Garden Village – Somerset-Wes
Gewond aan tak en wortel
hulle bloed in die stof –
baarmoederoffers
opgerol in daggazolle:
‘n gerookte generasie
skoolsku sit hulle op die sypaadjies
in hulle tuin van Eden –
uitsigloos,
halfpad dood groei ‘n handjievol
nog moeisaam voort
Is ons wat arbei in die tuin
se skoffels dan so stomp
dat onkruid steeds die oorhand kry?
