Melanie Grobler. deur ruite van die reis, Human & Rousseau, 2013
Resensent: Tom Gouws
Eiesoortige eenderse andersheid
1.
Met die verskyning van Melanie Grobler se debuutbundel: Tye en swye in die lewe van Hester H het die indertydse boekredakteur Elfra Erasmus die volgende te sê gehad: “Dis moeilik om Melanie Grobler te peil. Nie oor sy vóórgee om akademies goed onderlê of ‘n ingewikkelde mens te wees nie, maar omdat sy in haar eie wêreld leef, ‘n wêreld afgesonder van mense … ‘n Mens sukkel om die meeste dinge wat sy sê aan die werklikheid van die alledaagse bestaan te knoop. Dit sweef rond op vlakke waar die deursnee mens net soms ‘n draai maak.”
‘n Onderhoud van Izak de Vries en Coenraad Walters met die digter, ná die verskyning van haar tweede bundel: Die waterbreker, begin só: “Ons daag by haar huis op en reg aan die begin waarsku Melanie dat sy, soos Breytenbach, spieëls skep vir die leser.” Later verduidelik sy egter die digbundel het organies uit drome ontvou en nie rasioneel nie, wat vir my moeilik rym met “spieëls skep vir die leser”, veral nie as sy die “boegvrou” in die bundel as ‘n alter ego wat op haar heup sit, voorhou nie. Die onderhoudvoerders lewer dan soos volg kommentaar: “Juis hierdie wil van haar om die skrywende ‘ek’ te projekteer op die vertellende instansie het ons ‘n paar keer vir haar laat sê dat haar gedigte nie sê wat sy sê nie. Maar Melanie is slim.” Later in die onderhoud maak hul dié sobere taksering: “Melanie is egter iemand wat baie anders is as dié boegvrou; sy is ‘n geweldig gelykmatige mens. Sy beskryf haarself as ‘n goeie ma, ‘n goeie vrou en ‘n goeie huisvrou.”
Grobler se onlangse onderhoud met Heilna du Plooy, oor haar nuutste bundel, skep dieselfde vervreemding. Heilna begin die onderhoud deur te vra hoe sy by die mooi bundeltitel uitgekom het, waarop Melanie summier vir Orhan Pamuk uit die digterlike knapsak haal: “Ek luister na die innerlike musiek, die misterie wat ek nie heeltemal verstaan nie en nie wil weet nie.” Die onderhoude begin hinderlik klink na ‘n baie bewustelike esoteriese aansitterigheid, ‘n gedwonge verliteratuurdheid, enigmaties opgeklits met vae mistieke ondertone, glád nie hoe ek ook Melanie Grobler die mens ken nie. Ek ken haar ook as ‘n geweldig gelykmatige mens. Waarom dan die poeheties-kakademiese front in haar onderhoude probeer voorhou? Haar digterskap is baie sterk en het geensins hierdie teoretiese steiers nodig nie.
Noodwendig begin die poëtiese voortvloeisels van hierdie geskryfde lewe voel na ‘n “pied-à-terre”, om die titel van ‘n bundelafdeling te gebruik, letterlik bloot ‘n voet op die grond. Binne hierdie vooropgestelde bestaanskontinuum van die digter is dit derhalwe moeilik vir die leser om ‘n aanhegtingspunt te kry in die strome van poëtiese malinge.
Voeg hierby JC Kannemeyer se galbrakery oor die bekroning van Tye en swye van Hester H, en Johann de Lange wat skunnig gesê het dis die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n bloemlesing bekroon is, dan is die konteks waarbinne Grobler se digkuns ingebed is, uiters problematies. As haar tweede bundel deur die uitgewers onttrek word as gevolg van plagiaat, en sy die Akademieprys wat sy vir dié bundel verwerf het, teruggee, en hul geldprys terugbetaal, en deurwinterde literatore aan ‘n skerpsinnige studentedigter moet verduidelik waarom hulle nie die kreatiewe oorskrywings raakgelees het nie, dan is die skryf van ‘n resensie oor ‘n nuutverskene bundel van Melanie Grobler tegelyk dapper én dom. Veral as die allereerste resensie van Zandra Bezuidenhout in Rapport galant terloops opmerk: “Net jammer dat Dahlia Ravikovitch se gedig ‘A dress of fire’ (The third book. Tel Aviv, 1969), waarvan enkele reëls in Afrikaans vertaal en in Grobler se ‘Medea se rok van vuur’ opgeneem is, nie in die lys van erkennings verskyn nie.” En dat Crito, die resensieb(l)ogger, vriendelik meen die uitgewer moet dalk tog ‘n nota ter verduideliking oor die kontensieuse saak uitstuur. Wat, wat moet sê?
