Wicus Luwes. Dis net ‘n sprong na links

Die klavier is gemaak vir twee hande. Die linkerhand speel akkoorde en die regterhand speel die wysie. As jy mense in sang begelei, speel die linkerhand die ritme en akkoorde en die regterhand speel die wysie. Die linkerhand kry dus die repeterende of vervelige take om te verrig.

Die linkerhand word normaalweg met kreatiwiteit ge-assosieer, terwyl die regterhand die syferwerk of meet-en-pas werk doen. Die linkerhand word volgens my (on)betroubare bronne hoofsaaklik deur die regterbrein beheer. Om die onbetroubare bronne se opinies verder te voer: Party mense sê die musiek ontstaan in jou regter-brein en woorde in jou linker-brein. Dit is dus interessant dat die linkerhand ‘n nie-kreatiewe taak verrig met klavier-spel. Dis amper soos om die argitek die bouwerk te laat doen, terwyl die bouer die planne teken. Dit sal alles baie prakties wees, maar verbeelding sal ontbreek. Die ander sy van die toonleer is weer dat dit miskien goed is dat die regterhand gebruik word om die kreatiewe wysie te kommunikeer. Die dromer bou dalk nie reguit mure nie en kreatiwiteit sonder nugtere uitvoering daarvan kan maak dat konteks en nuttigheid verlore raak in die bouproses. Dit is egter nie maklik om ‘n oplossing vir die verdeling van take te kry nie.

Een poging tot ‘n oplossing is die linkshandige klavier van Christopher Seed. Dit is basies ‘n spieëlbeeld van ‘n gewone klavier, met die lae note aan die regterkant en die hoë note aan die linkerkant. Kitaar-spelers ruil soms net die snare om dit links-handig te maak, maar linkshandige kitare bestaan wel.  Die franse horing is ‘n linkshandige instrument, terwyl die viool slegs regshandig bespeel word.

Die moderne copy-en-paste internet artikels, wil ons laat glo dat Beethoven, Rachmaninoff, Ravel, CPE Bach, Prokofiev, Paganini, Schumann en Mozart linkshandig was, maar daar is ook baie bewyse daarteen. In ‘n emosionele onderhoud vertel Krist Novoselic, van die Rock-groep Nirvana, van ‘n keer toe hy ‘n linkshandige kitaar in ‘n tweedehandse winkel gesien het. Voor Kurt Cobain se dood sou hy die kitaar opgeraap het as geskenk vir Kurt, want dit was ‘n sekere manier om ‘n paar nuwe liedjies vir die groep te ontsluit. Hy onthou toe net weer dat Kurt dood is en dat dit niks gaan help om die kitaar te koop nie.

George Bernard Shaw het gesê: Let not the right side of your brain know what the left side doeth.

Ek sien onlangs beeldmateriaal oor ‘n hawelose man wat klavier speel by ‘n kerk se sopkombuis. Ek wonder hoe die musiek die hawelose man weer na homself laat kyk het en hoe die musiek wat hy gespeel het die ander haweloses na hom laat kyk het. Die kommunikasie wat die twee hande op die klavier uitgestuur het, het vertel van ‘n tyd toe hy nie haweloos was nie. Dit het die musikant teruggeneem na ‘n tyd toe hy nie slegs oorlewing op die brein gehad het nie. ‘n Bekende gedeelte uit die Bergpredikasie in Matteus 6 lui: ‘Die linkerhand mag nie weet wat die regterhand doen nie.’ Die hawelose man se kreatiewe sy, is vir wie weet hoe lank deur die repeterende oorlewings-drang oorheers. Slegs vir ‘n uur of twee het die kommunikasie op ‘n ander manier plaasgevind. ‘n Mens wonder watter van die sop of klavier-spel hom die meeste gevul het.

