Andries Bezuidenhout. Son, sekel en simbaal

Middelburg – dis nou die een in die Karoo, nie Mpumalanga of Zeeland nie – is G.A. Watermeyer se wêreld. Hy is in 1917 op die plaas Spitskop in die Witteberge gebore. Hy sal seker onthou word vir sy eerste digbundel, Sekel en simbaal, wat in 1948 gepubliseer is. D.J. Opperman het ʼn sterk hand in die samestelling van die bundel gehad. Die bundel handel oor die verhouding tussen stad (“simbaal”) en platteland (“sekel”). Opperman en Watermeyer sou later rusie kry, blykbaar weens literêre smaak en konvensie, maar dalk ook weens Watermeyer se kru nasionalisme. As kopieskrywer was Watermeyer verantwoordelik vir Castle Lager se “dou vir die dors”. Meer onlangs het Valiant Swart ʼn baie mooi toonsetting van sy gedig “Ballade van die dronkparty” saam met Ollie Viljoen opgeneem. Gaan kyk & luister gerus daarna op YouTube.

Ek het aan Watermeyer gedink met ʼn onlangse besoek aan Middelburg. Die foto’s hier onder probeer om iets van die verandering in lig daar weer te gee. Dalk is daar meer simbaal as sekel in die foto’s – ek vind die argitektuur van plattelandse bankgeboue besonder bekoorlik, soms meer bekoorlik as kerke.

Meer oor Watermeyer hier.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Son, sekel en simbaal”

  1. Leon Retief :

    Andries, as jy ooit in die omgewing van Wepener, my geboortedorp is, besoek dit gerus – geen besondere bankgeboue nie maar ek dink jy sal van die NG kerk en die stadsaal hou. Weet nie of Louw Wepener se standbeeld nog voor die stadsaal is nie, as skoolseun het ek en een van my maters soms snags na die beeld gesluip en ‘n onderbroek oor sy kop gaan trek – en die volgende dag die konsternasie in die gemeenskap geniet! En as jy in Wepener sou oornag, bring dit deur in die Lord Fraser gastehuis – weet nie of dit nog dieselfde gehalte is as toe ons laas daar was in 2001 met my pa se begrafnis nie maar dis ook ‘n mooi gebou. Google Lord Fraser of Lonsdale as jy meer oor die omie wil weet.

  2. Leon, ons was juis daar! Ek wou al lank ‘n draai in Wepener maak, maar het nog nooit regtig tyd daarvoor gehad nie. Dis mos so effe uit die pad as jy om Lesotho moet ry. Ons was gek oor die Lord Fraser – lieflike tuin en ons het middagete daar geëet. Ook ingesluip om te kyk hoe die kamers lyk en toe amper ons akkommodasie in Lady Grey laat vaar om in die Lord Fraser te kan oornag. Na middagete by die Lord Fraser het ons deur die dorp gery, juis om na die kerk en die stadsaal te kyk. Oor die stadsaal het ek ongelukkig slegte nuus. Ek dink daar was dalk ‘n brand. Die hele gebou is nie verwoes nie, maar die dak aan die een kant het heeltemal in duie gestort. Ek moes seker foto’s geneem het, maar die toestand van die gebou het my so ontstel dat ek daar en dan die pad dorp uit gevat het sonder om verder aandag aan argitektuur te skenk.

  3. Clinton V. du Plessis :

    Andries, dan het dieselfde Middelburg natuurlik ook Wopko Jemsma opgelewer; met sy anti-nasionalisme, vreemde “poetic justice.”

  4. Clinton, as ek dit geweet het, het ek eerder oor hom geskryf.

  5. Clinton V du Plessis :

    Ag, moet natuurlik Jensma, wees, jammer oor die tikfout

  6. Jis, die lig vertel elke keer ‘n ander storie! Hier is min kerke wat so prominent is as in ZA, en Europa. Hier lyk dit my is die fokus op Stadsraads kantore, of hotelle…

  •