Marlies Taljard: Maan, onder, alleen, skink wyn …

Maan en water

Maan en water

 

Die maan is een van die bekendste poëtiese simbole en kom ook in die Afrikaanse poësie dikwels voor. Wie van ons het nog nooit gelees van minnaars wat mekaar in die maanskyn omhels nie, en wie ken nie I.D. du Plessis se bekende gedig Rietfontein waarin die weerkaatsing van die maan op water die sentrale motief vorm nie: “Wit is die water / en blond is die maan …”

In die Oosterse poësie is die maan ‘n diep mistieke simbool met baie ambivalente betekenisse. Ons vind iets daarvan terug in (onder andere) die poësie van Breyten Breytenbach, oor wie ek in my volgende blog wil skryf. Vandag se blog wil ek egter wy aan ‘n bekende Chinese gedig uit die Tang dinastie (agtste eeu). Die titel word algemeen vertaal as Drinking Alone by Moonlight, maar kan ook letterlik honderde ander interpretasies hê. Die gedig is deur die Tao-digter Li Bai (701 – 762) geskryf.

Omdat die Engelse taal nie naastenby so lenig en subtiel is soos Chinees nie, is dit bykans onmoontlik om Chinese gedigte in Engels te vertaal. Ook is die geweldige verskille tussen die twee tale meestal ‘n groot belemmering wanneer vertalings wel aangedurf word. Vanweë die geweldige diepte van Chinese poësie – soos ook poësie uit alle ander Oosterse tale – is dit onmoontlik om in ‘n vertaling die hele trefwydte (of ook maar net ‘n fraksie daarvan!) in die vertaalde produk vas te vang. Chinese gedigte het meestal ‘n sterk spirituele of filosofiese dimensie met simboliek wat spesifiek op dié aspekte van die gedig inwerk om dit meerduidig te maak. Vir Westerse mense is dit reeds om dié rede baie moeilik om die gedigte te verstaan, omdat ons nie die kompleksiteit van die Chinese kultuur en taal verstaan nie. Hierdie hindernisse verhoed ons egter nie om die poësie te geniet nie: die vervreemdingseffek daarvan maak dit juis vir ons as Westerlinge aantreklik. Die skoonheid van vertaalde gedigte is vir ons meestal geleë in die vrye interpretasie wat daaraan geheg kan word, ‘n vryheid wat die leser byna onbeperkte interpretasiemoontlikhede toelaat, soos gesien kan word uit die vertaling wat ek hier onder afdruk. In dié opsig werk vertaalde Chinese gedigte dus so ‘n bietjie soos die postmodernisme, waarvan ons dikwels lees dat “alles kan”.

Wanneer ‘n mens ‘n vertaling lees, soos dié van Drinking alone by moonlight, moet ‘n mens in gedagte hou dat Chinees ‘n baie antieke taal is, deurdrenk met rituele en spirituele betekenis waar ‘n enkele eensillabige woord etlike verskillende betekenisse kan hê. Hoewel gedigte dikwels eenvoudig en selfs naïef mag lyk, is dit meestal bedrieglik en lê daar onder die eenvoudige oppervlak ‘n ryke betekenis en simboliek verskuil vir lesers wat oor die nodige interpretasievaardighede beskik. ‘n Meesterdigter kan die hele kosmos in ‘n paar lettergrepe opsom!

Diegene wat die Tao te Ching ken, behoort te weet dat Tao-poësie gekenmerk word deur eenvoud en ‘n nie-kritiese ingesteldheid. (Lees veral die sublieme vertaling van Gia-Fu Feng en Jane English!) Die Taoïs beoefen geduld met en liefde vir alle lewe, omdat die kosmos een is en hy slegs ‘n enkele faset daarvan. Theo. Wassenaar se See-sonnet stel min of meer dieselfde tema: “Die skepping het ook my sy doel gegewe: / Een polsslag in die groot heelal.” Li Bai se werk vertoon sterk ooreenkoms met die Tao te Ching en word eweneens gekenmerk deur uiters simplistiese taal en struktuur en ‘n naïewe aanvaarding van die kosmos soos dit is. Die Taoïs begeer niks en poog slegs om deel te word van die groot ritme en harmonie van alle dinge sodat die skepping nie deur hom en sy begeertes versteur word nie. Dit is ‘n filosofie van “laat-gaan” en “laat-wees” in ‘n wêreld wat sonder voorbehoud perfek is soos dit op enige gegewe oomblik is. Selfs Chinese lesers beskou Tao-poësie as besonder diep en moeilik peilbaar.