Miskien lê nog ‘n antwoord daarin om kommunikasie tussen die brein-lobbe te verbeter, al sou Bernard Shaw dalk nie saamstem nie. ‘n Mens kan steeds fokus op die dinge wat jy die beste doen, maar as jy die take van die verskillende lobbe kombineer ontsluit jy dalk iets buitengewoons. ‘n Soort twee vir die prys van een winskoop. As ek dit op sport kan toepas: Dis miskien goed om jou geld op een bokser te plaas as hy homself al bewys het. Onthou egter dat baie sporte die spanne halftyd kante laat ruil en dan het die span wat die wind van agter gehad het, die wind van voor.

Die werklike sprong na die anderkant vind (vir my) plaas wanneer die een hand die ander hand se taak begin verrig – Om iets te doen wat jy gewoonlik as buite jou raamwerk beskou. Een van die bekendste linkshandige kitaar-spelers, Jimi Hendrix, het al sy ander take regs gedoen. Rachmaninoff het in opdrag van ‘n pianis wat sy regterarm verloor het, ‘n werk gekomponeer waar die linkerhand die wysie speel. Miskien het die opdrag om ‘n linkshandige stuk te komponeer hom anders laat dink oor die linkerhand daarna. Miskien was Jimi Hendrix se werklike talent nie sy kitaarspel nie, maar eintlik die kommunikasie wat hy teweeggebring het tussen die tradisioneel links- en regshandige take.

Sonder om oordrewe soet- of suursappig te klink, bring dit my terug na die oorsprong van musiek in jou regter-brein en die oorsprong van woorde aan die linkerkant. Die bymekaarkom van woorde by ‘n wysie kan dus gesien word as ‘n vorm van kommunikasie tussen die brein-lobbe. Of dit nou woorde is wat wysies kry of wysies wat woorde kry is nie belangrik nie – die kommunikasie het klaar plaasgevind.  Die kuns van woorde het die kuns van musiek halfpad ontmoet. Daar is dan party verse wat ‘n wysie laat speel in die agtergrond as gevolg van ‘n gedagte wat iewers vasgesteek het. Louis van Rensburg en Chris Chameleon het dit onderskydelik met die verse van Boerneef en Ingrid Jonker vir my en miskien vir ‘n generasie gedoen.

Die klavier is gemaak vir twee hande.

‘Voshaarnooi’ uit die Ballade vir ’n Enkeling-klankbaan (soos wat Louis van Rensburg dit saamgestel het uit Boerneef se gedigte)

Bantam hom so en flennie die snare

Ek is verlief op die kind

Die son slaan vuur uit die sweetvoshare

Ek is verlief op die kind

Hoor jy meisie met die sweetvoshare

verstaan jy die praat van die rankie snare

Ek is verlief op die kind

Lappa lei vir Bella koud, in Waboomskloof se geel bossies

Lappa maak vir Bella stout,

Met Hanepootse natrossies

Donkerrooi die wingerdblaar en warmrooi die mond van haar

My hart blom wit vir die voshaarnooi

Pluk heide van die rooiste rooi

Vir hierdie einste voshaarnooi

Bellabint my meisiekind, dis hartblom wit, die heiderooi

Bellabint my meisiekind, dis hartblom wit, die heiderooi

Vir jou my voshaar meisiekind

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wicus Luwes. Dis net ‘n sprong na links”

  1. Andre Dafel :

    Hi Wicus

    Uitstekended blog! Ek het dit geniet!
    Die klavier lesse kom nog goed aan en ek is so bly dat ek uiteindelik musiek op my ouderdom gevind het.

    Ek onthou nog goed op jou troue hoe jy op jou kitaar Leonard Cohen se ‘Dance me to the end of Love’ gesing en gespeel het. Ek hoop jy speel ook nog gereeld. Miskien speel ons eendag ń duet vir my sister. Ek sal begely en jy kan die wysie speel. Tussen die twee van ons sal ons ten minste twee linker hand hê.

    Groete,
    Andre

  •