Wicus Luwes. Die Leuen: Gebaseer op ‘n onwaar verhaal

Hierbo: A Fisherman’s Story deur Bernard Cheese

 

Die pad na die waarheid en die pad na die leuen loop langs mekaar. Dit kruis soms by plekke waar die brûe te min is en die water te diep is. Daar is baie paaie wat daarby aansluit en by T-aansluitings lyk dit of dit dieselfde pad is wat net in verskillende rigtings loop.

 All the truth in the world adds up to one big lie – Bob Dylan

Daar is mense wat die verskillende paaie so goed ken, dat hul jou kan begelei in enige rigting en jy sal voel dat dit die regte pad was.

“When people ask me – as they often do, how it is that I can tell the best stories of anybody in the Transvaal (Oom Schalk Lourens said, modestly), then I explain to them that I just learn through observing the way the world has with men and women. When I say this they nod their heads wisely, and say that they understand, and I nod my head wisely also, and that seems to satisfy them. But the thing I say to them is a lie, of course.

For it is not the story that counts. What matters is the way you tell it….Another necessary thing is to know what part of the story to leave out.”

– Herman Charles Bosman, Mafeking Road

 

Daar is party leuens wat ‘n mens ‘n myl al sien aankom en party leuenaars wat jou weer op ‘n myl sien aankom. Aan watter kant van die lepel jy jou ookal bevind, bly dit ‘n interessant deel van die menslike psige. Dit word gebruik om mense te paai, te verlei, van hul geld afstand te laat doen en ‘n voet in ‘n andersinds toe deur te kry. Die vraag is wie die leuenaar is en vir gelieg word. Is ‘n leuen nog ‘n leuen as die leuenaar dink dat iets die waarheid is?

 

The most common lie is that which one lies to himself; lying to others is relatively an exception – Friedrich Nietsche

 

Die interpretasie van die Absolute en Konkrete word verskillend hanteer na aanleiding van watter groepering jy voel die verste weg van die leuen af is. ‘n Leuen het min waarde as dit nie met iets vergelyk kan word nie. Die een dokter kyk na ‘n X-straal en gee sy opinie. Die pasiënt gaan wys dan dieselfde X-straal vir ‘n volgende dokter en ‘n tweede opinie word gebore. As die twee opinies dieselfde is, is die saak maklik. As die twee opinies verskil word daar ‘n leuenaar aangewys – al vind dit net in jou gedagtes plaas.

 

Die Verleier

deur Gerhard Bothma (Nuwe Stemme 5)

 

Dis nie die verbolge redder wat ek soveel vrees

nie maar die een wat kom met ’n maklike stap

met die dokke langs geklee in ’n glimlag,

heel broederlik arm om die skouer,

onder ons wat die oseane bevaar.

Die een wat sag maar selfversekerd praat

– vertroostende stem soos stadige reën –

oor die ou wette wat van die begin

die weg deur sterre en getye wys:

“Rots wat die tyd tot sand verbrokkel,

korrels wat jy deur jou hand kan tregter

en strooi op die strome van jou eie wil,”

gesels hy die een wat weet dat vaarders,

soos wilde water, die baan volg

wat die meeste toegee,

aan geen absolute geanker

sal verdwaal op ongekaartte seë

en gewillig wees om enigeen

met ’n kompas kaptein te maak.

 

En naglank breek sy woorde, breek en spat

hoog oor die dyke van ons polderland.

 

 Ek hou van probleme wat altyd dieselfde optree – die liggie brand / die liggie brand nie. Wat moeilik is, is wanneer die liggie net somtyds brand. Die leuen is moontlik een van daardie probleme – dit werk of dit werk nie en somtyds werk dit nie soos wat jy gedink het dit moet werk nie. Die leuen is die wolf in skaapklere en die visserman wat jok oor sy vangs. Die leuen is egter ook die waarheid wat op die verkeerde plek gebruik word en ingesit word waar iemand eerder stil moes gebly het. As meer mense maar net ‘n neus soos Pinocchio gehad het, was dinge darem baie makliker.

 

Hierbo: Pinocchio deur Enrico Mazzanti

 

Een van die leuens wat my fassineer is die portret van Jan van Riebeeck. As ek die nuwe geskiedskrywers moet glo, was die bekende portret van Jan van Riebeeck nie werklik die ware Jan nie. Iewers tussen die VOC en die Reserwe Bank het die prentjie van hoe ‘n goewerneur moet lyk verander. In ‘n sekere sin is die geld met Jan van Riebeeck se kop as watermerk nou vals vir my. Die vraag is miskien wat die doel van die leuen is of was. Miskien was dit net ‘n eerlike fout. Miskien was dit ‘n beeld-poetser se werk.

 

Hierbo: Jan van Riebeeck (Voorheen is gedink Jacob Coeman het die portret geverf, maar nou is daar nie sekerheid nie.)

 

Ek sal lieg as ek moet sê wat ek uit hierdie skryfsel geleer het. Die leuen, die leuenaar en die persoon vir wie gelieg word moet in verband geplaas word. Wat is die invloed of doel van ‘n leuen tydens die skep en interpretasie van kuns? Watter doel dien leuens in die poësie? Die stelling van Picasso gee ‘n moontlik antwoord:

Art is a lie that makes us realize truth – Pablo Picasso

 

Die Leuen

 

jy’t vir my gelieg

my vriend

jy’t vir my gelieg

en soos enige Caeser

moet ek bieg

dit was onverwags

 

die aand as ek my oë wil sluit

en die dag as oorlogsveld verwyt

haal ek af my Judas-das

en hang ek op my Pilatus-jas

 

leuen, o leuen, soos onverdiende seën,

vergeef my, Heer, nog net hierdie een

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Die Leuen: Gebaseer op ‘n onwaar verhaal”

  1. carina van der walt :

    @ Wicus, dankie! Ek het by Cloete geleer: “die digter lieg die waarheid”, terwyl ek vermoed hy’t dit weer by iemand anders geleer. Watter leuen sou ek hier in Nederlands dig en waarom?

    Welkom

    Welkom is de naam van mijn geboortestad

    Welkom zegt mijn geboortecertifikaat
    Welkom zegt mijn identiteitskaart

    Welkom zegt mijn paspoort Welkom
    zegt mijn voorlopige verblijfsvergunning
    ik behoor het nu te weten

    zo lang al zwerf ik ver buiten die stadspoort
    dat ik misschien een keertje naar Welkom
    terug moet om het nooit weer te vergeten

  2. Wicus Luwes :

    @ Carina. Ek hou van raaisels, maar ek sal moet vra vir ‘n leidraad. Welkom is die dorp/stad met die baie sirkels. Ek sal die ‘sirkelgang van die lewe’ moet raai by gebrek aan ‘n beter antwoord. Ek wonder hoe die pad van die leuen sal lyk in Welkom met sy baie sirkels! 🙂

  •