Die onderstande is ‘n “vertaling” van Li Bai se Drinking Alone by Moonlight – meer ‘n vertaling van die woorde en/of begrippe soos dit in die gedig voorkom. Soos reeds gesê, kan die meeste van dié woorde/begrippe egter ook, soos die kwashaal breed of smal lê of soos die klem verskuif of bloot vanweë die sintaksis van die woord of sin, baie ander verskillende betekenisse ook hê:

Yuè Xià Dú Zhuó     (moon, under, alone, pour wine)

Huā jiā yī hú jiŭ     (blossom, among, one, pot, wine)

Dú zhuó wú xiāng qīn     (alone, pour wine, without, one another, intimate)

Jŭ bēi yāo míng yuè     (to lift, cup, invite, bright, moon)

Duì yĭng chìng sān rén     (couple, shadow, complete, three, people)

Yuè jì bù jiĕ yĭn     (moon, since, not understand, drink)

Yĭng tú suí wŏ shēn    (shadow, disciple, follow, my body)

 Zàn bàn yuì jiāng yĭng     (temporary, companion, moon, shadow)

Xíng lè xū jí chūn     (to go, cheer, must, to reach, spring/joy)

Wŏ gē yuè pái huí     (I, song, moon, irresolute, wander)

Wŏ wŭ yĭng líng luàn     (I, to dance, shadow, remnant, in confusion)

Xĭng shí tóng jiāo huān     (to be awake, accompanying, to make friends, joyous)

Zuì hòu gè fēn săn     (intoxicate/finally, each, divided, scattered)

Yŏng jiē wú qíng yóu     (forever, to bind, not, merciless, to travel/roaming)

Xiāng qī miăo yún hàn  (heavenly river/Milky Way, profound/remote, cloud)

Deur net die ongeïnterpreteerde vertaling hierbo te lees, sal elke leser die gedig basies (in sy/haar gedagtes) herskryf volgens ‘n persoonlike interpretasie van die taaltekens. So word die leser dus tegelyk die verbruiker én die skrywer van sy/haar eie teks – die leser word die eienaar van die teks. ‘n Mens sou die blote lees van die grammatikaal versteurde teks wat – soos dit letterlik daar staan – geen logiese en gestruktureerde betekenis het nie, selfs as ‘n soort Tao-terapie kon beskou, deurdat die leser daarvan afsien om betekenis op die teks af te druk of selfs af te forseer. Dit is dus inderdaad ‘n oefening in “laat-staan”, “laat-gaan” en “laat-wees”! Dit kan besonder bevrydend wees om jouself toe te laat om die gedig net te absorbeer, om as bo-sintaktiese konsep jou gedagtes te suiwer en jou van vooropgestelde idees oor wat betekenis is, te suiwer. So ‘n oefening kan ‘n stress-ontladingskuur wees in ‘n omgewing waarin ons selfs in ons slaap soms worstel met gedagtes en met sin-gewing aan die baie invloede wat van buite op ons inwerk. Sit alleen en laat die gedig toe om jou binne te vloei sonder om te vra wat dit beteken – laat dit net wees en sit ‘n paar minute in stilte saam met die gedig – en dit sal tot jou spreek! In Indië is daar ‘n spreekwoord wat sê die gedagtes is soos ape in ‘n boom wat gedurig van een tak na die ander spring. Om jou gedagtes te suiwer van ape, is die eerste stap na bevryding van die siel. Poësie is ook in die Ooste ‘n manier om die gedagtes tot stilstand te bring en spanning te ontlaai – ons behoort hier meer op daardie funksie van poësie te fokus!

