Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
16 August 2011

Daniel Hugo: Twee naskrifte by Voetskrif

Naskrif 1

‘n Boek wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is Breyten Breytenbach se digbundel Voetskrif van 1976. Ek was toe ‘n vierdejaarstudent in die letterkunde.

In daardie jare van baksteenrooibundels met slegs letterwerk op die omslag is hierdie laaste boek van Breyten, voordat hy vir sewe jaar in die gevangenis verdwyn het, pragtig deur Perskor uitgegee.

Op die oorheersende swart agtergrond is ‘n klein vierkantige selfportretjie van ‘n geblinddoekte Breyten in die onderste linkerhoek geplaas. Hy is met ‘n soort leisel verbind aan ‘n bulhond wat baie soos die destydse eerste minister John Vorster lyk. Die skilderytjie lyk nie verniet soos ‘n selvenster nie, want die gedigte in Voetskrif is geskryf terwyl die digter in voorarres was op ‘n aanklag van terroristiese bedrywighede.

Ek onthou hoedat die besonder toeganklike gedigte in die bundel my meegevoer en ontroer het. Van Breyten se mooiste liefdesverse vir sy vrou staan daar. Die volgende reëls is van die vernuftigste en sjarmanste in Afrikaans: “… jy is die hitte van my palms / jy is die pitte van my dadels die hittete van my daad / jy is die asem van my lippe”. Daar staan ook van sy mees onthutsende verse, soos die een oor die terdoodveroordeeldes “wat sing asof julle lewens daarvan afhang / en julle weet dat julle lewens gaan hang”.

In my vertroetelde eksemplaar van Voetskrif is daar ‘n hele klomp vergeelde koerantknipsels uit daardie tyd. Benewens die lowende resensies van André P. Brink, Abraham H. de Vries en F.I.J. van Rensburg is daar ook ‘n knipsel uit Rapport waarin berig word dat dr. Koot Vorster (die eerste minister se bulhondbroer) die bundel as “snert” afgemaak het, sonder dat hy dit gelees het. Hy het gesê dis ‘n tragedie dat, terwyl Suid-Afrika se seuns aan die grens sterf, Breyten Breytenbach in die gevangenis sit en skryf.

Dr. Koot het nogal ‘n gawe gehad vir dramatiese retoriek, soos blyk uit die volgende aanhaling: “Die ink is skaars droog, dan word dit deur die pers gejaag en terwyl die drukkersink nog nat is, word hierdie onsin deur groot letterkundiges as kuns uit die boonste rakke opgehemel.” En dan volg ‘n uitspraak waaroor ek persoonlik te na gekom gevoel het: “Die naarste van alles is dat ons seuns en meisies aan ons universiteite dié snert vir soetkoek opeet.”

Die tirade van hierdie godsman het my finaal teen die kerk laat draai. Van daardie dag af luister ek veel liewer na die intieme woorde van digters as na die gedeklameer van predikante.

 

(“Boekmerk” in Beeld, 15 Augustus 2011)

 

 

Naskrif 2

 

Diensplig: Pretoria

 

Werksdae ry ek vanaf Sunnyside

na Voortrekkerhoogte – verby

die Sentrale Gevangenis waar Breyten sit

en al hoe dolender gedigte skryf.

Op kantoor lees ek ‘n Seisoen in die Paradys.

En die gevleuelde verse van Voetskrif,

verplig opgedra aan Kolonel Broodryk

en glo erg vermink deur tronksensuur

(so sê André Brink, so sê Ampie Coetzee).

 

Sewe jaar later het ek Breyten gevra

– by ‘n boekebeurs in Antwerpen –

Wat hy uit die manuskrip moes skrap:

“Net één kriptiese, klein gedig –

‘n selmuur-eggo: Help: Help!

Die owerhede het destyds gedink

dit is ‘n gekodeerde boodskap.”

 

In 1977 was ek buite en hy binne,

maar met offisiersuniform en al

was ek ‘n gevangene van die staat nes hy.

Ook my kreet moes sonder weerklank bly.

 

(uit Skeurkalender, Tafelberg, 1998)

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies
  • Carla Botha. Lesse in Wêreldreise
  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum

Nuutste bydraes

  • Carina van der Walt. nuwe perspektiewe na verhuising
  • Ilse van Staden. Die Dans
  • Miel Vanstreels. Opvoeding
  • Johann Lodewyk Marais. Inflasie
  • Daniel Hugo. Die domein van die rym

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Joan Hambidge. Sheila Cussons en die verwikkelde lyn17 August 2026

    Marlies Taljard: Johann se Lange het destyds in "Kaapse Paragrawe" soms oor Sheila Cussons geskryf. Sien byvoorbeeld dié onderhoud wat…

  2. Andries Fourie on Andries Fourie. Soos die val van ‘n veer16 August 2026

    Baie dankie Anne-Marie!

  3. Joan Hambidge on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges11 August 2026

    Dank. Albei is wonderbaarlike digters. Ek lees nou weer die hele Cussons en hoe sy Neruda en Borges vir ons…

  4. Mirinda on Krige Visser. lykskou10 August 2026

    Iets wat mens nooit sal vergeet nie....veral wanneer so jonk en sensitief...en die reuke sal mens altyd bybly...

  5. Eugene Vorster on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Borges10 August 2026

    Beste Professor Hambidge, baie dankie vir hierdie boeiende artikel. Dit inspireer ‘n mens om verder oor Borges & Cussons te…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d