Standerton
Standplaas van A.H. Stander
– “Grootverlangen” –
gee die dorp sy naam.
ʼn Mikrokosmos van ʼn land;
hier is Jan Smuts ontsetel;
ʼn skoolleuse: ‘Sapientia Vincit’.
In die Sakhile townships
heers opstand en teëpraat;
ʼn Boereoorlog-monument
geplunder deur insurgente
en klokslag élke sewejaar
oorstroom die walle van die Vaal.
Ál die stryd ten spyt,
is daar geen plek
op aarde
waar stilte só
kan wegspoel in stil-wees,
geen dorp
waar die son in die Hoë-
veld so láág
kan sak.
Dorp van ooglopende konflik:
anderkant jou grense
onthou ek opgaarwaters,
kleurvolle kosmos versny
met die geel van koring amper
nes in ʼn Van Gogh-skildery.
