Amanda Lourens. Allermins MasterChef

Vanoggend moes ek heelwat uitdrukwerk doen, en terwyl my ink jet-modelletjie deur die bladsye knor en hik, kyk ek deur die rak met my digbundels.  Met  Johann de Lange se nuwe bundel op die rak (wat ek tot my absolute skande nog nie gekoop of gelees het nie – laat ek my eerstejaarskursus maar die skuld gee), kyk ek weer na Snel grys fantoom van 1986.  Die bundel is dun en onpretensieus, maar lyk ’n skakering of twee geler as wat ek hom onthou.  Daarmee saam die skandalige besef – ek het waarskynlik meer as twintig jaar gelede na hierdie bundel gekyk. 

 

Deesdae val dit my nogal op dat boeke en bundels wat ek soos gister onthou, skielik so deksels oud lyk wanneer ek nou weer daarna kyk.  Seker maar die beloop van die lewe.  En tog, toe ek deur die bundel blaai en die gedigte herlees, weet ek seker: groot en goeie poësie het nie ’n vervaldatum nie.  Daar is geen, maar geen plaasvervanger vir vakmanskap nie.

 

Ek deel graag een van die gedigte wat my twintigjarige self bekoor het met woorde wat ek waarskynlik nie toe heeltemal begryp het nie.  Die laaste twee reëls, helaas, het ek iewers in die loop van meer as twintig jaar vergeet.  Maar ek onthou met sekerheid  dat ek destyds gedink het daar kan nie iets mooiers in taal kan bestaan as juis daardie twee reëls nie, al was dit met die arrogansie van ’n jongeling wat glo jeug kom nooit tot ’n einde nie.  Maar ek herbevestig vandag.  En ek het nie gereedskap om dit mee te analiseer nie – die woorde is bloot te groot en te goed daarvoor. 

 

Johann, ek sal jou nuwe bundel lees en jou bly respekteer vir die onvermoeide aandag aan elke sillabe, elke woord, elke beeld. 

 

As nagedagte: Ek raak sommer opnuut geïrriteerd met “digters” wat geykte gemeenplasies uitryg en dink dit kan poësie wees en hulle maaksels boonop vol selfvertroue vir ons as lesers opdis.  So asof hulle aan ’n MasterChef-kompetisie deelneem.   

 

Aan ’n jong seun

I

Jong kameraad, ek weet die lyf

Is louter bloedeenvoudige plesier,

en dat meisies in skadu’s snak

en hunker na ’n somerse vervulling

net   ’n stuipende asemteug ver.

Vir jou blaas die lug sy blou trompet,

vir jou steek die son smôrens

sy geel spane in die water,

dra die jaar blomme in sy hare.

 

Wees tog sagkens met jou skoonheid

dat jy niemand daarmee skend nie,

en minder geblakerd met ongeduld.

Jeug is net ’n pou se pavane

voor die grys spieël van ’n storm.

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Amanda Lourens. Allermins MasterChef”

  1. Lewies Botha :

    So bak en brou ek; armsalige kok
    my crème brûlée sommer vla uit ʼn boks
    Kale Jamie pronker in my eie kombuis
    tower ek die aller wonderlikste disse op
    helaas, met bottels van Paarman se sous.
    Inspirasie uit die Kook en geniet
    en Ouma Gertjie se geel ou resepteboek.
    Vrydagaande soebat my vrou ag ‘seblief
    kom ons gaan eet vanaand, iewerster uit.

  2. Johann de Lange :

    Amanda, ek kom vanaand hierop af terwyl ek op my laptop ou files etc. delete, & besef ek het jou nie bedank vir hierdie inskrywing van jou nie. Digters verstaan ook nie aldag álles in hulle gedigte nie.

    Daardie twee slotreëls sou as digterlike credo ook kan diens doen.

  3. Amanda Lourens :

    Plesier Johann. Ek glo darem nie dat ek daardie onvergeetlike twee reëls ooit weer sal vergeet nie. Intussen het ek ook jou jongste bundel gelees en was omtrent vir twee weke daarna nie juis in staat om iets anders te lees nie – dit was net so deksels góéd.