Marlies Taljard: Jung en die Anfortas-wond

 

Anfortas, Graalskoning

Anfortas, Graalskoning

Die sielkundige Carl Jung verwys in sy werk by herhaling na ‘n kondisie wat hy die Anfortas-wond noem, maar verduidelik dié term slegs eenmaal in een van sy moeilikste werke, naamlik Psycological Types. Baie eenvoudig gestel verwys dié term na ‘n inherente gespletenheid in die mens se psige – Jung noem dit die gekultiveerde en die barbaarse fasette van die mens. Dit is vandag natuurlik ondenkbaar dat ‘n mens sulke terme kan gebruik wanneer na die menslike psige verwys word. Waarop dit dus neerkom, is dat Jung aanvoer dat verwonding ‘n integrale deel van die menslike kondisie is, as gevolg van ‘n bepaalde dualisme wat eweneens deel van die mens se psigiese samestelling uitmaak. Die mens se gedurige strewe na heelwording, harmonie, integrasie – noem dit wat jy wil – verteenwoordig dan die wond wat nooit genees nie, die wond wat die mistieke Graalkoning, Anfortas, eeue lank laat ly alvorens hy deur die empatie van Parzival uit sy lyding verlos word (soos ek in ‘n vorige blog aangetoon het).

Hierdie behoefte van die mens tot sogenaamde “eenwording” impliseer dan ‘n ideale toestand van heelheid. (Ek lees op die oomblik DJ Winterbach se Die Begunstigde waarin die hele kwessie van gespletenheid en heelheid ‘n belangrike tema van die roman is). Strewe na eenwording is natuurlik die basiese gegewe van alle mistieke soeke. Mistieke eenwording met die Oerbron behels allereers ‘n aflegging van die ego en kennis van die “ware self”. Die “ware self” is inderdaad die siel van die mens, en wanneer ‘n mens kennis bekom van homself (sy siel), bekom hy terselfdertyd kennis van God, van wie die siel ‘n afsplintering is. Die ego met sy menslike strewes is egter die konstante belemmerende faktor wat eenwording teenwerk, want die ego streef na uniekheid, terwyl die siel streef om een te word met die Bron – dus integrasie. Die ego is dié faset van die mens wat hom gedurig daartoe lei om op aardse genietinge te konsentreer en na aardse doelwitte te strewe. Sodoende kan dit maklik gebeur dat ‘n mens in sy lewe eensydig op die verkryging van bepaalde dinge fokus wat vir die individu belangrik is.

 

Die verhaal wat vertel hoe Anfortas sy wond opgedoen het, word breedvoerig in Wolfram se Parzival uiteengesit en beskik ook oor duidelike mitiese trekke. Anfortas se strewe na mag bring hom in stryd met Klingsor, ‘n magshonger towenaar en verpersoonliking van boosheid. Sy seksuele begeerte na Kundri verhoed hom om behoorlik te konsentreer in die stryd teen Klingsor. Laasgenoemde kon toe Anfortas se swaard steel en hom daarmee in die lendene verwond.

In Psychological Types verkry die Amfortas-wond mitiese (en dus universele) betekenis wanneer Jung wys op die tendens tot dissosiasie en fragmentasie wat ‘n kenmerk van alle mense is. In paragraaf 105 skryf hy: The breakdown of the harmonious cooperation of psychic forces in instinctive life is like an ever open and never healing wound, a veritable Amfortas’ wound, because the differentiation of one function among several inevitably leads to the hypertrophy of the one and the neglect and atrophy of the others. Waarskynlik bedoel hy hiermee dat ons geneig is om op ons omstandighede te reageer deur middel van hoofsaaklik een aspek van die psige en dat ons sodoende die ander aspekte verwaarloos en as’t ware laat “afsterf”. Die wond-simbool verteenwoordig in Jung se werk ‘n soort dodelike rigiditeit of verbetenheid wat geen moontlikheid laat vir buigsaamheid en dus volledige genot van die oorvloed van dit wat vir die mens in die skepping beskore sou kon wees nie. Dink ‘n mens nou aan tallose verhale, byvoorbeeld die Odusseia, die Illias, Tristan en Isolde of welke groot verhaal ookal, is dit duidelik dat verwondingsverhale meestal volgens ‘n argetipiese verhaalpatroon gestruktureer is wat te alle tye en op alle plekke die menslike kondisie uitbeeld en die mens vandag steeds aangryp.

In sy bekende werk Einfache Formen tipeer André Jolles die mite as ‘n antwoord op ‘n versoek aan die skepping om homself te openbaar. Die antwoord (die mite) is altyd ‘n onomstootlike waarheid – ‘n waarheid waarin die skepping een of ander aspek van homself openbaar of verklaar. Belangrik is dat tyd geen rol in die mite speel nie – die mite is waar vir alle tye. Ook Lévi-Strauss lê klem op die temporele struktuur van die mite. Hy wys daarop dat mitiese gebeurtenisse uit die verlede slegs mitiese relevansie geniet indien hulle ‘n durende struktuur vertoon, ‘n struktuur waarin verlede, hede en toekoms een groot, aaneenlopende geheel vorm.

