Verras deur ‘n gelukkie
Ek sal sonskyn aantrek
vir ‘n hemp.
Daardie streepwolke
sal ek my hare mee kam.
Vanoggend se sagte reën
sal my sagtesool skoene wees.
En my broek?
Die groene,
die baie groene van bome
en gras en somerplante.
Netjies aangetrek
sal ek die dag instap
om my vinger te vryf oor
die vergeetmynietjie blou
van die berg se rug,
om rimpels te blaas
op die rivier,
en om rond te voel in my sakke
vir my gevoelens
wat so maklik is om te verloor.
Aha, hier is ‘n klein gelukkie
baba-warm in my hand;
wat is hierdie skielike nattigheid?
© De Waal Venter, 2012
Johann, besef jy hoe goed jy dit sê? Die groot kunstenaar (digter, komponis, skilder en wat ook al) is onmisbaar in ons samelewing. Hierdie mense maak die lewe draaglik.
De Waal, ja, ons sal nie weer in ons leeftyd haar gelyke teenkom nie. Dat ons jong taal beide NPvWL & Cussons kon voortbring, bly vir my iets wonderbaarliks, amper onbegrypliks.
Elke voëltjie sing maar soos hy gebek is. Cussons se verse laat mens toe om vir jou eie pyn ook leniging te vind déúr haar. Die groot gedig medieer ervaring.
Johann
Baie van Sheila se gedigte kom uit ‘n groot lyding. Daar is seker niks wat ‘n digter se werk meer trefkrag kan gee as so ‘n persoonlike ervaring nie. Ons ander digters moet maar die beste maak van ons gewone ervaringe. Nè?
De Waal, dit laat my dink aan Sheila Cussons se lieflike kwatryn:
Pasêla
Kaalvoet herinnerinkie van ver vandaan
wat skielik voetseer voor my staan:
onder hulle klippe uit vlug die klein akkedissies
en onder my ooglede, vinnig, die trane.
[Uit; Die Swart Kombuis]