Karen Kuhn. Chopin – Digter van die klavier

“It was an unforgettable picture to see Chopin sitting at the piano like a clairvoyant, lost in his dreams; to see how his vision communicated itself through his playing, and how, at the end of each piece, he had the sad habit of running one finger over the length of the plaintive keyboard, as though to tear himself forcibly away from his dream.” – Robert Schumann

 Die digter van die klavier, so word daar na Fryderyk Franciszek Chopin verwys. Die Poolse pianis is gebore op 1 Maart 1810, maar volgens sy doopsertifikaat is die datum 22 Februarie, op die dorpie ŻelazowaWola naby Warskou. Sy pa; Mikolaj (Nicolas) Chopin is in Mairainville in Frankryk gebore en op sestienjarige ouderdom verhuis hy na Pole en verbreek alle kontak met sy familie in Frankryk. Hy trou met Tekla Justyna Krzyzanowska. Hulle het drie dogters: Ludwika, Izabela en Emilia, en ’n seun Fryderyk wat die tweede kind was. Die gesin verhuis kort na hul seun se geboorte na Warskou.

 

Van 1823 tot 1826 woon Fryderyk Chopin die Warskou Lyceum, waar sy pa een van die professors was by. Van ’n vroeë ouderdom is sy musiektalent duidelik en op sewe jarige ouderdom het hy al twee polonaises gekomponeer. Die jong komponis het heelwat na tradisionele Poolse volksmusiek geluister en vertroud geraak met die tradisionele musiek. Hy komponeer sy eerste mazurka (’n Poolse volksdans) in 1825 en al het hy die styl en vorm van hierdie genre vernuwe, komponeer hy tot en met sy dood mazurkas wat steeds inspirasie geput het uit die outentieke Poolse tradisie.

In 1826 studeer Chopin musiek by die Warskou Skool van Musiek wat deel was van die universiteit. Józef Elsner (hoof komponis) verskoon Chopin van klavierlesse, maar het wel ’n soliede teoretiese en dissiplinêre agtergrond binne Chopin daargestel. Elsner skryf aan die einde van Chopin se derde jaar: “Chopin, Fryderyk, third year student, amazing talent, musical genius”.

Na die val van die November 1830 opstand en die oorname van Warskou deur die Russe vertrek Chopin na Parys. Daar ontmoet hy heelwat landgenote onder andere die Poolse romantiese digter Adam Mickiewicz wat ook deel was van die sogenaamde ‘Groot Emigrasie’.

Chopin se reputasie in Parys het vinnig gegroei en teen 1832 was sy komposisies in Frankryk, Duitsland en Engeland gepubliseer. Sy hoofbron van inkomste was om musieklesse te gee vir Poolse en Franse studente, hy het wel voor klein intieme gehore in Parys opgetree, maar was oor die algemeen skugter vir openbare vertonings.

Chopin het Franse burgerskap verkry en ignoreer sy pa se versoek om die Tsaristiese regulasies te gehoorsaam deur sy paspoort by die Russiese ambassade te hernu, met die gevolg dat hy nie weer toegelaat was binne sy tuisland nie. Hy kon toe slegs sy ouers buite Pole ontmoet.

Chopin het ’n reeks romantiese verhoudings gehad. Hy het verloof geraak aan Maria Wodzinski, maar haar ouers weier om hul toestemming te gee weens sy leefstyl en swak gesondheid. Hierdie verwerping was ’n groot terugslag vir Chopin en hy merk die briewe van die gesin as: ‘My leed’.

In 1837 ontmoet Chopin die bekende Franse skrywer George Sand. Ses jaar ouer as hy en reeds geskei met twee kinders vind Chopin vertroosting by haar. Sy was eksentriek met ’n sterk persoonlikheid. In 1839 trek hulle  na Sand se herehuis in Nohant, Frankryk. Hier het die komponis al tekens van tuberkulose begin wys, alhoewel hy bitterlik siek was, was dit die gelukkigste en mees produktiefste tydperk van sy lewe. Al het hulle nooit getrou nie, het kunstenaars in Parys hul so beskou en hul het heelwat gemeenskaplike vriende gehad soos die skilder; Eugène Delacroix en sangeres; Pauline Viardot.

Eugène Delacroix (1798-1863): Chopin and Sand

Vir jare het die paartjie ’n hegte vriendskap en liefde gedeel, maar Sand se kinders se negatiewe houding teenoor Chopin en hul invloed op hul ma was een van vele faktore wat lei tot hul skeiding in Julie, 1847. Dit het ’n uiters negatiewe impak op Chopin gehad, beide fisies en emosioneel. Hy het skaars enige verdere komposisies geskryf en kon ook nie meer lesse aanbied nie. Byna twee jaar na die liefdesteleurstelling met Sand in 1849 het sy oudste suster, Ludwika Jedrzejewiczowa, van Warskou af Parys toe gekom om hom te versorg. Op die 17e Oktober 1849 sterf Chopin op 39 jarige ouderdom in sy Paryse woonstel in Place Vendôme van pulmonêre tuberkulose.

