Wislawa Szymborska – vert. deur Zandra Bezuidenhout & Henning Pieterse
AANTEKENING
Die lewe – die enigste manier
om oortrek te raak met blaartjies,
na asem te snak op die sand,
jou vlerke te sprei
‘n hond te wees,
of oor sy warm pels te streel;
pyn te onderskei
van alles wat dit nie is nie;
jouself na ‘n gebeurtenis te skik,
jou te verwonder aan ‘n vergesig,
te waak teen klein vergissings.
‘n Uitsonderlike kans
om vir ‘n oomblik te onthou
waaroor gepraat is
by die uitdoof van ‘n lamp;
en om jou minstens een keer
teen ‘n klip te stamp,
sopnat te reën,
sleutels te soek in gras;
met die oog ‘n vonkie in die wind te volg;
en aljimmers iets belangriks
nie te weet nie.
(Vert. deur Zandra Bezuidenhout, via ‘n Nederlandse vertaling uit die Pools deur Gerard Rasch in Het moment (2003).
OOR DIE DOOD, SONDER OORDRYWING
Hy het geen sin vir humor nie;
weet niks van sterre, brûe,
weefwerk, mynbou, landerye,
die bou van skepe of die bak van terte nie.
As ons oor die dag van môre praat,
kom hy met ‘n laaste
en misplaaste woord.
Sy hande ken nie eens die kunsies
van sy eie vak nie:
grafte grawe,
kiste timmer,
opruim waar hy doenig was.
Hy wy hom voltyds aan die dood,
maar altyd half onhandig,
sonder sisteem of plan.
Asof hy elke keer deur ons moet leer.
Al wen hy meermale die stryd,
kos dit hom talle nederlae,
mislukte pogings
en nuwe aanslae!
Soms is sy kragte selfs te power
om in die niet ‘n vlieg te vang.
En in die wedloop van die kruipers
steek menige ruspe hom verby.
Alle knolle en peule,
voelspriete, lugweë, vinne,
paringsgewaad en winterpels
verklap sy agterstand
en halwe werk.
Kwade bedoelings skiet te kort
en selfs ons hulp in oorlog en geweld
bly voorlopig onvoldoende.
In elke dooier klop ‘n hart.
Babaskelette word gevorm.
Sade stoot hul eerste dubbelblaartjies uit,
groei soms tot hoë bome aan die horison.
Wie beweer dat hy almagtig is,
lewer self die lewende bewys:
sy onmag spreek vanself.
Daar bestaan geen lewe wat nooit
onsterflik was nie,
al het dit maar ‘n oomblik lank geduur.
Die dood
kom altyd net daardie een oomblik te laat.
Vergeefs ruk hy aan die knop
van die onsigbare deur.
Wat iemand agterlaat,
kan hy nooit terugneem nie.
De mensen op de brug. 1986
[Hervertaal deur Zandra Bezuidenhout aan die hand van Gerard Rasch se Nederlandse vertaling uit die Pools.]
Foto van 11 September
Hulle het van die vlammende verdiepings gespring –
een, twee, en toe nog ‘n paar,
hoër, laer.
Die foto het hulle lewend verstil
en hou hulle nou vas
bokant die aarde, op weg na die aarde.
Elkeen is nog volledig,
met `n eie gesig
en die bloed goed verberg.
Daar is genoeg tyd
vir hare om los te raak,
vir sleutels en munte
om uit sakke te val.
Hulle is nog binne die lug se bereik
binne die omvang van plekke
wat pas oopgegaan het.
Ek kan vir hulle net twee dinge doen –
hierdie vlug beskryf
en die laaste reël ongeskrewe laat.
[Uit die Pools in Engels vertaal deur Clare Cavanagh and Stanislaw Baranczak.
In Afrikaans hervertaal deur Zandra Bezuidenhout. 16 Sept. 2010.]
Wislawa Szymborska, “Photograph from September 11”. Monologue of a Dog. (Houghton Mifflin Harcourt, 2005)
Geen titel benodig nie
Dit het gebeur: ek sit onder ’n boom
langs ’n rivier
op ’n sonnige oggend.
Dis ’n onbenullige gebeurtenis
wat nie opgeteken sal word in die geskiedenis nie.
Dis nie soos oorloë of verdrae
waarvan oorsake noukeurig ondersoek word,
of merkwaardige tirannemoorde nie.
En tog sit ek langs hierdie rivier, dis ’n feit.
En omdat ek hier is,
moet ek van êrens af gekom het,
en voor dit
moet ek in vele plekke verskyn het,
net soos die oorwinnaars van koninkryke
voordat hulle uitgevaar het.
Selfs ’n vlietende oomblik het sy vrugbare verlede,
sy Vrydag voor Saterdag,
sy Mei voor Junie.
Sy horisonne is net so werklik
as dié wat ’n maarskalk se verkyker mag bespied.
Hierdie boom is ’n populier met oeroue wortels.
Die rivier is die Raba; dit het nie gister ontspring nie.
Die pad deur die ruigte
is nie verlede week gebaan nie.
Die wind moes die wolke eers hierheen waai
voordat hy hulle kon wegwaai.
En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie,
is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie.
Dit is net so begrond, net so noukeurig
as toe nomade dit oorwin het.
Sameswerings is nie al wat in stilte gehul word nie.
Optogte van redes sleep nie slegs agter kronings aan nie.
Herdenkings van revolusies mag aanrol,
maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.
Die tapisserie van omstandigheid is verwikkeld en dig.
Die mier se soom in die gras.
Die gras gestik in die grond.
Die patroon van ’n golf geborduur deur ’n tak.
So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.
Bokant my fladder ’n wit skoenlapper deur die lug
met vlerke wat heeltemal syne is,
en die skaduwee wat deur my hande skeer
is slegs dit, niemand anders s’n nie, net syne.
Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie meer so seker
dat wat belangrik is meer belangrik is as die onbelangrike nie.
[Vertaal deur Henning Pieterse]
