Meditasie, mentorskap
Twee digterlike mentors had ek:
die een onwillig, die ander onbewus.
Aan die een se voet sit ek letterlik,
met die ander een snags dansend.
Oor vormbeheer en “sintuie is werktuie”
by albei geleer in my digterlike vakmanskap.
Maar een ding het beide leermeesters versuim:
hoe laat jy jou gedig, die intieme belydenis,
sy weg vind, uitgelewer aan die leser,
dié aangesprokene wat nooit tydig reageer,
eerder ontydig opmerk: jou bundel
vergeet in ‘n dakkamer in Amsterdam.
By nabaat ‘n naskrif stuur, hoé was
die naweek toe met haar in Skelmdam?
Wis nie dat jy (nes jou een meester)
voetjie-vir-voetjie allengs jou eensaamheid vier.
© Joan Hambidge, 2012