Verstaan my posisie duidelik – ek, en ook haar uitgewer toe, Petra Müller, het inderdaad verstaan wat met Melanie se “oorname” van die gedig van Anne Michaels gebeur het. In die onderhoud wat Louis Esterhuizen met my gevoer het oor my digbundel Stigmata het ek die volgende gesê: “Die hele herrie ‘n paar jaar gelede rondom Melanie Grobler se sogenaamde plagiaat van ‘n Anne Michaels-gedig het aanleiding gegee tot die herskryf van albei gedigte, in ‘n poging om die onderbewustelike teksproduksie van bewustelik skryf te verreken. Is die wonde wat op my tekslyf uitslaan my eie of perdalks dié van iemand anders? Hierdie insypeling van ander tekste in my eie tekste is so belangrik dat ek hierdie gedig as credogedig vooropgestel het. Alle gedigte, glo ek, is ten diepste net ‘n ‘verleë vertaling’.” Die ironie is dat as Grobler die gedig van Michaels erken het as bronteks (wat sy helaas nie moes nalaat nie), sou dit bes moontlik aangeprys gewees het as ‘n uiters knap herskrywing in Afrikaans!
Binne hierdie kompleksiteite sit die resensent met Melanie Grobler se nuutste digbundel ter tafel. So help my God.
2.
Met die lees en herlees van Melanie Grobler se derde digbundel, met die mooi melodiese titel: deur ruite van die reis, het een teks sigself heeltyd met die lees opgedwing: Breyten Breytenbach se Memory of Snow and of Dust. Nie net omdat ‘geheue’, ‘sneeu’ en ‘grond’ sterk kodes in die teks is nie, maar omdat die ganse toonaard, verwysingswêreld, beeldvorming, en vele meer, dié teks weerspieël. In die motto-stemvurk voorin is hierdie prosadig met die titel: ‘A Kind of Telling’: “Memory is a strange thing all by itself. Through which words, incidents, people will move like snow or like dust. Words giving surface to memory in the present, or remembered as the fall-out of past writers; incidents modifying the meandering remembrances of memory people …”
Grobler se poësie-oeuvre is duidelik ‘n baie bepaalde vooropgestelde “kind of telling” – dit word ‘n verdigte reisverhaal. Die medium waardeur/waarmee beweeg word, is hoofsaaklik water, met al die simboliese assosiasies: onderbewuste, vroulik, argetipies, primordiaal, skeppend. Soos die werk van Masaru Emoto aangetoon het, het water ‘n geheue, en bevat en kodeer dit alle inligitng, indrukke, en so meer. Moedswillig kan mens sê: óók alle tekste. Soos Hendrik Marsman in Tempel en Kruis dit onvergeetlik treffend verwoord het: “wie schrijft, schriv’ in den geest van deze zee / of schrijve niet”. Die digter is dikwels dan die “waterbreker” wat met ‘n beurende boeg deur die vaarwaters moet klief. Die indrukke/oomblikke/insigte/uitsigte/gedigte is net ná te lees in die water wat vervlugtend verbyvloei, vir digter en leser. Soos dit in die gedig: ‘Lhote se ekspedisie na die Aouanrhet-massief (1956)’ uitgespel word: “bly iets omvattends / in die onbewuste blom”, maar desnieteenstaande is dit wél die geval dat “dinge verdring word en slegs sporadies / na die oppervlak kom” (‘Lucy Haarhoff van Rustenburg, Transvaal’).
Daarom word die beeld van ‘ruite’ so sterk in die titel van die bundel vooropgestel. ‘n Ruit is nie net ‘n glasplaat vir ‘n venster, met ander woorde vensterglas (en dus duidend op uitsig, deursigtigheid en metafories gesproke: perspektiewe) nie, maar onder andere dui dit ook op die meetkundige figuur van die rombus of parallelogram. Laasgenoemde gebruik daarvan in die bundeltitel belig ‘n baie spesifieke filosofie ten opsigte van die reis, naamlik dat binne die fisikawet van die parallelogram van kragte daar metafisiese transendensie kan plaasvind. (Sien die werk van Marc Lange in hierdie verband, sy boek An Introduction to the Philosophy of Physics: Locality, Fields, Energy, and Mass, en veral sy artikel ‘A Tale of Two Vectors’ in dialectica Vol. 63, N° 4 (2009), pp. 397–431. Ook die wyer navorsing van Alexander Bird in sy boek Nature’s Metaphysics.)
