Marlies Taljard: Herwonne land in beeld

Die term ekfrasis het sy oorsprong in die klassieke retorika – die kuns van oorreding – waar dit as stylfiguur gebruik is om ʼn gebeurtenis of ʼn voorwerp so duidelik voor die oog te roep dat die luisteraar dit as’t ware voor sy geestesoog kon sien. In die eerste hoofstuk van sy Poëtika wys Aristoteles (384-322 vC) daarop dat sommige ervare kunstenaars in staat is om dinge te representeer deur hulle kleure, vorms en ander eienskappe met hulle stemme te imiteer. Dit is waarskynlik die rede waarom die poësie en die skilderkuns dikwels as susterskunste met ʼn osmotiese verhouding beskou is: destyds is geglo dat sowel die poësie as die beeldende kuns in staat is om ʼn beeld te skep van die verhouding tussen mense en dinge ten opsigte van die wêreld “daar buite”. Hierdie siening kom byvoorbeeld ook voor in Horatius se dikwels aangehaalde uitspraak “Ut pictura poesis” (ʼn Gedig is soos ʼn prent) uit sy bekende Ars Poetica (65-8 vC). In die moderne literêre teorie word die term ekfrasis meestal gebruik om te verwys na die uitbeelding van ʼn kunsobjek binne ʼn gedig.

In sy opstel Painting, poetry, parallelism: ekphrasis, stylistics and cognitive poetics maak Peter Verdonk, na aanleiding van Nunberg se boek The Future of the Book die volgende stelling oor die verhouding tussen poësie en beeldende kuns: “…if ekphrasis is taken in its broadest sense of an attempt to capture the visual in words, the present-day state of affairs in modern communicative rhetoric may well be seen as an inversion of this classical ideal, in that now ‘images are given the task . . . of explaining words, rather than the reverse’. Hierdie stelling word geïllustreer deur die moderne klem op advertensie, strokiesprente, film en selfs konkrete poësie. Verdonk merk op dat die ekfrastiese onderneming van sulke gemengde kuns inderdaad konkrete beelde produseer, anders as wanneer taal in gedigte ekfrasties gebruik word om ʼn bestaande kunswerk uit te beeld.

Waar die klem in klassieke tye geval het op die woord en sy vermoë om te beskryf en op te roep (mimesis), het die klem tans verskuif sodat die funksie van betekenisgewing al hoe meer prominent op beelde en konkrete uitbeelding val. Ook in die teorie van woordkuns word dit vandag aanvaar dat gedigte (en ander literêre werke) nie mimeties van aard is nie – dus nie bedoel is (en in staat is) om ʼn werklikheid te representeer nie.

Herwonne land – Evette Weyers

Die ingewikkelde verhouding tussen kunswerk, kunstenaar en betekenisgewing is ʼn besondere sterk teenwoordigheid in Evette Weyers se kuns. In die twee voorafgaande blogs het ek reeds oppervlakkig na dié problematiek verwys. Een van die interessantste werke wat my bly fassineer is die beeld wat sy gemaak het na aanleiding van Chris Chameleon se vertolking van Ingrid Jonker se Herwonne land. As mens haar vra, stel sy dit altyd besonder duidelik dat sy die beeld (en daar het intussen nóg beelde bygekom!) nié gemaak het na aanleiding van Jonker se gedig nie, maar wel na aanleiding van die impak wat Chameleon se vertolking van die getoonsette weergawe van die gedig (met herhalings wat nie in die gedig voorkom nie) op haar gemaak het. Haar inspirasie is en bly daardie gevoel van verrukking wat die musiek op haar het, die gevoel van vervoering wat haar dwing om weer en weer te luister.

Sy dring dus daarop aan dat haar beeld as’t ware die derde vlak van interpretasie aanspreek, waar die gedig die primêre bron is, daarna is die oorspronklike woorde getoonset en die derde interpretasievlak is dan die sanger wat die musiek tot lewe oproep. In wese is die beeld ‘n driedubbele representasie, naamlik ʼn konkrete vertolking van die oorspronklike teks, die toonsetting en die uitvoering daarvan, ʼn uitbeelding van denkbeelde, waardes, insigte en emosies wat in die verskillende diskoerse verteenwoordig word – ʼn ware palimpses van tekste.

In Ingrid Jonker se bundel Rook en Oker (1963) verskyn die gedig Herwonne land:

 

Ek het jou herwin van die see

en waar die stormwaters was

die aarde aan jou teruggegee

 

saad van my begeerte     son van my woord

wat bome plant in jou vore

teen die kus van die dood

 

Ek het ʼn hemel bo jou gerond

fondamente laat sak en ʼn stad

laat bloei uit jou grond

 

Ek het jou teruggegee aan die lug

maar met die eerste sirenes

van jou weggevlug

 

Op Evette Weyers se facebook skryf Anna H Lemmer soos volg oor haar beeld na aanleiding van Chris Chameleon se vertolking van Herwonne land: “Wonderlike strukturele eenheid in die eenvoudige lyne! Die oorvleueling van die arms skep ‘n sterk gevoel van koestering en beskerming. Die kruiskontoerlyne in die koppe laat die oog opwaarts beweeg tot ‘n byna oneindige versugting…Waar haar hare in sy vorm versmelt is daar ‘n eenwording wat soos ‘n gebed woordeloos spreek.” Iets van die onsegbare ekstase van Chameleon se vertolking spreek uit hierdie waardering – die gedig vir ʼn oomblik vergete. In die letterkunde is ekfrasis – in die wydste sin van die woord – ʼn beskrywing van enige verbeelde of naspeurbare objek of toneel, van ʼn abstrakte idee, ʼn psigiese aktiwiteit of ʼn emosionele toestand. Hoewel die term ekfrasis gewoonlik nie in terme van ʼn nie-literêre kunswerk gebruik word nie, sou die bostaande beskrywing van ekfrastiese praktyk wel gebruik kon word om die betrokke kunswerk van Weyers te tipeer. Dit is inderdaad ʼn weergawe van ʼn psigiese aktiwiteit en ʼn emosionele belewenis.

Tog het sy die oorspronklike gedigteks nie verontagsaam nie. Beide die figure het ʼn patroon op die liggame wat met water verbind kan word en wat ook as skubbe geïnterpreteer kan word. Ook die houding van die twee figure het iets vis-agtigs in hulle – én die opwaartse neiging van die liggame suggereer inderdaad ook: “Ek het jou teruggegee aan die lug”. ʼn Uiters ambivalente beeld dus!

Dit is inderdaad so dat die klassieke betekenis van ekfrasis vandag nie meer op die kunste van toepassing is nie. Die bostaande bespreking behoort dit egter duidelik te maak dat ons selfs in moderne tye steeds die behoefte voel om ʼn kreatiewe spel aan die gang te sit tussen woord en beeld, ʼn spel wat 2000 jaar gelede reeds aan Quintilianus bekend moes gewees het toe hy die term “woordprent” bedink het. Hy het sy lesers vermaan dat ʼn toespraak nie slegs ʼn beroep op die gehoor behoort te doen nie, maar dat dit ʼn prent behoort op te tower in die geestesoë van die luisteraars – iets wat Evette Weyers konkreet maak in haar kuns. Sowel poësie as musiek spreek dikwels die emosie van die leser en luisteraar aan. Hierdie ooreenkoms tussen woordkuns, musiek en beeldhoukuns is die kreatiewe ruimte waarbinne die beeld onder bespreking ontstaan het en dit is hierdie vlak van belewing wat dit in die kyker wil aktiveer.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •