Na ja, die jaar sit nou omtrent luilekker met sy rug teen die boom. En watter wonderlike jaar was dit nie vir die Afrikaanse digkuns gewees nie! Nie net het ons vernaamste digters belangrike toevoegings tot hul oeuvres gemaak nie, maar daar het ook sommer ‘n hele aantal debutante na vore gekom. (‘n Mens kan kwalik wag om te sien hoe dié bepaalde digterskappe nog vorentoe gaan ontwikkel …) Nietemin, 14 nuwe bundels deur gevestigde digters, plus 5 debute, 1 bloemlesing (Vi’ Adam Small) en twee formidabele vertalings (Miriam Van hee vertaal deur Daniel Hugo en Michel Houellebecq deur Catherine du Toit en haar span medewerkers) is inderdaad ‘n indrukwekkende oes vir die jaar 2012.
Verdermeer is Antjie Krog se groot jarigheid gevier en Adam Small het uiteindelik die erkenning begin kry wat hy verdien. Plus PEN Afrikaans is tot stand gebring … Wat ‘n jaar! Boonop het talle Afrikaanse digters oorsee gepronk met verskeie optredes. Hieronder tel Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Breyten Breytenbach, Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel.
Vreugde, oraloor.
En daarmee dan: waatlemoentyd!
Dankie aan al ons lesers en medewerkers. Ook vir die webblad was hierdie ‘n besonderse jaar gewees; weliswaar het die opgradering na ‘n nuwer program heelwat addisionele werk vir ons webmeester tot gevolg gehad, maar die voordele daaraan verbonde is eweneens iets wat ‘n mens opgewonde maak.
Geniet die feestyd wat op hande is en onthou: die lewe sonder poësie is kasaterwater en nie die moeite werd nie.
Ek sal iewers in die nuwe jaar weer terug wees met my bloggerasies.
As leestoegif plaas ek hieronder (onbeskaamd) my gunstelingvers van die jaar.
Dankie, dankie, dankie.
***
klein reistog
vir Louis
slapend reis ons die nag in
tot oggendvroeg weer uit
al slapende vertrek jy die dag in
sirkel ek van kamer tot kamer
besoek die ketel en die yskas
die skottelgoed en die wasmasjien
skud later die bed uit met die afdrukke
van gekreukelde heup en skouers
spat water teen uitgedroomde wimpers
sit laatmiddag tussen skilderye
landskappe wat die oog na binne keer
in ‘n ruimte waar musiek herhalend roep
skrik dan heldersiende wakker as ek
jou hand hoor vat aan die agterdeur
© marlise joubert – 30/8/12

