Nieu-Bethesda 2020
Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,
hulle gekrys verdring deur bore se ratatat-tat, deur
vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.
ʼn Meermin se uitgestrekte handjies verweer
in die suurreën, haar bierbottel-oë bars
rapat; rapat breek die watertafel. Sien is glo –
protesplakkate tolbos soos tuimelende orakels
oor fracking in die Oos-Karoo.
Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.
Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.
Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas
bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.
Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile
glip ʼn gladde tweekopakkedis. Sien is glo –
protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes
oor fracking in die Oos-Karoo.
In die broeines hoog teen Kompasberg lê ʼn witkruisarend
haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

Baie dankie, Charles!
HOOR HOOR! Baie bly jy het prys gewen. Die is ‘n besonderse gedig!
Baie dankie, Uysie, mag hulle wat die mag het ook hieroor nadink!
Dankie, Susan! Geluk ook met jou pragtige vers – ek het die liriese kwaliteit daarvan besonder geniet.
Baie dankie, Lettie Murray – ek hoop jy kan die dorpie binnekort besoek!
René – jy maak die hele prentjie mooi oop, vir ons wie nog nie daar was nie – en bied jy jou vers so interessant, en kragtig bewoord! Groete
Ek waardeer regtig hierdie kommentare, baie dankie!
Die hele atmosfeer van Nieu-Bethesda puik vasgevat; maar met die onheilspellende moontlike uitwerking van die beoogde ‘fracking’. Dis ‘n besonderse plek en ‘n uitstekende beeldryke gedig. Dit gaan mens nog lank laat dink!
Uitstekende gedig, Rene! Skokkend, apokalipties, beeldend. Baie geluk!
Baie dankie, Carina!
Wat ‘n skokmooi gedig!Geluk,Rene.
Vertaal dit/laat dit asb dadelik vertaal in zoeloe xhosa en engels…dit mag dalk soos
ferrus se baartman-gedig d parlementsitters tot ander insigte bring…
Rillend. Baie geslaagde visie van ‘n toekoms uitbeheer.
Het dit baie geniet.
Uitstekende vers. Pragtige woordspeling en beeldgebruik. “Fracking” skep ekstra dimensie. Maalglas, Malgas en die meermin, miss Helen. Lieflik.
‘n Lieflike dorpie wat ek ken…mag dit nooit tot hiertoe kom nie. Goeie ‘waarskuwende’ of futuristiese vers. Laat mens nadink.