Vierluik
I
In ’n stewige ou gebou
– die kamer liggroen
onder ’n hoë plafon
en almal om sy bed –
het hy gesterf.
Dit was ’n grootse worsteling
asof die dood iets was
wat hy moes verwerf.
II
Aanvanklik net ’n kleinerige aar:
nogtans genoeg om haar
half agter te laat.
Sonder een arm en een been
het sy bladsye halfvol geskryf:
’n lewe net
van die middel
af éénkant toe.
Eers toe die groot aar bars
was sy weer volledig
in haarself verenig.
III
Op die oomblik van sy val
was hy alleen:
sy brein onmiddellik
’n donker sampioen.
Drie dae lank gelê
met ’n al hoe gladder gesig
soos foto’s uit sy jeug.
Toe was dit of die wind
’n deur sag toegestoot het;
ferm en finaal,
en ons allenig daar.
IV
Sy is nou al wat ons nog ma kan noem.
Tussen geliefdes sit sy al hoe stiller
asof sy reeds weet van vertrek.
Die dae raak toenemend ligloos
oor die borduurwerk en die porselein;
en sy wat al hoe meer deurskyn.
© Heilna du Plooy
Potchefstroom (Sondag 11 November 2012)
Heilna, mens kan sien en voel jy het die siekte en dood van ‘n ou mens – ‘n geliefde, al meer as een keer beleef en verwerk. Ek kry hoendervleis! Baie geluk met die wyse waarop jy woorde inspan om die regte effek te kry.
Heilna, ek wil graag beaam wat almal hierbo geskryf het. Aangrypend, en het sowel my vrou Lesli as ek laat dink aan ons ouers, en ook aan wat ek ongelukkig te dikwels in my daaglikse doen en late teenkom. Ek wens ek kon dit so verwoord soos jy. Ek moet egter tot ‘n mate met Johann en vw Louw verskil: die dood is soms/dikwels net op papier “mooi.” Jou verse is egter sowel mooi as verskrikkend, en ek bedoel dit as ‘n kompliment. Hoop jy aanvaar dit so!
Vier sublieme, gestroopte gedigte! Sjoe!
Aangrypend en hartroerend… Heilna, jy slaag daarin om met enkele woorde, dae; maande en jare se treur vas te vang, maar ook die dood se angel te versag, en ons terselfdertyd te troos… Baie dankie!
Vir ons wat hierdie mense ken is “dit” aangrypend mooi wat jy in min en raak woorde skryf – ons kan maar net ‘n oog knip en ‘n traan van ons wimpers afvee, want ons het geweet, en ons weet “dit” kom!
Heilna, ik lees en herlees, de emotie blijft. Dank, vooral voor IV. Eva
Heilna, ‘n mooi, skrynende elegie. Meteens kom Louw se reël by my op: “mooi is die lewe en die dood is mooi”.
Heilna, die laaste reel, “sy wat al hoe meer deurskyn”, herinner my aan ‘n portret van Daphne Todd wat ek ‘n paar jaar terug in Londen gesien het, en wat my erg ontroer het. Ek het destyds daaroor geblog:
https://versindaba.co.za/2010/08/29/n-ontroerende-skildery/
Heilna, dis moeilik om te sê hoe diep hierdie vierluik van jou mens raak. Wil net graag beaam wat Louis en ander hier bo aanstip.
Dankie!
Groete,
Breyten
Heilna, ek kan dit nie verhelp nie. Telkens kom ek terug na hierdie vierluik van jou. Met die gedagte dat hoe dikwels dit in die poësie gebeur dat minder eintlik soveel meer is … Die ganse emosionele landskap wat jy hier oopskryf in die bestek van 38 reëls. ‘n Kragtoer, inderdaad!
Ontroerende beelde, Heilna. ‘n Mens sien hulle duidelik uitgestippel in die geestesoog. Droewig, maar helder.
Aangrypend hierdie vierluik.