Swartruggens
waar de la Rey gekanonvuur het
loop ek
hy vorstend galop het
sit ek
sy hart trompetter het
bloei ek
kerk verberg tussen loopgrawe
met prulle vul van munisipale
vandalisme op eregrafte
staalkruise vir ponde geplunder
selfs die ingelse monumente nie ingeburger
dan kom die reën
elders my wanstaltige gedagte
velde vol skilderye groen
maak bees en skaap dankbaar kraam
kleine kalf mooie lam
en skitterend op die berg se kruin
staan wit die kerk in haar trourok van kant
ek is bly oor my stukkie land
waar hy gedut het
rus ek
hy getwyfel het
jubel ek
hy gebid het
bid ook ek
