Hier volg ʼn lusmaker uit Catherine du Toit en haar medewerkers se vertaling van Michel Houellebecq se gedigte, Tagtig gedigte en twee essays, wat in hierdie dae op die rakke behoort te verskyn. Die boekbekendstelling vind vanaand in Stellenbosch plaas; sien die besonderhede hier.
Diegene wat al Houellebecq se romans gelees het, veral Platform, sal weet dat sekstoerisme nogal ʼn terugkerende motief in sy werk is. Dit is ʼn komplekse tema: ʼn mens is nie altyd seker of Houellebecq se uitbeelding van die konsumpsie van nie-Westerse liggame deur die Westerse toeris as kultuurkritiek of ʼn vorm van kulturele bevryding, ‘n soort gesekulariseerde verlossing in vleeswording in en deur die Ander, gelees moet word nie. Miskien iets van beide, afhangende watter teks van Houllebecq jy lees…
Die seksuele stelsel in Martinique – Michel Houllebecq
Daar is ʼn witterige agtergrond bewimpel
Waarteen mense kan leef en hulle lywe liefkoos
Ons is nie met vakansie om te dink aan die dood nie
In ʼn liberale sisteem, tussen al die basters
En onder causarinas, sweet die velle
Die dag is uiters wit, ons besmeer onsself met olie
Ons organiseer speletjies, die publiek is gewillig
En snags eet ons skilpadtjops.
Ons moet ʼn orgastiese onderhandeling beplan
Sodat elkeen kan pret hê, dit op video vaslê
Die vryery, sarongdanse
En die skrapse klimaks aan die einde van elke nag.
So ruil die mense slym uit
Voor alles weer weggepak word in veseltasse,
So bevestig hulle hul status as vrye wesens
En hulle uitgekalfde, verhandelbare menslikheid.

