Op 14 Februarie 2011 het ek met groot stelligheid hier aangekondig dat ek op pad São Paulo toe is. Daardie uitstappie moes tot my groot teleurstelling uitgestel word, maar nou is dit weer sulke tyd. As alles volgens plan verloop, vertrek ek oor twee weke. Ongelukkig net vir 8 dae, maar ek sal darem seker iets van die pols van die Suide se grootste stad kan voel!

Ek sal tydens my besoek ‘n gas wees van die Fakulteit Sielkunde aan die Universiteit van São Paulo, en benewens gesprekke oor die skep van moontlike navorsingsnetwerke en uitruilprogramme, sal ek ook ‘n paar lesings aanbied oor die historiese verstrengeling van sielkunde, mag en politiek in Suid-Afrika, oor ras en rassisme (die Brasiliaanse nasionale storie verskil, wat die idee van ras betref, op interessante maniere van ons eie), en oor alternatiewe, “Suidelike” benaderings tot die sielkunde hier by ons. Wat die eerste onderwerp betref, het ek hierdie wonderlike aanhaling uit Breyten Breytenbach se The True Confessions of an Albino Terrorist (1984) om die gesprek ordentlik in te lei (ek moet die bloginskrywing darem probeer terugdwing tot digters en die digkuns…):
“He had me go through the gamut of outdated tests, the Rorschach blots and blobs, squiggles and various I.Q. examinations. Naturally I was never informed about any of his deductions. I was the guinea pig. These perverted practitioners of the spurious science of psychology do not have as their first priority to help the prisoner who may be in need of it. They are the lackeys of the system. Their task very clearly is to be the psychological component of the general strategy of unbalancing and disorienting the political prisoner.” (bl. 90)

Etlike van die kollegas wat ek daar besoek is betrokke by verskillende gemeenskapsprojekte en ander maatskaplike en politieke inisiatiewe. Ek hoop om iets hiervan te sien. En ek hoop natuurlik om tyd te kry om op my eie rond te loop, kunsgalerye te besoek en goed te eet. En musiek! Benewens allerlei nuwe klanke wat strek van salsa tot rock is die São Paulo Simfonieorkes ook nie te versmaai nie; miskien speel hulle een aand iets wat die moeite werd is om na te gaan luister. Dalk Villa-Lobos.
Enige ander Brasiliaanse voorstelle of aanbevelings vir my?