Marlies Taljard. Wie is Kantekleer?

Daniel Hugo se nuwe bundel, Hanekraai, open met die sonnet Kantekleer:

as ek in die nag wakker lê

voel dit of die tyd gaan staan

my hart is ‘n gravitasiekolk

waarin die laaste vonk verslaan

 

eeue later kraai die haan

wat kant en klaar verkondig:

die môrester flonker êrens

in hierdie verdomde donker

 

die nag is eindeloos lank

sonder sterre, sonder maan –

die gedig wat met hanekraai

ontstaan, skitter kortstondig

 

dan kom die son opgedaag:

die rooi vos wat die haan verjaag

 

Die karakter Kantekleer is een van die interessantste dierekarakters in die wêreldliteratuur. Hoewel die fabel van die haan Kantekleer en die Vos Reynaerde in enkele versamelings van Esopus se fabels voorkom, is dit in sy meer moderne vorm nie meer ʼn egte fabel nie. Daar is egter bespiegelinge dat die verhaal sy oorsprong het in die fabel van die vos en die kraai. Hoe oud die verhaal van Kantekleer en die vos is, weet ons nie presies nie, aangesien ons kan aanneem dat dit lank in die volksmond bestaan het, voordat dit neergeskryf is. Dit kom in verskeie Middeleeuse tekste voor, die bekendste waarskynlik die Reynaerde Vos en die Canterbury Tales, maar verskeie variante daarvan is ook sedert die elfde eeu in Frankryk opgeteken.

Die verhaal, soos dit in die Canterbury Tales staan, is gebaseer op die verhaal van Reynaerde Vos. Dit staan ook bekend as The Nun’s Priest’s Tale, waarin Chauntecleer (Kantekleer) die hoofkarakter is. Chauntecleer is ʼn pratende haan, baie selfversekerd. Een nag droom hy dat ʼn jakkals hom doodmaak. Terstond maak hy Pertelote, die gunsteling onder sy 7 henne, wakker en vertel die droom aan haar. Haar raad is dat hy hom nie aan die droom steur nie. Helaas, “a col-fox, ful of sly iniquitee” lê hom die volgende dag voor – dieselfde jakkals wat ook sy pa en ma gevang het. Die listige jakkals vra die haan om vir hom te kraai: net soos sy pa altyd gekraai het – met oë toe. So word Chauntecleer gevang. Die jakkals hardloop weg, met die haan in sy bek en die hele werf op sy hakke. Chauntecleer versoek hom om tog die werfdiere te vra om om te draai, aangesien hulle niks sal kan uitrig nie. Die jakkals, wat graag sy eie beuel wil blaas, maak sy bek oop om te praat, en Chauntecleer vlieg in ʼn boom en ontsnap.

Intussen het die verhaal nie sy bekoring verloor nie. Talle navertellings en variasies van die verhaal bestaan byvoorbeeld in Latyn, Oud-Frans en Middel-Engels. Die volgende kort aanhaling is ʼn vertaling van ʼn Middeleeuse Franse gedig, Reynard and the tit, waarin na die bogenoemde Kantekleer-verhaal verwys word:

Reynard is weeping beneath a hollow oak –

He lost his grip on Chantecler, it makes him want to choke,

His tummy grumbles like a bear; his lamenting is laconic:

“I’m defeated by a cockrel – what could be more moronic?”

 

Een van die bekendste herdigtings, is dié van John Dryden, The cock and the fox uit 1700. Dié gedig, wat effens uitbrei op Chaucer se verhaal, is, net soos die Canterbury Tales, in heroïese koeplette geskryf. Ek haal ʼn gedeelte daarvan aan:

  A yard she had with pales enclosed about,

  Some high, some low, and a dry ditch without.

  Within this homestead lived, without a peer

  For crowing loud, the noble Chanticleer;

  So hight her cock, whose singing did surpass

  The merry notes of organs at the mass.

  More certain was the crowing of the cock

  To number hours, than is an abbey-clock;

  And sooner than the matin-bell was rung,

  He clapp’d his wings upon his roost, and sung:

  For when degrees fifteen ascended right,

  By sure instinct he knew ’twas one at night.

  High was his comb, and coral-red withal,

  In dents embattled like a castle wall;

  His bill was raven-black, and shone like jet;

  Blue were his legs, and orient were his feet;

  White were his nails, like silver to behold,

  His body glittering like the burnish’d gold.

  This gentle cock, for solace of his life,

  Six misses had, besides his lawful wife.

  Scandal that spares no king, though ne’er so good,

  Says, they were all of his own flesh and blood,

  His sisters both by sire and mother’s side;

  And sure their likeness show’d them near allied.

  But make the worst, the monarch did no more,

  Than all the Ptolemys had done before:

  When incest is for interest of a nation,

  ‘Tis made no sin by holy dispensation.

  Some lines have been maintain’d by this alone,

  Which by their common ugliness are known.

 

Geschiedenis van den haan Kantekleer deur Marie Hildebrandt

ʼn Internetsoektog het my gelei na ʼn interessante publikasie uit 1910, Geschiedenis van den haan Kantekleer deur Marie Hildebrandt. Dit is ʼn geïllustreerde kinderboek, waarin verskeie avonture van Kantekleer beskryf word. Die inleiding herinner aan die sprokie van die lelike eendjie, want Kantekleer word deur ʼn eend uitgebroei wat dan verbaas is dat een van haar kuikens nie kan swem nie. Vinnig word dié misverstand egter uit die weg geruim, wanneer die werfhaan Kantekleer as haan eien. Wanneer Kantekleer homself op die werf bekendstel, sê hy onder andere:

‘Ik ben de groote Kantekleer!

Van alle hanen de beroemdste,

De allerwijste van ‘t geslacht,

Zal ik het tot een hoogte brengen,

Als vast door niemand is gedacht (…)

 

 

 

Die verhaal eindig dan met die strofe:

 

Doch, hoe men het Konijn ook eer,

De grootste held blijft Kantekleer:

Voor hem buigt alles met ontzag,

Heil hem, den Stichter van den Dag!

Den Stichter van het Gouden Licht –

Tot hem zij onze dank gericht!

 

Ironies eindig Hugo se gedig dan op die teenoorgestelde noot:

 

dan kom die son opgedaag:

die rooi vos wat die haan verjaag

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Marlies Taljard. Wie is Kantekleer?”

  1. Leendert Dekker :

    Die vos se naam is nie Reynaerde Vos nie; ook nie De vos Reynaerde nie.
    Hy heet in Middelnederlands en moderne Ndl.,
    met verskeie variasies in spelling, Reynaert/Reynaerd de vos of de vos Reynaert/d. Verafrikaans dus: Reinaart die Vos.
    Reynaerde is ‘n verboë vorm na die voorsetsel van. Enige ou of nuwe Ndl. teks sal alle twyfel verdryf. Ek noem dit omdat die elementêre fout hier so volop voorkom.

  •