Grobler se digbundel vra ‘n meevaart waar die leser deur een te word met die vektoriese beweging van die reis/gedig ‘n transendensie tot ‘n ander, metafisiese realiteit kan ervaar. Daardie werklikheid is fluïed, in die wydste sin bedoel. Daarom wemel die bundel van bewegende figure: naglopers, reisigers, dwalers, sandlopers, daglopers, strandlopers, sneeulopers, watertrappers, ondergrondse lopers, boodskappers. En noodwendig wemel dit ook van “oerdrome” wat toegang tot ons realiteit probeer vind, stemme wat deur die “voorvaderlike begraafplaas” sweef, “weerligvoëls (wat) my na die donker bronne / onder die denke, na gate in die grond / na grotte vol swerms geheime” neem. Hierdie en ander sjamane wat die reistransendensie bewerkstellig, word bygehaal en word meesprekend; daar word lang inkantasies uit “die boek van sjamaans” vertaal en verdig. Die man tussen die riete van agterdog (uit ‘n gelyknamige gedig) word die prototipe van dié tipe figuur:
hy sing hoog, sing laag
sing soos een wat van vriende afskeid neem
ou man wat dun en regop tussen rugwerwels
van die middelwater sink, verder insink
die digter met die troebel oë, ’n kus waarop
woorde dryf
As mens die woordjie “middelwater” raaklees, roep dit onmiddellik (benewens Tolkien, uiteraard) ook die tweede afdeling van die digbundel Die waterbreker op. Dan besef die leser dat Melanie Grobler jou sedert haar debuutbundel meeneem op hierdie reis binne “die groot kosmiese hart”. Daarom word in die gedig ‘lemoenbloeisels’ die volgende oor hierdie ars poëtikale proses gesê: “reeds met die afsluiting van hierdie gedig begin die volgende siklus”. In Dawid, die Psalmdigter, se formulering: Die een gedig stort sy boodskap vir die volgende uit, die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie — onhoorbaar is hulle stem. Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. (Psalm.19:2-4, so effentjies aangepas).
Dat die kunsteoretiese bewussyn deurgaans in die bundel te bespeur is, is ‘n noodwendigheid, want die ganse taalaanbod, maar kennelik ook “my denke is deurdrenk” met taal as singewingsproses (sien die gedig ‘die sampioen-velada’). “In al hierdie dinge lê diepe sin verborge,” word dit uitgespel in ‘Death Valley: woestynlandskap’. Hierdie ars poëtikale sleutels vir die reis word deurgaans vooropgestel. Enkele van dié raak segginge ter illustrasie:
- · “gedigte groei uit die stof en bloed en sneeu en berigte” (p. 8)
- · “die gedig is die geskarrel / van hoenders in die hok, die plek bewerk deur erdwurms /wat ons leer om die toekoms agteruit in te gaan” (p. 8)
- · “deur die fluitjiesriet om opdrifsel woorde te versamel” (p. 15)
- · “lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte / oorgeneem word deur die ritseling van die siel / … / Is dít alleenheid / hierdie oopbloei van gedagtes? (p. 16)
- · “as die ewigheid van sand ontvou, lei die ekspedisie / my na die oase van die gedig” (p. 30).
- · “soos die woestyn is die gedig onsterflik” (p. 37)
- · “word ek die gekwelde stuk skryfpapier” (p. 61)
- · “in kruiedrome vind sy sleutels vir haar gedigte” (p. 64)
- · “Ek is vrou Boek onder die water, sê” (p. 65)
- · “’n versameling wit beendere / met ander woorde, die gedig” (p.77)
- · “uit die ysgrond kom die stilte // van ‘n gedig” (p. 82)
Hieraan alleen kan ‘n mens ‘n studie wy.
Binne die “dieptes van die water” (‘Ha Long-baai’) wat “’n prereflektiewe tyd ook prehistories” (‘kindertuin’) is, moet daar egter vasmeerplekke wees (ook ter wille van die leser!). Om hierdie rede word daar deurgaans gepraat van ‘n ruimte waarbinne digter en leser tydelik kan skuilhou. Dit word op verskeie maniere gemetaforiseer, waarvan die “skiphuis” (p. 13) miskien die hiperteken is. Die soeke na ander tydelike stanings, “ons buffer teen die niet” (p. 28), “binnenshuis” (p. 34), word ‘n boeiende speurtog vir die leser – hy moet ‘n “pied-à-terre” vind, en vind dit in oorlogskepe, strandhuis, seeskulp, ark, grot, heuningsel, borskas, kloostersel, eiland, skildery, binnekamer, ’n silwerjakkelsjas van sneeu, en andere. In die gedig ‘agt variasies op die tema van die Fimbulvetr’ word dit soos volg gestel:
om te reis moet jy jou huis verlaat en terugkeer
anders is jy ’n ontheemde, ’n banneling, ’n qivittoq
“Qivittoq is a person who have had a harsh experience among society, then decides to abandon community and live solitary in the wilderness alone.” Sien die fassinerende boek van Mâliâraq Vebœk: The Southernmost people of Greenland – dialects and memories. Hierdie “kosmiese alleenheid”, eensaamheid, verwerping en isolasie is ‘n belangrike tema in die hele bundel, selfs soms irriterend geromantiseerd. Dit ten spyte daarvan dat die digterlike spreker dit probeer teenspreek in die gedig ‘aardling’:
eensaamheid? ek distansieer myself
van dié menslike staat – stel ook nie belang
om die grenspos van leegheid te beman nie
of om die verwikkeldhede van poëtiese taal
te bemeester
Wat Martinus Nijhoff gesê het, is ook van Melanie Grobler waar: “Dichters liegen de waarheid”.