Wat baie interessant is, is dat Jung klem lê op die feit dat magsug en klem op seksualiteit nie in eerste instansie verantwoordelik is vir die Anfortas-wond nie, maar slegs die motoriese moment vir die val van Anfortas verskaf. Volgens Jung het verwonding te make met die mens se houding. Hier praat hy egter nie van die houdings van individuele mense nie, maar van ‘n houding wat in die kollektiewe onbewuste lê en waartoe die mens toegang het deur die primordiale beelde (argetipes) van die onbewuste – dus ‘n aangebore, algemeen-menslike houding. Slegs dié mense wat oor die spirituele krag en die selfkennis beskik om te reflekteer oor die aard en die oorsake van hulle kondisie, kan suksesvol met hierdie simbole omgaan (en dus tot “versoening” kom met die inherente wond wat die mens blykbaar as deel van sy menslikheid geërf het).

En nou lê dit mos in die aard van die digkuns om juis hieroor te besin. In hierdie sin sou ‘n mens inderdaad kon beweer dat die digter, wat besinnend oor die menslike kondisie skryf, by uitnemendheid in staat is om iets van die gebrokenheid van die mensdom te heel. Maar dan slégs indien die digter toegang het tot die sterk simbole of argetipes wat in staat is om tot die menslike psige te spreek. Waar kry die digter dié simbole en hoe verkry hy toegang tot die kollektiewe psige van sy lesers? Ek dink die antwoord lê beslis in belesenheid en oopheid – Antjie Krog skryf van “… geopend leef / met volledig toegang tot jou naaste self”. Dit is vir my veral jammer dat baie min jongmense vandag nog Europese tale ken, soos Duits en Frans, laat staan nog maar Middelhoogduits of selfs Latyn of Grieks … Tog is daar baie goeie tekste in Engels beskikbaar waarin die digter kontak kan maak met kragtige simbole. Ek praat van tekste soos die Bybel, die Tao te Ching, die Bhagavad Gita, die Egiptiese en Tibetaanse Dodeboeke, die Weg van die Boeddha, die Illias, die Odusseia, Grimm se (oorspronklike) sprokies, ou tekste soos Parzival en Tristan & Isolde, Shakespeare, Goethe se Faust, Schiller … daar is te veel om op te noem.

Nietemin, Jung se aanvoeling dat die refleksiewe mens in staat is om heelwording te bewerkstellig, raak aan die kern van die mistieke. Ook volgens mistieke teorieë is verwonding ‘n algemene metafoor van die menslike kondisie, deurdat klem op aspekte van die ego heelwording of integrasie verhoed en ‘n wanbalans in die mens teweeg bring. Veral in Wagner se weergawe van die Parzival-verhaal, word daar klem gelê op die “suiwer dwaas” wat alleen in staat is om die Anfortas-wond te heel. Die “suiwer dwaas” is dié mens wat op grond van sy opregte deernis na sy medemens uitreik – dit is Parzival wat (uiteindelik) die reddende vraag vra: “Wat makeer, Oom?” Vandaar Wagner se refrein: Durch Mitleid wissend, der reine Thor (“Wysheid wat deur empatie bekom is, die suiwer dwaas”). Die mistieke betekenis hiervan is dat die siel die lewe van die mens moet beheer alvorens hy kan “heel” word – terwyl die intellek in beheer is, word die siel onderdruk. Omdat liefde (in sy mees omvattende vorm) die essensie van die siel is, kan die mens eers tot redding kom wanneer hy sy siel in beheer plaas. Die siel ken geen verskil tussen die self en die Ander nie, en daarom sal sy met deernis en empatie reageer op die pyn van die Ander, omdat sy dit as pyn aan haarself ervaar.

Parzival, die Reine Dwaas

Parzival, die Reine Dwaas

 

Hierdie faset van die Parzival-verhaal word deur Wagner se opera egter nie naastenby so kompleks uitgebeeld as in die gedig van Wolfram nie. In dié gedig beslaan die gedeelte tussen Parzival se eerste en sy tweede ontmoeting met Anfortas ongeveer een derde van die gedig (in my weergawe ongeveer 80 bladsye). Parzival is wel aanvanklik ‘n dwaas, omdat hy oor geen sosiale vaardighede beskik nie. Hoewel hy die eerste keer wanneer hy Anfortas sien, wel diep medelye met die beseerde man het, waag hy dit nie om te vra wat makeer nie, omdat nuuskierigheid indruis teen die ridderlike etiek wat hy pas vantevore aangeleer het. Na sy verbanning uit die Graalsburg kom hy egter te wete dat hy direk verantwoordelik is vir sy ma se dood. Hy verkry ook kennis en wysheid deur die leringe van onder andere ‘n mistieke kluisenaar wat hom tot dieper insig van die menslike kondisie bring. Omdat hy self nou verskeie kere liggaamlik en geestelik verwond is en swaar dra aan die skuldlas van sy ma se dood, kan hy, as mede-verwonde mens, empaties op die pyn van Anfortas reageer – teen dié tyd is Parzival egter nie meer ‘n jong man nie en beslis geen dwaas meer nie. Die woord “dwaas” word deur Wagner dus nie in sy letterlike betekenis gebruik nie, maar in die konteks van iemand wat vanuit sy diepste menswees, vanuit sy ingebore integriteit, reageer.

 

Samevattend sou ‘n mens – in ‘n bepaalde lesing van die Parzival-verhaal – tot die slotsom kon kom dat Klingsor, Kundri en Parzival afsplinteringe is van Anfortas se psige wat inherent verskeur en soekend is. Dit is duidelik dat hier ‘n sterk mistieke element teenwoordig is, naamlik dat die siel (Parzival) die vermoë het om die wêreldse begeertes (magsug en wellus) in bedwang te hou en te onderdruk en om die psige te help om weer “heel te word soos aan die begin”.     

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •