Andries Bezuidenhout. Die ligtende trein


Vat nou die dag die metrotrein van Pretoria se Herbert Baker stasiegebou af Johannesburg toe om na ʼn rock konsert by Soccer City te gaan kyk. Sien langs die pad dele van Johannesburg wat jy nooit van die pad af sien nie, soos byvoorbeeld Belgravia, waar my oupa in ʼn mynhuis gebore is, nie ver van die treinspoor af nie. Baie van die huise is vervalle en die agterplase staan vol sinkplaat shacks. Ry verby ʼn stasie, waar ou treinwaens geparkeer staan om te roes. Mynhope. Die ou munisipale mark – nou net massiewe ʼn afdak. Verstomde gesigte van Alrode en Wadeville se werkers op Germinton se perronne – soveel wit gesigte in ʼn metrotrein!

Kom in Johannesburg aan. 70 000 mense in ʼn stadion – en dit vir musiek, nogal. Indrukwekkend. Die Suid-Afrikaanse support act is vir my effe beter as die hoofvertoning, al is die vuurwerke met laasgenoemde nogal iets om te aanskou. Dit voel soms bietjie soos die dienste van Amerikaanse televangeliste. Almal glo, hoekom nie ook jý nie?

Klim na die vertoning weer op die trein. Dis nou donker buite. In van die shacks brand kerse, paraffienlampe, soms elektriese lig. Ek dink aan die vuurwerke. Ek het nog altyd gewonder oor die “ligtende trein” in daai gedig van Totius:

In die eensame veld
staan ‘n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring
skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie,
deur die oop gordyn,
‘n tafel met bordjies
en glasies fyn,
wat sag in die lig
van die kersie skyn,
en ek dag: “Was ek net
in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn.”

Naas die eensame tent
staan ‘n meisie klein,
in stomme bewond’ring
van die ligtende trein;
sy sien my geniet
my glansende wyn
en kost’like maal
by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte
van die meisie klein:
“Ag, was ek maar net
in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn”.

Ek maak ʼn skildery klaar (in die foto heel bo) waarmee ek nou al vir ʼn tyd lank worstel. Dis van ʼn metrostasie se uitgang in Kopenhagen – by Nørreport. Die naam verwys na die noordelike hek van die ou stad. Groot doek. Moeilike onderwerp, omdat dit met lig en skaduwee werk. Lig is die moeilikste om met verf te meng. Suiwer wit is nie die beste kleur vir lig nie. En donker werk ook nie die beste met swart nie. Jy moet jou witte en jou swarte effe vervuil, uitdun, mee peuter. Dis die kontras wat dit laat uitwerk.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •