Marlies Taljard: Simbole, woorde, beelde …

 

 

1 Korintiërs 13 sê ons ken maar ten dele. Ook die spektrum van ons emosies en ons sintuie is beperk. Baie dinge lê buite die begrips- en uitdrukkingsvermoë van die mens. Daarom gebruik ons – soos Graham Hancock byvoorbeeld in sy fassinerende boek Supernatural aantoon – sedert Homo Sapiens sy verskyning op aarde gemaak het, simbole om dié konsepte te representeer wat buite ons begrip en verstand lê. Dit is ook die rede waarom simbole in alle godsdienste ʼn vername rol spel.

ʼn Woord of beeld is simbolies wanneer dit meer as die letterlike en voor die hand liggende betekenis impliseer, wanneer dit ook ʼn onbewuste konnotasie het wat as’t ware buite taal geleë is. Wanneer dié simbool deur die gees of die intellek verken word, aktiveer dit insigte wat nie deur rasionele denke verkry sou kon word nie. Daarom is simbole in sowel die letterkunde (veral die poësie wat nie daarsonder kan bestaan nie) én die beeldende kunste een van die belangrikste betekenisgewende en -verruimende aspekte.

In enkele vorige blogs het ek die intieme verhouding probeer aantoon tussen Evette Weyers se beeldhouwerk en bepaalde literêre tekste. In hierdie laaste blog oor haar werk raak ek vlugtig aan twee besondere beeldhouwerke waarin die beeld van diepgang en terugkeer na die simboliese wortels van die mens belangrik is.

In haar outobiografiese werk Wat die hart van vol is …” skryf Weyers oor ʼn reeks beelde wat sy van ysberge gemaak het. Een daarvan (hierbo afgebeeld), Wie sal my kan sê hoe diep die liefde lê, is ʼn beeld waarop die kunstenaar en haar man, Marius Weyers, bo-op ʼn ysberg staan. Marius het op die ysberg ʼn aantal liefdesgedigte geskryf waarvan hulle besonder baie hou, onder andere ʼn gedig van Pablo Neruda en Marlise Joubert se Ballade van die minnaars. Die ysberg is natuurlik ʼn baie sterk simbool wat verbind kan word met die onbewuste en selfs met die kollektiewe onbewuste, wat in die kunste steeds een van die beste metafore is om aanwesigheid van argetipiese materiaal te suggereer. Deur ʼn argetipiese simbool kom die mens in kontak met argetipiese inhoude wat daartoe in staat is om dieper insig in die eie psige te bewerkstellig en selfs om individuasie of satori (of wat ʼn mens die toestand van diepste insig ook al wil noem) te bereik.

Core Sample

Core Sample

Nog een van Evette Weyers se bekendste en belangrikste beelde is Core sample, ʼn beeld wat letterlik die delf in die diepste oorspronge van die mens se bewussyn uitbeeld. Selfs al bevat hierdie wek geen skriftekens of verwysing na poëtiese of ander tekste nie, demonstreer dit ‘n praktyk van kunsskepping wat eie is aan alle kunsgenres. Daar word dikwels beweer dat alle groot kuns jou terugneem na die diepste plekke in die menslike psige om daar vanuit die “bron” gevoed te word en met dieper waarhede bedeel te word. Dit is beslis ook waar van Core sample (in Afrikaans vertaalbaar met “tydspoor”) waaroor die kunstenaar self in Wat die hart van vol is … die volgende te sê het:

Wanneer geoloë die geskiedenis van ʼn gebied wil bepaal, boor hulle ʼn lang klip-pyp uit die aarde. Hulle noem dit ʼn “core sample”. Daarvolgens kan hulle die geologiese geskiedenis van daardie gebied, oor ʼn tydperk van duisende jare, noukeurig lees. Die beeltenis van ʼn “core sample” het lank in my gesluimer.

Tydens ʼn praatjie oor die kunste wat ek op Stellenbosch gegee het, besef ek die meeste kunswerke waarna ek verwys, bestaan nog op aarde en kan steeds besigtig word! Geskrewe taal is slegs 6 000 jaar oud. Maar die mens teken al oor die 30 000 jaar op rotswande, op been en op potte, en maak beelde uit hout, been en klei. Visuele kunstenaars vertel sedert prehistoriese tye die storie van die mensdom. Die visuele kunste is inderdaad die “core sample” van die verhale van die mensdom. Wat die mens nog altyd waardeer, begeer, vrees en aanbid, lê hierin vasgevang – en ons kan dit vandag steeds besigtig.

Ek wou ʼn beeld hiervan maak. Dit is in die vorm van ʼn kleipyp, 1½ meter hoog, ʼn “core sample”, wat die geskiedenis van ons mensdom se visuele kunste weerspieël. Ek kon net nie so ʼn evokatiewe naam in Afrikaans vind soos “Core Sample” nie en het dit in Engels benoem.

Ná heelwat navorsing oor die geskiedenis van kuns, begin ek my beeld van onder opbou: van die vroegste tekeninge in grotte – spirale, en die buitelyne van mensehande, wat die Boesmans en Australiese inboorlinge op rotswande geteken het. Dan volg die tyd van die springende Boesmanjagters, wat ook op die wande van grotte in Frankryk en in Noord-Spanje geteken is, stilisties presies dieselfde.

