Sutherland
Ons volg die spore van ‘n klipwerker
na waar die sterre in die skynheil snags
die onbevlekte gronde lumineer
met elegieë vir die heemloses
wat iewers in die nalewe bly sweef
en oor die vlaktes van Gondwanaland
in ligsin die komete projekteer
teen blouswart koepels onderweg.
Ons reik met uitgestrekte hande na
die klipwerker waar hy kontoerlyne
by Sneeukrans uit die rotsformasies van
die Roggeveld se skadukimme kap
en soos ‘n Derwisj in die wentelmaan
se slaaptyd halwe kringe konstelleer
terwyl ‘n jakkals in die verte roep.
Die dorpsdam digby Sutherland slaap stil
en roerloos in die middernag se skoot
terwyl ‘n kers nokturnes in die niet
vanuit ‘n huis in Jubilee-straat straal.
Die klipwerker se laaste woorde sterf
en hang soos wasem oor die werwelland.

Van hierdie gedig het ek baie gehou, Mellet. Mooi so!
Die sterre skyn helder deur die teleskoop van hierdie gedig. Tydlose poësie – net soos die groot digter s’n aan wie Sutherland geboorte gegee het.