Lank gelede, ek dink nog op skool, het ek kennis gemaak met die storie van die gruwelike vretende fascistiese pampoen, gekoop vir die man in die verhaal se “verjaardag die sestiende september”. Ek het maar min verstaan en sentimenteel ontsteld geraak oor die dogtertjielose skoene wat oorgebly het na die pampoen se vraatsugtige ekskursie. Tog het die datum het in my herinnering geroer toe ek later meer poësie begin lees het (maar steeds omtrent niks van Breytenbach se werk verstaan het nie). Iewers langs die pad het die sestiende September letterkundig gesproke wel ’n datum op die kalender geraak, en was jy bly om in die nuutste bundel weer ’n gedig vir die dag te vind (“berig, 16 September 2008. New York”). Sedert my dogtertjie tien jaar gelede op hierdie dag gebore is, het dit een van die dae geraak wat ek elke jaar in my kopkalender bêre. Die ander datum wat ek altyd onthou, heel neuroties, is GRA-dag, die 14de Augustus. Miskien vanweë al die sieldodende feeste en volkspeles wat ek in Ou Suid-Afrika op hierdie dag moes meemaak. Maar 16 September het ’n soort persoonlike en literêre wag-’n-bietjie-bos geraak. Miskien eerder ’n haak-en-steek-bos, gedagtig aan die kinderpartytjies wat ek al op hierdie dag moes optower.
Die sestiende September is ’n datum wat deur Breytenbach in die Afrikaanse poësie ingeskryf is, en ek kan my nie indink dat ’n blog op sy verjaarsdag oor iets ánders as sy werk kan handel nie. Daar is natuurlik al geweldig baie (en knap) geskryf oor Breytenbach se ryk en komplekse oeuvre, sodat ’n mens jouself wil herinner om versigtig te trap wanneer jy ook al daaroor probeer skryf. Eerder as om te veel te wil teoretiseer, wil ek eerder twee gedigte deel wat in die laaste paar maande baie tot my begrip en ervaring van ons daaglikse hierwees toegevoeg het. Eintlik wil ek sê: Dit is die soort gedigte wat verjaarsdaggedigte behoort te wees, wat jy in watter vorm ook al by die digter wil leen en aan jou en joune wil hang.
Dit is naamlik die gedigte “die guns” en “die hart-stér”, albei uit Die beginsel van stof. Beide hierdie gedigte is ’n viering van lewe en alles wat dit impliseer: taal, bewussyn, emosie, kreatiwiteit, die skoonheid van die planeet en van fisieke lewe.
die guns
O Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom –
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma …
Maak hulle wakker sodat hulle nog net één keer
mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik
Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok –
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien – nee voel
hoe bloos ons aarde soos ’n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek
Moenie snoep wees nie, o Here – gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ’n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.
Die hart-stér
(vir Caro)
“uiterste helderheid is ’n misterie” – MagmoedDarwiesj
die wolke sal bly
tussen water en wind
om die lig te bou
in tuimelende binding
en ontbinding van herinnerde drome
agter die berg
onthou ’n maan
die klank van donkerte
die klip se gesig
ingeskerp in kwartiere van sien
is ons die vel van die aarde
wat met die jare sal plooi
tot verborge patrone van liefde?
is ons die vlam om die fees
van verloorders te vier?
wie sal met ons praat
van die huweliksoptog
ingeskeep in die gedig?
wie sal ons vertel
van die vlees se vokale?
kyk, in jou hand
bewe verbeelding se lettergrepe nog
soos die lewe van vlindervlerke –
wie sing ooit die wegvlieglied
en wie ken die vreemdeling se land?
kyk weer die blou planeet
se nagmusiek uitgemeet
in die uitspansel van jou hand:
daar is geen liefde
wat nie weerklank is nie
en verder as geheue
in die weggange van ewige
beweging gevou
rook die hart
so stil soos ’n oog
die wolke sal bly
en verder as geheue
in die ewigheid van drome
brand die hart soet en seer
want heerlik, heerlik, heerlik
is die lewe!
Wat kan ’n mens hierby voeg, wonder ek? Want hier herinner die digter ons soos net hy kan aan die menigvuldige wondere om ons en ín ons. Kortstondig weliswaar, maar daarom des te meer kosbaar. Kom ons gedenk die hier.
