Desmond Painter. Miskien sal ek die wingerd prys…

Barend Toerien

Sondag op Stellenbosch. Ek sit en worstel deur die koerante. Ek lees berigte oor stakings, opstande en geweld op Bolandse plase en in Bolandse dorpe. Dit tref my – en miskien is ek onregverdig, maar dit is hoe dit op so ‘n Sondagmiddag vir my lyk – hoe maklik dit is om lofsange aan wyn en die natuurskoon van die Boland in die Afrikaanse digkuns te vind, terwyl die onderdrukking, immiserasie en maatskaplike weerloosheid van plaaswerkers in die streek oor die jare eintlik maar weinig neerslag gekry het in ons poësie…

Kyk jy na die Boland kyk deur die wasige lense van die Afrikaanse digkuns, is dit wat tans aan die gebeur is, die werklikhede van die sosiale verhoudinge wat hier geld (en ontgeld), eintlik onvoorstelbaar. Miskien is dit juis die ideologiese funksie van die Bolandse streekspoësie? Dit herinner my nou meteens aan hierdie reëls uit Barend J. Toerien se fantastiese gedig, ‘Johannes die Digter’, uit 39 Gedigte (1963): 

 

Uit: Johannes die Digter – Barend J. Toerien

[…]

Want hy was fyngevoelig

en ‘lief vir die natuur’.

Hy wy sy aanleg om aan

sy taal te skuur en te skuur

 

en te treur oor Romeinse wreedhede,

conquistadore en Atilla sʼn,

oor Hongarye, en Troje

se verontregte koningin.

 

Maar kom hy tot ʼn vergelyk ooit

oor Sekukuni- en Pondoland?

Dié vraag bly hom onbekend:

dit was die opposisiekoerant.

 

Nie dat ek vinger wys nie. Die slotstrofe van Toerien se gedig is eweseer toepaslik, en slaan ewe seer:

 

Dis maklik om Johannes

so effe te hou vir die gek.

Die bitterheid is dat ek hy is,

en hy, Johannes, ek.

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Desmond Painter. Miskien sal ek die wingerd prys…”

  1. Louis Esterhuizen :

    Desmond, dit is ‘n groot onderwerp wat jy hier by aansny … En hoe tragies dat Barend Toerien eintlik (nog) nooit na waarde geskat is nie. Gewis was hy sy tyd ver vooruit.

    Nietemin, hieronder volg ietsie-in-wording vir jou sardoniese plesier.
    Louis
    ***

    Want in die afwesigheid van berge
    word die horison met die harde potlood se rubberkant

    uitgewis. Word dit ’n letsel waarop elke
    bos en klip
    ingeskryf staan

    elke wolk by elke rivier
    of spruit

    soos in die vallei van doodskaduwee
    waar hulle klippe pak op die N1 by Touwsrivier,

    met jillende stok en kierie betoog

    teen die stof wat opgedam in die waterkraan
    net armoede lek
    in uitgehongerde borde.

    Ja, langs die donga se doodskaduwee
    stapel hulle motorbande brandend in die pad
    van noodvoertuie, swerm skeltaal

    soos klippe om munisipale werkers
    in die byekorf
    van hul nagelate besoldiging,

    stroom stakers deur die myne se spergebied
    op koers na die keerwal van polisie
    en lykshuis,

    word standbeelde in openbare plekke
    tot die voet toe afgebreek,

    skilderye in kunslokale met verf besmeer
    asof dit ’n skandmuur is
    vir die beloofde groen weivelde

    by waters waar rus is
    van nou af tot in ewigheid.
    Want in die dal van doodskaduwee
    breek die son sku deur die kombers van

    rook en roet

    bo die sinkplaatbuurtes
    van hul wanbesteding, sterf mense

    sonder sorg of heenkome
    in hospitaalgange

    om ander name ontwil

    stok en staf sal voorsien word
    en so ook die vrees

    vir die lengte van al jou dae.

  2. Louis, dankie. Jou vers-in-wording (wonding?) is baie kragtig. Debatte oor “betrokke letterkunde” kan steriel, moralisties en voorskriftelik raak, maar ons moet darem seker probeer soek na maniere om die verbeelding uit te brei, om ook die “sonder sorg of heenkome” van ons land te verwoord soos jy in jou gedig doen. Ons leef in ‘n waansinnige, gewelddadige tyd; watter soort poësie sou dit kon ignoreer? Maar hoe verwoord ons dit? Die vraag sluit ook aan, dink ek, by Andries en Breyten se gesprek oor morele agentskap en die etiese verbeelding in die fassinerende onderhoud vanoggend.

  3. Naskrif: ja, Toerien word steeds onderskat. Verstaan nie waarom nie; sy werk is briljant, van die vroegste bundel regdeur tot die laatverse. Ek is ‘n groot fan.

  4. Desmond, dit lyk mos vir my of Barend Toerien vir N.P. Van Wyk Louw bykom. Wat dink jy? Indien wel, het Barend doelbewus vergeet van Louw se “Nuusberigte: 1956”.
    Dan is daar natuurlik ook Barend se manjifieke gedig “Steenwerp se bruinmense” wat so begin: “Diep onder die wingerd l^e ons, Steenwerp se bruinmense”.

  5. Daniel, ek het ook gedink daar word spesifiek houe gemik na Van Wyk Louw — die dat ek ook my titel by laasgenoemde gesteel het. Jy is natuurlik reg oor “Nuusberigte: 1956”; en “Steenwerp se bruinmense” is inderdaad ‘n uitstekende argument teen dit wat ek hierbo aanvoer (“maar al wil ons ook lag, / is niks meer snaaks genoeg nie.” Eisj.). Daar is seker baie ander voorbeelde ook. Nogtans… die Boland is verleidelik mooi, te maklik-mooi dalk; hoe rym mens die “Boland” van die afgelope paar dae se koerante met die “Boland” van die Afrikaanse poësie?

  6. Marko van der Colff :

    Kaap die Goeie Hoop : 1976

    Bedag
    Op jou kleure
    Geure en tale
    Dwaal ek
    Snags
    Jou ou stiltes ín
    Hoor:
    Bronskloppers teen herehuis-deure galm,
    Statige stad- en kerkhorlosies
    oor gekeide pleine metronomies tik,
    Hoe die see aan jou some kan sis.
    Tussen Buren, Oranje, Leerdam, Katzenellenbogen en Nassau
    Skreeu mý erfenis gefolterd uit:
    Ek is ‘n Afrikaan!
    Maar wanneer die nagwagte se konkavuur
    Voor die Burgerwaghuis
    hul swart skadu’s
    Teen die wit muur laat poppiedans
    En Langa en Nyanga
    -son en maan-
    Uitreik na jou keisteenhart
    om húlle erfenis op te vra,
    Klap knuppels en sambokke
    teen koppe en lywe
    Klap skote teen sink
    teen steen
    teen vleis
    (‘n Trojaanse Perd
    teen voetvolk?)
    Dans Poppie dans
    Die minuet
    met ʼn geparfumeerde pruik
    op die Kat,
    Dan later…
    (voetpad langs na Lady Anne se bad …)
    ʼn Slaaf wat liggies tydhou in die Gat?

  7. Johann Lodewyk Marais :

    En daar is die invloed op die natuur …

  •