesê word dat Senghor nooit melding gemaak het van die insident nie. Van dit alles was ek salig onbewus.

Hierdie ‘vergunning’ om te skryf het gou soos mis voor Poestoria se son verdamp. Eers ná die tweede verhoor – ek dink dit was in 1977 of ’78 – waartydens Ernie Wentzel en Johann Kriegler (my onwaarskynlike beskermengele) indringend gewag gemaak het van die omstandighede en buitensporige beperkings van my gevangeneskap – was ek weer toegelaat om te skryf met ‘n aantal belaglike voorwaardes. Toe ‘n Seisoen in die Paradys in Engels verskyn het, het die advokate ‘n vergunning kon beding dat ek kennis mog neem van die boek. Ek moes in ‘n gang sit onder bewaking van ‘n Boer (‘n bewaarder) wat moes toesien dat ek deur die boek blaai maar nie léés nie. Dit moes binne ‘n halfuur geskied. Hulle wou nie hê dat ek blootgestel word aan gevaarlike en ondermynende materiaal nie! Inderdaad, allerlei passasies was in rooi onderstreep. 

Die skildery wat as afbeelding op die omslag van Voetskrif gebruik is, het ook ‘n storie. Tydens die maande van interrogasie en verhoorafwagting was die destydse BOSS aanwesig. Een van hulle was ‘n offisier wat glo ook ‘n pos aan die Universiteit van Pretoria beklee het. (Deel van die Afrikaners se Groot Vergeet – en nou Rasende Gebelgdheid – is hoe diep en ver die vrot van informante en agente en operateurs en knoeiers en sluipmoordenaars en Walter Mitties gestrek het. So was daar seker byna geen buitelandse korrespondent wat nie ook ‘n spioen was nie.) Hierdie BOSS-meneer was ‘n beskaafde kêrel met ‘n dogter wat belang gestel het in die skone kunste. Hy het toe gereël dat skildermateriaal by Beverly Hills ingesmokkel word sonder dat die Veiligheidspolisie daarvan weet, want hulle het nie ooghare vir mekaar gehad nie en dit sou onwettig wees, en ek sou drie skilderye maak: een vir hom, een vir my vrou, een vir my broer. Hy sou die werke met die hulp van die Seksieboer, sersant Arselow, weer uitsmokkel en sorg dat die twee wat nie syne is nie aan my broer besorg word. So gesê, so gedaan, maar omdat hy ‘n skelm was – waar sou ‘n spioen tog enige eerbaarheid vandaan kry? – het hy probeer om al drie te hou. En toe ek, ook maar onderduims, later verneem dat die werke nie hulle bestemming bereik het nie, het ek gedreig om hom by die Veiligheidspolisie te verkla. Die werk op die omslag is in sy besit (hulle het ook gehou van trofieë: in Broodryk se huis was daar o.a. foto’s van hoe hy een van dié was wat vir Bram Fischer in hegtenis geneem het) en my broer het ‘n foto daarvan kon neem. Die tweede werk het met ‘n ompad veel later wel by my vrou uitgekom. Die derde het ek baie jare daarna kon terugkry nadat dit op een van Stephan Weltz se veilings deur Sanlam aangekoop is. Dis ‘n ander onplesierige storie.

Punt is dat daardie werk die “help”-gedig bevat. Ek heg ‘n baie onduidelike foto’tjie hierby aan.

En oom Koot. So by my Koot! Kragtige broers, die Vorsters. En hoe is hulle nie na die mond gepraat deur van ons voorste skeppende intellektuele nie. Ek het in gedagte ‘n studie deur een van ons heel vroomste nasionale digters wat ‘n geleerde studie gemaak het vir die Veiligheidspolisie oor hoe ondermynend kommunisties André Brink en ek sou wees. Dit was natuurlik ‘vertroulik’. Vir André se kommunisme sal ek nou nie my hand in die vuur steek nie, want ek het maar net twee; my eie kommunistigheid het my al die jare bygebly soos ‘n lastige hoesie, en dit word net erger. Aan iets moet mens tog seker doodgaan? Ek probeer dit darem meesal agter die hand wegsteek.

