Sal 1950 loslaat wat dit inhou?
Die sypaadjie bewe effens
onder my voete
soos die elektriese trem naderkom
op sy verbryselende staalwiele.
Uit die haarkappersalon
kom die nogal aangename reuk
van vars beesmis,
die reuk van die goed
waarmee hulle hare perm.
Ek het ‘n halfkroon
om vir Moeder daardie asbakkie
vir Kersfees te koop,
‘n glasboot
met ‘n blink metaalseil.
Ek verstaan dit nie;
1950 is ‘n jaar,
hoe kan dit iets “inhou”?
Die trem skuddemannetjie my
na die winkels,
kletterend, laat boodskappers
op hulle fietse wild wegswaai,
knars oor syspore.
Twee ousies in voorskote
gesels op die straathoek.
Ek is trots dat ek kan uitmaak
wat op die Vaderland se plakkaat staan:
“WAT HOU 1950 IN?”
Swart werkers in verweerde klere
loop op die sypaadjie,
geselsend, een lag in Zoeloe,
hulle word nie in die trem toegelaat nie.
Die trem stop reg voor die winkel.
“DADOO dry goods an acessories”.
Ek klim ondertoe met die spiraaltrap,
die kennisgewing sê:
“Do not excep … expecro … cate
on the stairs
Moenie spu op die trap nie”
Die een Engelse woord is te moeilik vir my,
maar ek sal al die woorde kan lees
in 1950 wanneer ek in standerd een is.
Ek sal selfs dan weet
hoe ‘n jaar iets kan inhou,
ek sal weet wat dit inhou.
© De Waal Venter / 2014