Kosmosse is mos kitsch. Ek het iewers gelees dat die sade van die blomme hier in Suid-Afrika beland het via die perdevoer wat vanaf Meksiko ingebring is vir die Engelse perde tydens die Anglo-Boereoorlog. Hulle is eintlik glad nie inheems nie. Maar ʼn sekere tyd van die jaar staan die paaie en veld hier in Gauteng vol in die blom. Soos nou.
Herfs is ʼn goeie seisoen vir gemengde gevoelens, ervaar ek hierdie week. Nie dat dit al heeltemal herfs is nie, maar ek het darem ‘n paar roeserige blare raakgesien die afgelope naweek. So tussen die pienk en wit en wynrooi kosmosse deur. Johannesburg is ryk, ryk aan bome.
Hoe beeldskoon is hierdie lelike stad. Lieflik is dit om by die dam in ons park te gaan stap, hoe jammer my vriendin is daar beroof met gewere teen haar kop in die middagson. Vreemd is ons fotosessies; gewapende manne pas ons op as ons reël om herfsbruide in die veld te gaan afneem.
Hoe hard en weerloos is hierdie land. Adam Small kry uiteindelik, uiteindelik die Hertzog-prys. Uiteindelik. Maar daar is konflik. Daarom het hierdie eerste geel-en-oranje dae ná die ekwinoks my nie aan Vroegherfs laat dink nie, maar wel aan:
Ek haat en ek het lief
Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.
*
Dat liefde so tot haat kon skif.
Liefde wat tóg vol goue room was.
Haat wat sulke dun wei-water is.
(N.P. Van Wyk Louw)
Maar: oppas vir die negatiewe perspektiewe, waarsku ʼn wyse vriend my. Want naderhand verdring dit alles wat mooi is. Daarom omhels ek die ambivalensie van melankoliese herfs. Daarom verheug ek my in die skildery wat Christo Van Staden (ook bekend as Johannes van Jerusalem, digter van die bundel “Eros Ontbind”) gemaak het. Christo (verder ook bekend as JC Van, hy van vele Bekgevegte) is besig om ʼn hele reeks Johannesburg-skilderye te verf en sy digterstem is so helder hoorbaar in sy troetelname vir hierdie stad: Johannesbos, Joyburg, Johannesberg….
Herfs in Johannesburg laat hom onbekwaam voel, sê hy. Ja, dink ek. Want ook herfs het haar geheime. Dis net ons wat swaar dra aan die dubbelsinnigheid. Soms.
Dankie Everline!
René, so gefukus gskryf – bruis soos ‘n sterk fontein of “spat sag oop”. Het geniet, soos altyd.