Louis Esterhuizen. Die kitsvreugde wat FaceBook bring …

 

Een van die meer amusante stukke wat ek die afgelope paar dae op die internet te lese gekry het, is Craig Santos Perez se blog op die Poetry Foundation se webblad. Met “I saw the best minds of my generation destroyed by Facebook” as opskrif het hy dit oor die vervlakkende (en verwoestende) effek wat Facebook op blog-inskrywings het. Volgens hom was blogs ‘n paar jaar gelede koning; die onderwerpe was gevarieerd en stimulerend en die kommentaar-fasiliteit by die meeste blogs het tot sinvolle debat aanleiding gegee …

Maar nou het die situasie volgens Perez drasties verander: “People stopped commenting on each other’s blogs. Threads died. Poets deleted their blogs and disappeared from public eye. Harriet shut down the comment box; later, Harriet shut down the group blogging. My Google reader grew silent. Noting this phenomenon, I wrote in 2010:  “Facebook killed the blogger star.” (Terloops, Harriet is die kollektiewe blog van die Poetry Foundation …)

Nietemin, met bogenoemde as uitgangspunt gee hy dan ‘n nogal vermaaklike uiteensetting van sy Facebook-verslawing; digters wat hy bewonder het en wie hy via FB bevriend het, wat nou nie meer oor dit wat pertinent op die digkuns betrekking het, skryf nie, maar oor dit wat hy ‘food porn” noem: “I learned many new recipes. I also learned many intimate details about the former poet-bloggers I friended. And by intimate, I mean TMI, as in Too Much Intimate! And sometimes these details changed the way I perceived the poet. You know, it’s like when you first learn that Ezra Pound was a fascist, or that Wallace Stevens worked for an insurance company. Something breaks on the inside.”

Freneties het hy hom aan die adrenalien vloed van “liking” en “sharing” oorgegee; in dié mate dat sy FB-blad deurentyd op sy rekenaar oopgehou is ten einde nie ‘n nuwe plasing te mis nie. Alles buiten sy Facebook status het in belangrikheid afgeneem. “Now, I have 2649 Facebook friends. As I type this, I have a window open to my Facebook page. Between sentences, I snack on my feed. Oh look: Don Share shared a photo of a sexy stack of Poetry magazines (April 2012). Book porn. Three people like it. I just “liked” it. I’m not going to comment “Double Like” because I don’t like it that much.”

Kostelik. Die aanhaling wat egter soos ‘n goue draad deur Perez se relaas loop, is die volgende uitspraak deur William Carlos Williams: “It is difficult to get the news from poems.  Yet men die miserably everyday for lack of what is found there.”

Nou ja, toe. Laat ons fokus behou en nie soos dit die geval is in NP Van Wyk Louw se treffende gedig, Renboot, greep verloor op die vlak waters van Facebook se kitsromantiek nie …

Vir jou leesgerief plaas ek die gedig hieronder.

***

 

Renboot

 

My boot skiet rasend oor die see,

die vrees vlieg soos ‘n wit voël mee:

 

moet hy nie sink as hy gaan staan?

(iets donkers gryp-gryp onderaan).

 

My vaart is wankel ewewig

tussen swart see en hoë lig.

 

© NP Van Wyk Louw (Uit: Versamelde gedigte, 1981: Tafelberg / Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Die kitsvreugde wat FaceBook bring …”

  1. Louis, gelukkig is Versindaba heel aktief op Facebook! Op die oomblik is dit nie Facebook nie, maar ‘n musiektoer en klasgee wat my blogs kelder.

  2. Louis :

    Jinne, Andries. Hierdie was darem nou nie as teregwysing bedoel nie? Buite-kurrikulêre aktiwiteite soos blogs en diesulke vreugdes kan ‘n mens immers net doen na gelang van beskikbare tyd en inklinasie … 🙂
    Terloops, ken jy Carl Honoré se boek “In praise of slow”? Wonderlike leeservaring, met nogal ‘n heel besonderse kyk op ons moderne leefstyl.

  3. Ook nie as teregwysing gelees nie, Louis! Dis my Calvinistiese opvoeding wat hier inskop. Ek het nog nie “In praise of slow” gelees nie, maar geniet Kundera oor “Slowness”; veral die deel oor stadiger stap as jy iets probeer onthou en vinnig jaag (motorfiets) as jy wil vergeet.
    Ek het soveel om oor te skryf – gedigte by KKNK en die Langkloof (name soos “Louterwater” en “Misgund”), maar ek sal mettertyd daarby uitkom. Hopelik voor ek vergeet!
    Die ergste van alles is dat ek agter geraak het met digbundels lees. Ek sien uit na “Amper elders”.

  4. Beatrice B :

    Hallo Louis en Andries

    Hier is nog ‘n oulike artikel oor Facebook en skrywers: http://www.guardian.co.uk/lifeandstyle/2012/jan/16/facebook-gave-me-writers-block?INTCMP=SRCH

    My gunsteling aanhaling daaruit: ” … the rabbit hole universe available to us online is far more of a distraction than any physical “bustle” could ever be and the authors really getting down to the best work aren’t the ones telling you about it on the internet.”

    Ek het self in Januarie my Facebook-profiel gedeaktiveer en ek beplan nie om dit weer aan te skakel tot ek ten minste genoeg gedigte vir ‘n bundel geskryf het nie. Mens mors van jou beste idees op status updates, ‘n vinnige skryfsel op die muur laat jou voel asof jy regtig iets geskryf het, maar uiteindelik sit jy met niks meer as vermorsde ure nie.

    Dis my 2 sent. Kliek like vir meer.

  5. Hallo Louis

    Vir my is fb baie nuttig. Ek gebruik dit bloot om kennis te gee wanneer ek ‘n gedig op my blog plaas. Dit is baie min dat ek daar kommentaar lewer of gesels. Ek dink die kennis-gee funksie is voordelig in die sin dat dit mense wat geïnteresseerd is, laat weet dat daar iets nuuts te lese is.

  6. Desmond :

    @Andries: ek het destyds elke jaar via Langkloof van Grahamstad Oudtshoorn toe gery, en dit het altyd gevoel of ek deur ‘n lang landskapgedig ry. Daardie plaas- en ander plekname is uitsonderlik mooi; daarom verstaan ek nie eintlik waarom julle daarbo nog bodder oor ‘n vervelige ou naam soos ‘Pretoria’ nie… 😉

  7. @Beatrice, ek sien uit na daai bundel en om jou dan weer op Facebook raak te loop! By die huis het ek nie web of TV nie, so dit help om tyd oop te hou.
    @Desmond, Langkloof is ook een lang landskapskildery. By Haarlem is daar ‘n Lutherse kerkgebou wat ek binnekort gaan verf.

  •