Nageslag
Die atmosfeer in die huis
is effens slordig.
Jan dra ‘n ligblou trui
oor ‘n donker gholfhemp.
Ons sit in die woonkamer
met skilderye teen die muur.
Hulle gehalte wissel vreeslik.
Die portret van die jong Bernice oorheers.
Sy bring ‘n skinkbord met tee en koffie in.
Sy het haarself opgekikker
en dra geborduurde dansskoene.
Mens kan nog die ooreenkoms sien
tussen haar en die portret.
Sy skink tee, bied koffie aan.
Daar is tuisgebakte beskuit
en stukkies vrugtekoek, baie soet.
Bernice praat vrolik oor die teater,
maar sê niks van haar groot rolle nie.
Jan staan effens moeilik op
en verlaat die kamer.
Hy kom terug met ‘n witterige klip
en gee dit vir my.
daar sit klein gefossileerde beentjies in,
‘n klein diertjie.
‘n Soort knaagdier, sê Jan.
Die voorloper van alle soogdiere kon so gelyk het.
Ek sien klein kloutjies,
‘n smal skedel, ‘n ry skerp tandjies.
‘n oogkas wat eenkeer ‘n blink ogie gehuisves het.
Bernice sit die koppies bymekaar.
Dit was baie lank gelede, sê sy.
Jy was die koningin van die verhoog, sê Jan.
Dit het babas gesoog, antwoord Bernice,
en kyk na die foto van die gradeplegtigheid teen die muur.
Nes ons.
De Waal Venter, 2012