Valsrivier deur Kroonstad
Om en deur oerwater deur drif (van rivier)
ontstaan bestaan verloop lewe ook hier
Nie die patriargale piëteit van Sarel Cilliers
nie on-vals eerwaarde water van stroom-op Lindley
nie annale kenbaar vasgepen deur tannie Dot
nie haar landelik-liriese odes aan jou vreugdes
deur haar en Pennie ook vasgevang in water!verf
nie Antjie se onthutsend-roerende rooigras-godsdiens
nie haar neither nugter nor verleë rioolplaas-rede
nie Max se paradoksale ontnugterde optimisme nie
kon deesdae se drifsels mensedrek à la Esegiël
van jou weer
Nie meer baljaar damgangers in bote en op ski’s
nie meer kampeer san en jan wieseman elke jaareind
in Kroonpark en vaar europees-idillies op ‘n rivierboot
(how green was my valley)
nie meer was armes witdorp-verby wasgoed in jou
kan beeste stroom-af op jou walle wei en suip nie.
Dis steeds uitheemse wilgers wat lentegroen stoot
weerskant kuile want dis vir twee jaar al so droog
en die waters wat verby is? Deur onverstoorbare onvermoë
verlore verloop om rou riool weg te spoel
tot volgende keer
So wat’s anders in ons landers? Die aarde vol bevuil
vervals die mens juis die w/Water wat hom lewe gee
word water en werpsel na gelang van sofistikasie bestuur
(wel is leweloos-onvrugbare water van Jerigo
deur dubbelgesalfde Elisa met sout geheilig ) –
elkedagse drinkers uit die valsrivier voel aan:
daar’s ‘n roering in die water, die Gesalfde is aan kom
sy Elias en Elisas solank die sout-ontsmetting
ook soos Petrus gesif tot goeie saad en deur gebed bewaar
gesaai om te sterf aan self sodat die oes kan kom
en dan kom Hy weer
die Rivier van waarheid en lewe
kom besit sy kroon-stad