Marlies Taljard: Woord-meermin

 

ʼn Rukkie gelede stuur kunstenaar Evette Weyers vir my haar boek “Wat die hart van vol is …” en sedertdien lê dié uitsonderlike publikasie steeds op ʼn plek waar ek terstond my hand daarop kan lê ter sielelafenis. “Wat die hart van vol is …” is beslis een van die mees uitsonderlike boeke wat nog in Afrikaans verskyn het: onkategoriseerbaar is dit sowel mite as legende, sowel biografie as droom, koffietafelkunsboek, hartreis en kopreis, kunsfilosofie, literêre besinning en nadenke oor die misterie van die lewe. Na verskeie deurlese vind ek elke keer nóg ʼn waarheid wat getuig van die skrywer se diepe mensekennis, verbondenheid met die natuur en indringende bemoeienis met die wese van alle geskape dinge. Wat die boek vir my as letterkundige besonders maak, is die wyse waarop die letterkunde, en veral die poësie en die poëtiese woord in hierdie boek weerklank vind. Elke werk wat Evette skep, word op een of ander wyse deur die letterkunde en die woord as toording gevoed. Teen die einde van die boek, waar sy weer eens oor die invloed van gedigte op haar beeldhouwerke besin, haal sy Mary Oliver aan:

“Poetry is a life-cherishing force. For poetry is not pictures or figures after all, but fires for the cold, ropes let down to the lost, something as necessary as bread in the pockets of the hungry. Yes indeed.”

“Wat die hart van vol is …” word verdeel in 9 dele, wat ek nie hoofstukke wil noem nie, want ook die ordening van die inhoud word nie volgens konvensionele logika onderneem nie. Die name van die verskillende dele gee reeds ʼn aanduiding van die verbeeldingryke lewensreis wat beskryf word: Meermin en wilde perde; Rondom taal-ie; Wie sal my kan sê hoe die liefde lê; Skoppensboer; Onder deur die grensdraad glip; Die wiskunde van fantasie; Hart en kopreise; Oseana; Fluit-fluit my storie is …

 Direk na die inhoudsopgawe verskyn daar ʼn subtitel: “Dagboek van ʼn trekvoël” en ʼn motto: “Vroeg-vroeg in my kleintyd het ek al geweet ek is ʼn ou siel met geen onskuld oor om te verloor nie.” Die vertelling begin met die herkomsverhaal wat aan baie van ons opgedis is toe ons klein was – ons was eers klein bobbejaantjies wat in die berge gevang is. “Om van die wildheid ontslae te raak, het hulle ons sterte afgekap. Daarna het hulle ons in ʼn bad warm seepwater skoon geskrop en ons hare afgeskraap en siedaar, ons was pure mens!” ʼn Alternatiewe verhaal van haar geboorte op die eerste bladsy dui daarop dat die kunstenaar bewus is van die meerduidigheid en gelaagdheid van die “waarheid”: “Nog voor my geboorte het my ma al geweet ek was ʼn meermin en dat ek nie uit die binnesee sou kom voor ek nie die buitesee gehoor het nie. Laat een nag het sy uit die kraamsaal van die Addington-hospitaal in Durban se strandfront gesluip en op die sand gaan lê. Sy het haar dye vir die see oopgemaak. Ek het die golwe gehoor en opgewonde uit die binnesee uitgeswem tot op die strand. ʼn Groot golf het my kom skoon lek.”

Onmiddellik word die leser dus ingewy in die esoteriese ruimte tussen droom en werklikheid wat die vertelling van begin tot einde kenmerk – ʼn styl wat sterk herinner aan die poësie, veral as gevolg van die argetipiese ruimte wat telkens opgeroep word en die gebruikmaking van oersimbole en -figure wat ook in haar beelde tot uiting kom.

 Evette vertel hoe sy reeds op hoërskool verlief geraak het op die letterkunde en hoe King Lear haar begeester het, maar ook hoe sy telkens voordat sy met ʼn beeld begin, haar kop moet skoonmaak van woorde:

“As ek op die pad van beelde loop, moet ek myself eers ʼn ruk lank speen van woorde. Woorde is so verleidelik. Woorde is nie onderhewig aan swaartekrag nie. Hulle kan lekker vinnig hardloop; oor berge en dale en ver, ver weg.