Ek het nogal bewondering gehad vir die ou stormjaer vuurvreter Koot. Hy was ten minste pens en kootjies in sy eie kruistog. Goeie politieke dominee, al was hy seker meer blaas as koerasie. ‘n Goeie ding was dat hy en sy mede-vleespotoppassers hulle darem aan ons skrywertjies gesteur het (my pa het my vertel hoe daar van die preekstoel af teen die Sestigers gepreek is en toe hy dit agterkom – want hy het dwarsdeur die preek in die ouderlingbank sit en slaap – het hy summier uit die kerkraad bedank) – maar vandag? Dink jy die vreters aan bewind vat enige skrywer kop toe?

Nie dat ons so belangrik was nie. Ek sekerlik nié鮠 Maar hulle moes probeer om die geestelike en politieke hegemonie in stand te hou. Vandag sny die base net die beswaarmakers uit eie geledere se ligte en water af.

Nogmaals dankie. Ek hoop nie ek was te veel van ‘n verderflike invloed nie!

Groete,

Breyten

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Brief vir Daniel”

  1. Desmond :

    Die vroom digter was natuurlik reg: julle was ondermynend — en dank die vader daarvoor! Ek het my kopie van Voetskrif ongeveer 20 jaar terug by ‘n vriend gekry wat dit vir my uit die skoolbiblioteek gesteel het… Hy het nie gedink die skool verdien so ‘n bundel nie! Ek vermoed dit was die eerste Afrikaanse bundel waarin Bob Dylan by die naam genoem word.

  2. Leon Retief :

    Breyten, Desmond is reg – julle was ondermynend en dis waarom die powers that were katvoet was vir julle. Destydse Afrikaanse letterkunde het my besis beinvloed. Ek dink nie dat veel SA swartmense juis eietydse Afrikaanse letterkunde lees nie, daarom skenk hulle min aandag aan skrywers want julle invloed onder die stemvee is ongelukkig gering.

  3. Daniel Hugo :

    Beste Breyten, baie dankie vir die boekstaaf van hierdie stuk geskiedenis. Dit is hoog tyd dat daar ‘n biografie oor jou lewe geskryf word!

  4. Daniel Hugo :

    Beste Breyten, ek wou ook nog sê: Ek is bly ons kon die ou (yster)koei hiermee begrawe.

  5. Breyten Breytenbach :

    Van my kant eweneens, Daniël. Ek het slote vol ou koeie wat deur my slepende knorrigheid en onredelikheid daar beland het. (Mens sou sweer ek wil ‘n stoet opbou!) Maar af en toe kan ek darem nog ‘n grootse en vrygewige gebaar sien vir wat dit is en dan is dit lekker om te besef hoe verspot ‘n gegewe ou koei eintlik is – en selfs te wonder vir wat die verroeste bees ooit daar beland het. Ek weet jy het my verskoon vir my buffelagtigheid. Dankie.

    Ek wil jou hand hiermee stewig druk. En ek hoop dit gaan goed met jou en jou familie en jou werk. Mooi loop!

  6. Daniel Hugo :

    Baie dankie! Ek waardeer die handdruk geweldig baie.

  7. Daniel Hugo :

    Beste Breyten, ek weet dit is nie heeltemal die regte forum vir my vraag nie, maar het jy al Adriaan van Dis se roman “Tikkop” gelees? Agterin gee hy erkenning aan jou essay “Mandela’s Smile: Notes on South Africa’s Failed Revolution”. Die hoofkarakter Marten Mulder lyk na ‘n kombinasie van jou en Van Dis self. Op p. 65 leen hy byvoorbeeld jou woord “vleesklok”. (Ek het ook verwysings na Adam Small, Van Wyk Louw, Andre Brink en D.J Opperman teengekom. Terloops, ek het die boek pas vir Protea Boekhuis vertaal.)Wat dink jy van die boek? – Dis nou as jy dit reeds gelees het, natuurlik!