Klein beeldjies van vrugbaarheidgodinne is 10 000 jaar gelede reg oor die planeet gemaak. ‘n Bekende een is die pragtige, abstrakte “Venus van Lespugua”, in Frankryk. Ek maak replikas en plaas hulle op my “Core Sample”. Ek gebruik kuns van regoor die wêreld – kronologies, maar sonder rangorde. Die beelde en tekeninge spoel oor mekaar.

Ek ontdek ʼn pragtige klein perde-amulet in ʼn boek oor die Neandertal-periode, ongeveer 32 000 jaar gelede. Dit is nie deur ʼn Neandertalmens gemaak nie, maar dateer uit daardie tydvak. Perde was toentertyd klein en bonkig, en hulle is vir voedsel gejag. Dit is asof die kunstenaar wat die perde-amulet gemaak het, geweet het hoe mooi perde nog gaan word. Dit het hy (of sy) in die klein beeldjie vasgevang. Ek was só geraak deur die antieke beeldjie, ek moes net ‘n beeltenis daarvan in “Core Sample” maak!

Ek besef weer eens taal het ʼn liniêre ontwikkeling. Taal is soos ʼn slang wat ou woorde vervel, afstroop, sodat nuwes in die plek daarvan kan uitgroei. Ons verstaan nie meer presies die taal van 800 jaar gelede nie – hetsy Engels, Duits, Grieks, Frans. Maar visuele beelde ontwikkel as ‘n wyer uitdeinende poel konsentriese sirkels, wat alle vorige beelde insluit. Iets wat 32 000 jaar gelede geskep is, kan net so ʼn groot emosionele impak op jou hê as ʼn beeld wat gister gemaak is. So het die 32 000 jaar oue perde-amulet my hart gesteel.

Ek het verder navorsing gedoen – oor die periode van die groot godsdienste, met die Boeddha in 500 v.C., en daarna die kuns van die vroeë Christendom. Uit elk van díé kies ek net een beeld. Die Moslem-geloof het beelde en verbeelding van heiliges verbied, maar pragtige patrone en sierskrif het by hulle floreer. Uit die Middeleeue en die Renaissance, met Da Vinci en Michaelangelo, kies ek nie die beste of grootste werke nie, maar iets kenmerkends van elke kunstenaar of periode. Heel bo-op “Core Sample” herhaal ek die spirale en hand-omlyning uit die vroegste tye, wat ek onder aan die beeld gebruik het. Maar ek vorm dit soos John Smith in die 1960’s, toe hy ʼn spiraal hawehoof of “jetty” in Kalifornië as kunswerk gebou het. En soos Jasper Johns, wat telkens ’n afdruk van sy oop hand gebruik het.

My vriende het gevoel “Core Sample” moes op ʼn publieke ruimte staan, want dit is ʼn eerbetoon aan die kreatiwiteit van die mensdom oor baie eeue. Ek het ook ʼn klankbaan vir “Core Sample” gemaak. Daarvoor het ek die klanke van die didgeridoe gebruik – die instrument wat al 40 000 jaar gelede in Australië bespeel is en steeds gebruik word. Ook die Boesmans se handeklap en dreunsang het ek gebruik, en die mondboog wat hulle bespeel het. Saam met die diep dreunsang, soortgelyk aan dié van Tibettaanse monnike, en die dromme en slaginstrumente van latere jare. Ek wou die toeskouers omring met die spektrum van klank en musiek wat ons as mensdom deur die eeue geskep en gemaak het.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Marlies Taljard: Simbole, woorde, beelde …”

  1. Evette Weyers :

    Dankie vir die blog Marlies.Ek is so bly jy het die ysberg beelde ingesluit. Ek het oa ‘n ysberg beeld gemaak oor RAKA. En een oor die werk van Tjekof. Sy dramas is soos ‘n ysberg vir my. Die woorde is net die boonste 10de van die ysberg en die akteurs moet die hele gewig van die emosionele 9/10des daaronder skep om die drama te anker in volle balans. Die drama teks se 9/10des is die emosionele subteks.
    Dit is hoekom jy BAIE goeie spelers nodig het vir ‘n Tjekof drama. Dan is dit volledig en wonderlik. Die opvoering van Oom Wanja met Marius, Anna-Mart, Louis van Niekerk, Sandra Kotze en Jimmy Bothwick was een van die mees geslaagde Tjekof dramas wat ek op die verhoog gesien het.
    Evette

  2. Franco Colin :

    My partner Hendrik Venter besit die Raka / Koki-beeld. Groot was my plesierigheid om hierdie bespreking te lees. Mens verstaan soveel beter en dit vermenigvuldig die plesier aan die beeld! Dankie! Ek sal ‘n foto probeer stuur.

  3. Marlies Taljard :

    Dankie vir jou kommentaar, Collin. Dit sal ‘n groot bonus wees as jy ‘n foto kan stuur!! Groete. Marlies

  •