Beelde verg tyd. Ek moet eers in die stom hart van die beeld delf. Dit is ʼn blinde ontginningsproses. Ek boor deur soliede klip in die donker aarde in. Wanneer ek eers ʼn aar van die beeld oopboor, begin die opwinding oorneem. Dan kry ek momentum en die beeld kry gestalte in kleur en vorm en begin loop, later hardloop, vlieg en sing, woordeloos. Ek jubel woordeloos saam.”

Die verhouding tussen die verskillende kunste is ʼn onderwerp wat Evette dikwels aansny. Sy vertel hoe sy in 1980 betrokke was by die produksie van Vroue van Troje in die Markteater: “As beeldhouer was dit openbarend om deel te wees van die skepping van ʼn opvoering. Hoe verskil die gebruik van tyd en ruimte in ʼn toneelstuk en ʼn beeldhouwerk? Die toeskouers van my beelde is heeltemal in beheer van tyd en ruimte. Hulle kies hoe lank hulle na een kant van ʼn beeld wil kyk, en vanuit watter hoek; hoe ver of hoe naby hulle aan die beeld wil staan.” In teenstelling hiermee, word die tyd en ruimte in ʼn toneelstuk deur die regisseur en die spelers bepaal. Wanneer die toneelstuk egter gelees word, is die verhouding weer eens heeltemal anders en word dit grootliks deur die leser bepaal …

In die volgende paar blogs wil ek fokus op sommige beelde van Evette Weyers wat deur spesifieke gedigte geïnspireer is. Evette, baie dankie vir die verrykende gesprekke met jou – in die algemeen, maar veral rondom hierdie blogs.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Marlies Taljard: Woord-meermin”

  1. Marlise Joubert :

    Ditto Marlies! Dis ‘n merkwaardige tydlose boek hierdie, een wat ek altyd by herhaling sal wil lees. Sien uit na die bespreking van haar beelde wat deur gedigte geïnspireer is.

  2. Ek het nog nie die boek gelees nie, maar wel op Evette se fb blad gesien hoe sy met woorde kan ‘toor’! Sien baie uit na jou volgende inskrywings Marlies!

  3. Maria Snyman :

    Woorde verg ook tyd – en gesien dat woorde uit ‘n mens kom, is dit ook onderhewig aan swaartekrag – jy moete jou voete op die aarde kan hom om die vlug-vlietende woord te kan vashou – en dit kan soms baie tyd vat. Maar ek hou baie van “Ek moet eers in die stom hart van die beeld delf. Dit is ʼn blinde ontginningsproses.” – blindheid en insig à la De Man gaan op ‘n geheimsinnige manier saam.

    En oe, dan geniet ek die sensuele dimensie verbonde aan die volgende: “Ek boor deur soliede klip in die donker aarde in. Wanneer ek eers ʼn aar van die beeld oopboor, begin die opwinding oorneem. Dan kry ek momentum en die beeld kry gestalte in kleur en vorm en begin loop, later hardloop, vlieg en sing, woordeloos. Ek jubel woordeloos saam.” In laasgenoemde hoor ek Munch se “scream” in ‘n sekere positiewe toon, Munch se warm tone in ‘n sekere liriese wit lig …

    Die voorblad kon dalk meer subtiel gewees het – meer pro-vokatief, soos byvoorbeeld die foto van torso met vlerke teen ‘n neutrale/wit agtergrond en meer eenvoudige font.

    Ek sien nogtans uit om die boek in die hande en onder oë te kry, dalk omdat ek klipbeduiweld is, daar is iets dierbaar/dier-baar verbonde daaraan vir my, ons bly klipgebonde:

    “Om van die wildheid ontslae te raak, het hulle ons sterte afgekap” – soos [die] bobbejane [wat ons was] spring ons steeds van klip na klip, opsoek na ons afgekapte sterte …

  4. Marlies Taljard :

    Dankie vir al die reaksies en saampraat en saam dink …

  •