Dalk kry jy die algemene idee van ‘n laatmiddag in die lente onder ‘n perskeboom vol in die blom, die gevoel van die porseleinkoppie in jou hand en later die skink van ryswyn ter verkwikking onder ‘n volmaan …

‘n Laaste interessante opmerking: Ezra Pound se karakter Rihaku, die “wandering poet” is gebaseer op ‘n karakter wat Li Bai geskep het, die reisende digter wat nooit sonder sy wynfles aan sy gordel gesien is nie. Op ‘n dag, terwyl hy te veel ryswyn gedrink het, het hy verdrink toe hy probeer het om die maan se weerkaatsing in die rivier met sy drinkbeker op te skep. So kan die gedig dus heel anders geïnterpreteer word as die effek van maanlig en water op die drinker. ‘n Simboliese verklaring van die letterlike gebeure betrek die bekende yin-yang-konsep waarin die lig van die maan die yang-aspek en die skaduwee die yin-aspek verteenwoordig. So dien die menslike karakter as dinamiese balans tussen die twee teenoorgestelde kragte. Volgens die Tao-filosofie moet alle kragte in die kosmos uitbalanseer om ‘n uiteindelike harmonie tot stand te bring. Volgens hierdie interpretasie is daar dus nie ‘n letterlike maan, ‘n persoon of ‘n skadu nie, en staan hierdie simbole vir die teenstellende aspekte van die mens wat versoening vind wanneer water, rivier en mens een word en ophou om as individuele entiteite te bestaan in die oneindige wysheid en volmaaktheid van die kosmos.

Ook hierdie spekulasies lei tot onrus van gedagte: laat die gedig dus bloot wees wat dit is, aanvaar dit sonder oordeel; dit is nooit bedoel om op die vlak van die intellek verstaan te word nie – per slot van sake was die digter ‘n Taoïs!

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Marlies Taljard: Maan, onder, alleen, skink wyn …”

  1. Carina van der Walt :

    Pragtige artikel , Marlies. Dankie daarvoor – veral vir “laat die gedig bloot wees wat dit is, aanvaar dit sonder oordeel”. Dis ‘n heerlike on-akademiese houding. Het jy al die Suid-Koeraanse flim “Poetry” gesien? ‘n Deel van die bekoring is definitief die veerlige tjirpklanke van Koreaans. Die laaste poësiefilm wat dieselfde tipe indruk jare gelede op my gemaak het was “Dead Poet Society”.

  2. Marlies Taljard :

    Liewe liewe Carina! So uit die verte skryf jy vir my – dankie vir jou kommentaar. Ja, in die akademie ly ons almal aan gesplete persoonlikheid: enersyds die kritiek en die interpretasie en andersyds die wéét van: “laat staan! Vingers verbrand!!” Ek het “Poetry” gesien en dit baie geniet. Jy is reg oor die ooreenkoms met “Dead Poet Society”, ook ‘n baie, baie besondere fliek gewees!! Leef knus daar in die koue – hier smelt ons van hitte! Baie groete!!

  3. Carina van der Walt :

    Liewe Marlies, JA-A ek lees partykeer heeeel aandagtig wat jy hier op versindaba skryf, soos jou bydrae oor die Rooshoek-kerkie seker nou al meer as ‘n jaar gelede? Gaan dit goed? As ek my nie misgis nie is jy besig met jou doktoraal – iets oor Antjie Krog? Hierdie kant van die wêreld het ek die studies verruil vir voltyds skryf, maar dis nie ‘n mak perd nie. Net wanneer ek dink ek sit redelik stewig in die saal, word ek uit ‘n onverwagse hoek van balans af gegooi en maak ek kliphard met moeder aarde kennis. Dit hou my verseker nederig! Ek hoor graag weer van jou. Carina

  4. Marlies Taljard :

    So bly om te hoor daar’s iemand daar ver wat diékantse woorde lees … en is die Rooshoek kerkie nie ‘n lafenis vir die gees nie! Ek en Frans van Rensburg kuier Sondags soms voor die kerk met wyn en koek. Jou skryfsels op hierdie blog ontgaan my ook nie, maar wanneer kry ons iets Groots te siene van jou? Moenie moed verloor en die spoed laat breek nie!! Onthou maar: grondlangs bly ons nederig en gooi ons die ego se las af …

  •