Byna drieduisend mense woon sy begrafnis in Parys by, maar George Sand was nie een van hulle nie. Chopin het meer as 200 werke gekomponeer. Hy is in die Père-Lachaise begraafplaas in Parys begrawe, maar soos sy testament ook bepaal het, is sy hart in ’n urn geplaas en is vandag in Warskou, in een van die pilare van die Heilige Kruis Kerk in Krakowskie Przedmiscie.

Vandag hoor en sien mens Chopin orals in die hoofstad van Pole. Daar is onder andere veertien bankies in Warskou waar met die druk van ’n knoppie ’n paar note van een van sy komposisies gespeel word. Daar is ook heelwat beelde van Chopin en ’n interaktiewe museum van hom.

Buiten vir die legendariese musiek wat hy agtergelaat het, is daar ’n deurlopende stramien van vervreemding, verlange en bannelingskap binne hierdie genie opgesluit wat my aangryp.

Voor Chopin nog Parys toe was in 1930, spandeer hy een Kersfees in Vienna en skryf in ’n brief aan Jan Matuszyński:

“Vienna. Christmas Day, Sunday morning. Last year at this hour I was with the Bernardines. Today I am sitting alone …[on Christmas Eve] I strolled along slowly alone, and at midnight went into St. Stephen’s. When I entered there was no one there. Not to hear the mass, but just to look at the huge building at that hour, I got into the darkest corner at the foot of a Gothic pillar. I can’t describe the greatness, the magnificence of those huge arches. It was quiet; now and then the footsteps of a sacristan lighting candles at the back of the sanctuary, would break in on my lethargy. A coffin behind me, a coffin under me;—only the coffin above me was lacking. A mournful harmony all around—I never felt my loneliness so clearly …”

Na ongeveer vyftien jaar in Parys skryf Chopin in 1845, gedurende Kersfees, ’n brief aan sy familie:

“Today is Christmas Eve (Our Lady of the Star). They don’t know that here. They eat dinner at the usual hour: 6, 7, or 8, and only a few foreign families keep up those customs … All the protestant [sic] families keep Christmas Eve, but most Parisians make no difference between today and yesterday.”

In November 1848 skryf hy in ’n brief:

“… I don’t think at all of a wife, but of home, of my Mother, my Sisters. May God keep them in his good thoughts. Meanwhile, what has become of my art? And my heart, where have I wasted it? [crossed out] I scarcely remember any more, how they sing at home. That world slips away from me somehow; I forget, I have no more strength [crossed out]; if I rise a little, I fall again, lower than ever.”

 

Chopin – digter van die klavier

 

Dalk was elke komposisie weer

’n reis huis toe na jou vaderland

as vreemdeling jouself oor te gee

om bekendheid binne note te lees?

 

Dalk het elke eensame Kersfees

note van hoop en wanhoop versmelt

as die perfekte kombinasie

om welkom en verban te hoor voel?

 

Dalk dan die laaste ongehoorde

ongespeelde onaangeraakte

mazurka opgesluit oneindig

tussen hartklawers van jou Pole?

 

Bibliografie

http://en.wikipedia.org/wiki/Frédéric_Chopin [Nageslaan Desember 2012]

 http://www.ourchopin.com/  [Nageslaan Desember 2012]

 http://www.usc.edu/dept/polish_music/PMJ/issue/2.1.99/zakrzewska.html#back73  [Nageslaan Desember 2012]

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Karen Kuhn. Chopin – Digter van die klavier”

  1. Marlise :

    Lekker gelees hieraan Karen! Die fragiele Chopin sal altyd een van my gunstelinge bly. Ek onthou ‘n verruklike nag se stikdonkerte waar ek op ‘n mat lê en die hele CD deurluister van sy Nokturnes deur Daniel Barenboim. Tyd dat ons weer daardie musiek uithaal …

  2. Ek haal elke winter my Chopin CD’s uit; dit is nie vir my somermusiek nie. Ek was in 2007 by die Chopin museum in Warskou. ‘n Noodsaaklike stop as jy in daardie stad is.

  3. Leon Retief :

    Karen, ken jy die boek “Chopin’s Funeral”? Ek vergeet nou die naam van die skrywer maar kan dit werklik baie sterk aanbeveel.

  4. Karen Kuhn :

    Stem saam, Chopin is veral gepas vir die winter!

    @Desmond dit is inderdaad ‘n fantastiese museum!

    Dankie vir die aanbeveling Leon, ek gaan kyk of ek die boek kan opspoor.

  5. Louis Esterhuizen :

    Karen, die boek waarna Leon verwys se besonderhede is soos volg: “Chopin’s Funeral” deur Benita Eisler. Vintage Books, 30 Jun 2004, Published in USA. 240pp, 206 x 134mm, 254g, PAPERBACK USD 15.00 978-0-375-70868-8 In Print (IN) ISBN/EAN: 9780375708688.
    Dankie vir ‘n wonderlike inskrywing.
    Louis

  6. Karen jou vers is fantasties. Lieflik soos jy.

  7. Karen Kuhn :

    Dankie vir dié verwysing Louis!

  •