Sheila Cussons. Fotograaf: Onbekend
Die Digter as Karmeliet
Lank staan ons voor die sandsteen gebou
die diepte van dennebome − die wyse waarop hul staan
starend na die stormgesig van die hoë donker berg
onweer dryf ons na ’n lang gang en ons hoor
haar geroep soos dié van sterwende troepe
soos koning Agamemnon vanaf sy verweerde skip
die wind dra ons na die klooster
gekniel op die klipvloer, swart die Spaanse spieël
van haar bevrore blik. reën neem ons dieper na die misterie
na die stringe gebede in ’n sykapel. hoog bokant die koepel
van die winterstorm hoor ons die geroep in Afrikaans
sien sy nou, die karmeliet, weer die hoë ikoon?