Louis Esterhuizen. Steun gevra vir Harare se Book Café

Vroeër vandeesweek ontvang ek via bemiddeling ‘n skrywe van Paul Brickhill (saam met Morgan Tsvangerai op die foto hierbo), wat die eienaar en bestuurder van die Book Café in Harare is. Hiervolgens blyk dit dat die Zimbabwiese regering in 2008 hierdie lofwaardige onderneming se fondse bewimpel het en hulle einde verlede van die perseel, waar hulle die afgelope 15 jaar gevestig was, geboender het. Die rede? Wel, die Book Café dien reeds vir die 30 jaar lank as die fokuspunt en inisieerder van bykans alle kulturele aktiwiteite in Zimbabwe. En hulle is gewis nie die regering se karperde nie …

Volgens Brickhill se skrywe: “Harares community home for artists and audiences, Book Cafe, has been threatened for years. It represents the power of culture and people. For 30 years it has celebrated the creativity of mind and art, and has become a national beacon of dignity, joy and freedom in Zimbabwe; the antithesis of an insidious militarized repression and looting of national resources. ” Hierdie siening word ook bekragtig met die Prince Claus Award, waarmee dié onderneming in Junie 2011 vereer is, se commendatio: “The Book Café (launched 1997, Harare from the Grassroots bookshop started 1982) is a vibrant platform for free cultural expression in a country suffering decades of political and economic upheavals, repressive laws, stringent censorship and a lack of cultural infrastructure. Operating under the umbrella of the Pamberi Trust, with creative director Paul Brickhill and a dedicated team of staff, this unassuming café presents more than 900 cultural events a year to enthusiastic capacity audiences of people from all racial and cultural groups and all sectors of Zimbabwean society.”

Nietemin, na jare se stryd om vas te stel wat van die geld geword het en ook om hul befondsing weer herstel te kry, het Zimbabwe se Eerste Minister, Morgan Tsvangerai, ook tot die stryd toegetree. Hy word soos volg deur die Daily News aangehaal: “I am aware that Book Café is one of the cultural institutions punished by its own government in 2008 by having its funds raided by the Reserve Bank of Zimbabwe. I pledge to trace what happened to that money with a view to having it repaid as was done to funds raided from the foreign currency account of NGOs. It is an anomaly that needs urgent resolution.”

Nou ja, toe. Of selfs Tsvangerai daarin gaan slaag om teen die vloed van korrupsie en bewimpeling staande te kan bly, sal net die tyd leer. En, indien jy jou steun aan hierdie stryd wil toesê, kan jy hierdie of hierdie skakel volg.

Ironies genoeg herinner dié situasie my aan die euforie waarmee die 2008-verkiesing se uitslag en Mugabe se (gewaande) neerlaag by die stembus, begroet is. Op dié tydstip was ek en Marlise hoeka in ‘n kroeg met die toepaslike naam ‘t Hof van Ellende in Berchem (Vlaandere); die TV se klank was afgedraai terwyl een na die ander dansende Zimbabwiër hul vreugde met wuiwende hande en “victory”-tekens te kenne gegee het. Niemand in die kroeg het eens opgekyk na die skerm nie. En vier jaar later is Mugaba steeds aan die stuur van sake …

Maar ek sluit dié inskrywing af met nog ‘n treffende uitspraak deur Morgan Tsvangerai, gevolg deur die gedig wat uit bovermelde kroeg-ervaring voortgevloei het: “Culture defines us. Culture mobilises transformation, inspires inclusiveness, increases diversity, tolerance and acceptance. Culture and the arts play a key role in society especially for countries in transition such as Zimbabwe. The arts encapsulate human struggles, express them and define a people and their quest for progression and development. Creating and preserving culture is key to a country’s cultural history because it confers value, respect and identity. Culture contributes to the recovery of self-respect and identity in times of crisis.”
***

‘t Hof van Ellende

 

is ‘n kroeg

in Berchem: langwerpige

vertrek, koperkandelare,

toonbank met tapkrane

en kitsch skilderye wat vertel

van ‘n paartjie se

dans onder ‘n sambreel

op ‘n maandeurdrenkte strand

 

is ‘n skuilplek

teen koue: groepies uitbundig

om tafels,

gesellig soos die skuimkop in ‘n glas

De Koninck Blond, ‘n meisie

wat rondborstig lag

met haar metgesel se hand

tussen haar bene, skadeloos, soos dit

 

glo ter wille van fatsoenlikheid hoort

 

en in die hoek

bokant die gespook en gestamp

is ‘n TV sonder klank: die een of ander verkiesing

in veraf Zimbabwe

word bekend gemaak, landsburgers praat

opgewonde, bondel voor

die kamera saam: beduie, sing en dans sonder geluid

 

in ‘t Hof van Ellende. Jy weet presies wat hulle sê,

want uiteindelik – dink hulle – uiteindelik

is die despoot uitgestem, uiteindelik

word hulle

wêreldwyd gehoor

 

(c) Louis Esterhuizen (Uit: Amper elders, 2012: Protea Boekhuis)

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Steun gevra vir Harare se Book Café”

  1. Breyten Breytenbach :

    Dankie vir hierdie dekking, Louis! Soos die voorbeelde van Tunisië en Egipte ook getoon het – tot ‘n mate altans, met wisselende sukses, maar die pad is minstens oopgemaak – verset van burgerlike samelewinginstansies gaan al hoe meer nodig en hopelik deurslaggewend word in die stryd teen onderdrukkers en magsvrate. Veral ook omdat ons maar liewer nie op die Tsvangerais of selfs die Ramaphosas van die wêreld moet reken nie.
    Ek is bly jy het aandag aan Paul Brickhill se Book Café bestee. Veral siende jy wat rond- en bontstaan in Protea Boekhandel ‘n skerper aanvoeling sal hê, neem ek aan, vir die uitdagings waaraan Brickhill die hoof moet bied.

  2. Breyten Breytenbach :

    En ek wou ook nog dankie sê vir jou skrynende gedig. Dis tog opvallend hoe die blootstelling van ‘beriggewing’ lei tot die gebarespel van stilte, van verbypraat.

  3. Louis :

    Dankie vir die kommentare, Breyten. Wat Paul Brickhill vermag het is inderdaad enorm. En dit te midde van ‘n minder as vriendelike omgewing. En ja, so dikwels is idealisme en verset gewoon lippetaal na gelang van met wie jy gesels … Trouens, ek vermoed dat enige politikus die sentiment wat Tsvangerai hierbo verwoord sal demonstreer indien dit sy beeld tot voordeel strek. Of enigiets daarvan sal materialiseer is derhalwe ernstig te betwyfel, myns insiens.

  •