Die gedoemde realiteit waarbinne die digterlike spreker in sy “dromende denke” (‘n toepaslike begrip van J.H. Leopold) gedoem word om in te dwaal, word in die gedig ‘seeskulp’ raak geformuleer:
nêrens is daar ’n vaste huis of tuiste. die lewe gaan heen
met veranderinge. ook die hartklop van die seehuis verander
in die leë jare. die nag praat al hoe sagter.
Die poësie word derhalwe die enigste dúúr, al word dit mettertyd ‘n lamentasie, ‘n dodemis, ‘n vibrasie, die gekrys van ‘n kraai, mompelings, preverbale storings, dreunsange, sugte, ‘n roep, “bloot ’n herhaling / van ander klanke, ’n eggo wat gedurig / deur die heelal weergalm” (p. 77).
Daar is vele ander fasette van die bundel wat ek nie volledig kan aanraak nie, onder andere die karteringskode. Dis belangrik in die lig van die feit dat Melanie Grobler se MA in kunsgeskiedenis getiteld was: Kalligrafie op geografie, en daar dwarsdeur sprake is hiervan. Sien byvoorbeeld die belangrike gedigte ‘die karteerders’ en ‘die blinde kartograaf’. In ‘Kaartwerk’ word byvoorbeeld gesê:
karteerders wat menslike teerheid omtoor
tot dinge onder die klip, onder die water
‘n Ander aspek van die bundel is die volgehoue gesprek met Breyten Breytenbach se poësie, prosa en visuele kuns. En dis te verstane. Sy het immers Breyten Breytenbach se kuns gedokumenteer: ongeveer een duisend skilderye, tekeninge en installasies is in verskeie wêreldstede gefotografeer en ook ‘n proefskrif oor sy werk geskryf: Against Fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy. Hierdie “against fixity” vat die kern van Grobler se werk besonder raak saam. Die klank van die vroeë Breytenbach is deurgaans onmiskenbaar daar, selfs in onverbloemde titelbenoemings soos ‘die wond van die gedig’. Die hele idee van die wisseling tussen binne- en buitelandskappe is ‘n Breytenbach-waarmerk wat Grobler gemaklik opklad.
Op die keper beskou – ten spyte van ‘n handvol flouerige en gimmickerige gedigte, is hierdie ‘n merkwaardige bundel wat met haar eiesoortige eenderse andersheid die Afrikaanse poësie onteenseglik verryk. Melanie Grobler het Loftus Marais se debuutbundeltitel ernstig opgeneem: Staan in die algemeen nader aan vensters, en ‘n ryk derde bundel tot stand gebring. Sy kyk weliswaar deur ‘n ander ruit as Loftus én Jorik, maar die Opperman-versreëls is ‘n raak tematiese opsomming van wat die bundel wil bied:
Hy weet met die weerkaatsings in die ruit
vlakke van beelde skuif deur alles heen
en niks is in sy tyd en stof gesluit
maar alles stroom deur grens en eeu aaneen
*
Resensie geborg deur:
‘n Fassinerende resensie van Tom Gouws. Propvol oorspronklike insigte wat hy hopelik nog veel verder sal neem indien dit nie reeds die geval is nie. En met baie raak formulerings! Die twee wat my bybly is die beskrywing van Melanie Grobler se digterskap (seker van alle digterskap) as die vergestalting van ‘n “eiesoortige eenderse andersheid”, en dat die gedig (iedere gedig) ‘n “verleë vertaling” sou wees. Mens sou kon byvoeg: dat dit die vertaling van leegheid is, die taal-maak van verlede verglysels, leedwesende ooglede, oorledenheid, ledige ellendiges en engelllinge se ordentlikheid van taal en tyding geledig.