Louis Esterhuizen. Opdragverse in ruil vir drank
Dat die band tussen digter en drank soms meer as (amperse) alliterasie behels, is ‘n algemeen bekende feit. Nou wil dit luidens ‘n berig op ‘n Kanadese webtuiste egter voorkom asof ‘n bekroonde digter van Ottawa, ene Shane Rhodes, dié natuurlike alliansie tot ‘n winsgewende een probeer omskakel deur vervaardigers van drank te nader met die voorstel dat hy hul en hul produkte by sy gedigte sal “inskryf” in ruil vir ‘n bottel of twee.
So het hy die gedig “Cocktails: In the beginning” opgedra aan Victoria Spirits Gin nadat Valirie Murray, een van die maatskappy se eienaars entoesiasties op Rhodes se voorstel reageer het: “I thought it was fun,” het sy glo gesê. “And I thought this is what people have to do to survive in the arts.” En dit is nie eens die enigste sukses tot dusver nie; ander maatskappye wat hom tans borg, is die Steam Whistle Brewery (Toronto), Beau’s Brewery (Vankleek Hill, Ont.) en Rhodes se gunsteling drinkplek in Ottawa: The Manx.
Maar, helaas, nie alle vervaardigers was beïndruk met Rhodes se pogings nie. So het die wynprodusent wat in die gedig “Imaginary Spirits: Chateau du Mauvais Chien 2004” benoem is, die vers (en gepaardgaande reklame) van die hand gewys; klaarblyklik omrede hulle, volgens Rhodes, nie die humor daarvan kon waardeer nie.
Op die vraag of hy onder die invloed skryf, het Rhodes glo net gelag en gesê: “I try not to write under the influence as it usually ends up in disaster. I take quite a sober approach to poems about booze.”
Ongelukkig kon ek geen van Shane Rhodes se gedigte op die internet vind nie; iets wat my toe daartoe gedryf het om ‘n beleë en volronde versnit van die rak te haal: Daniel Hugo en Etienne van Heerden se bloemlesing, Miskien sal ek die wingers prys – Ryme en gedigte oor wyn en sterk drank, wat reeds in 1989 by Tafelberg verskyn het.
Daarin vind jy plesierige sopies soos die volgende R.K. Belcher-kwatryn:
Die bottel is gebore
sonder kop en ore
maar sy nek en sy bek
sit op die regte plek
Ek moet egter erken dat my gunsteling wyngedig – en een wat nié in genoemde bloemlesing opgeneem is nie – die volgende vers van ons geliefde webmeester is uit haar bundel Domus (1973: Tafelberg):
Omdat daar wyn is
Vanaand het ek lief
omdat daar wyn is om te drink
en iewers die warm verwagting
van wolke broei
omdat daar mense is met oë
en lewe en bloed
soos blomme en voëls
en omdat daar geheime toppe
van nagte is
Op my tong
is die kelkie skemer rooi
en soet
my heupe is viool
die reën spat
en reën saadkorrels
deur die ruit
© Marlise Joubert