  8. Breyten Breytenbach :

    Beste Daniël – laat ons maar die forums tot ons beskikking gebruik. (Solank Marlise-hulle lankmoedig is! En sommer so in die verbygaan – mens moet hulle regtig dankbaar wees dat hulle die werf so netjies en rustig en interessant hou.)
    Nee, tot my skande het ek nog nie Van Dis se “Tikkop” gelees nie, en nou weet ek nie op watter rak ek dit weggesit of by watter staning ek dit in ‘n bokvelbladsak gebêre het nie. Moes juis vorige week ‘n onderhoud op ‘n Nederlandse sender afsê omdat ek nog nie kennis kon neem van die boek behalwe vir ‘n bolangse besoek nie.
    Dit sal my nie verbaas as daar samestellings van bestaande mense as karakters voorkom nie. Van Dis loop al lankal met die bedoeling om ‘n boek te skryf oor sy ‘ondergrondse’ ervarings van destyds in die vroeë sewentigerjare. Die Donald karakter kan dalk o.a. ‘n kombinasie wees van ‘n regte Donald wat een van ons samesweerders was, en Schuitema. En dalk is daar goed in wat hy in my mond gehoor het: ek het al so baie gepraat en soveel teenstrydighede kwytgeraak dat daar genoeg is vir enigiemand om iets uit te haal en aan te pas by die diskoers wat hy wil oordra. (Maar ek sal regtig eers die boek moet lees.)
    Ek is bly jy het dit vir Protea vertaal. En ek is seker dit moet ‘n baie interessante boek wees. Van Dis kén SA, sy styl was nog altyd puik, en sover ek weet het hy hom werklik probeer verdiep in Arniston se lewe.
    Groete!
    Buiteblaf

  9. Daniel Hugo :

    Beste Breyten – baie dankie vir daardie verwysing na Arniston (Waenhuiskrans). Ek het tydens die vertaalproses die Weskus (St Helenabaai, Paternoster, Vredenburg) in my kop gehad, maar die kopbeelde wou nie klop met die boekbeelde nie!

  10. Breyten Breytenbach :

    Beste Daniël: As jy die kans kry en in verbinding met Hannes van Zyl kan tree, gesels gerus met hom. Ek het verstaan dis hy wat dit moontlik gemaak het vir Van Dis om die boek in Waenhuiskrans te skryf. En miskien sou hy lig kon werp op van die ander samestellings van die boek – dis nou te sê indien Van Dis die wordingsproses met hom bespreek het. Soos ons almal maar slaag Van Dis nie altyd daarin om sy spore dood te vee nie. Ek dink nou aan ‘n vroeëre werk van hom, “Die Eiland” (?), waar hy gesukkel het om die nodige afstand te bereik tussen hom en sy omgewing. In ‘n ou opstel van my, “Africa on my mind” uit die bundel “The Memory of Birds…” is daar ‘n skramse verwysing na ons besprekings van die problematiek.

  11. Krokodil Ngwenya :

    Dit is heerlik om hierdie brokkie geskiedenis uit die perd se bek te kry om by die res van die kroniek te heg (sal iemand tog boekhou van als en dit eendag vir ons aanmekaar heg). Hoogs vermaaklik ook.

  12. Daniel Hugo :

    Die vroeër werk van Adriaan van Dis waarna jy verwys, Breyten, is seker “Palmwyn”. Dit is deur Abraham H. de Vries in Afrikaans vertaal. Ek sal met Hannes van Zyl kontak maak en ook jou opstel gaan lees. Baie dankie!

  13. Breyten Breytenbach :

    Ja, dit is, Daniël. Dankie vir die regstelling. (Miskien was “Eiland” ‘n vroeër voorlopige titel toe die boek nog spesifiek oor Gorée en sy mense gegaan het; as ek reg onthou het Adriaan Van Dis met die herskrywe die eiland veel groter en meer generies gemaak.) Die opstel, wat maar taamlik hoogdrawend is (ek het weer gaan kyk) handel darem nie sodanig oor Van Dis nie, maar vertel wel van gesprekke wat ons gehad het rondom die onmoontlikheid om ‘Afrika’ onder woorde te bring.

  •