Dansende Digtersfees. Breyten Breytenbach gesels oor vanjaar se fees

Louis Esterhuizen (LE): Breyten, verlede jaar se Dansende Digtersfees was natuurlik die eerste fees en watter ongelooflike belewenis was dit nie! Vir weke daarna het dit steeds vir diegene wat daar was asof daar nie klippe onder jou voetsole was nie; trouens, daar was ‘n bykans universele ekstase van iets enorms het gebeur en ek was daar … Hoe het julle as organiseerders na afloop van verlede jaar se fees daaroor gevoel? Is die doelwitte wat julle byvoorbeeld aan julself gestel het, bereik?

Breyten Breytenbach (BB): Daar was enkele tekortkominge – sommige buite ons beste pogings om (twee digters wat op die laaste tippie moes kanselleer, maar dit kon nie verhelp word nie); ‘n paar dinge wat ons graag nog sou wou doen – soos ‘n antologie van die deelnemende digters se werk, liefs in samewerking met ‘n professionele uitgewery (maar ons kon niemand oortuig nie), groter en deegliker belangstelling van literêre media (maar afgesien van Versindaba en Danie Marais en Meersman van die Mail & Guardian kon ons dit nie by hulle tuisbring dat hier iets die moeite en fokus werd was om te dek nie), daarmee saam meer en beter vertalings van ons oorsese deelnemers se verse (ook dit het nie gewerk nie), en wyer vennootskappe met ander organisasies, insluitende van oorsee (ook ‘n bloutjie geloop); en laastens miskien ‘n paar haperinge toe te skryf aan ons eie ‘waagmoed’: ek het nie die gevoel gehad dat plaaslike digters werklik ons deelnemers van elders as gaste gesien en ontvang het nie, die Gesprekke was tematies te gesog, daar was nie veel van ‘n werklike interaksie met die publiek nie, trouens, die besoekers het nie regtig die kans gehad om die plaaslike digterslandskap beter te verken nie (behalwe vir die wonderlike gebaar van jou en Marlise toe julle gefotokopieerde werk van Afrikaanse gedigte in vertaling as geskenk vir ons besoekers gegee het), en ek het die indruk dat die geprojekteerde gedigte tydens die voorlesings nie altyd sigbaar genoeg was nie.

LE: In welke mate gaan vanjaar se fees verskil van verlede jaar s’n? Of gaan julle probeer om verlede jaar se resep so noukeurig as moontlik te volg?

BB: Ons probeer deurlopendheid teweegbring – so sommige kerneienskappe bly dieselfde – en tog ook ‘n vloeibaarheid en miskien selfs ‘n mate van onvoorspelbaarheid skep. Die oorspronklike bedoeling was eintlik nié om net nog ‘n fees te bring na ‘n land waar die minderheid wat na so-iets gaan al behoorlik feesvrot is nie. Dit was ook nie om met enige van die ander spektakels mee te ding nie. Ons weet goed die poësie is iets van ‘n openbare voordrag, miskien selfs ‘n vertoning (dit was nog altyd ‘n opsê), maar ook dat dit die aanklank is van ouer en dalk dieper bewegings van die menslike bewussyn (en al wat dit deel met ‘literatuur’ is eintlik maar net woorde – wat nie eens soortgelyk as by ander kommunikasievorme aangewend word nie). Vandaar ons oortuiging dat die ‘oorkom’ na ‘n publiek op meer subtiele wyses gebeur, meer insypelend as wat mense gekondisioneer word om te verwag. Ook dat die omgang met die nie-self meer ritualisties en selfs sjamanisties van aard is as wat die blote uitstrooi van slimmighede in die naglug aan kan voldoen. Die digters moet genoeg kans gegee word om die bees wat hulle verhoog toe bring mak te maak of te probeer omvat. Vandaar dat dit ‘n redelike klein groepie deelnemers is. Méér is juis nie beter nie. (En ons kan nie ‘verteenwoordigend’ of selfs normevormend wees wat betref die digterswêreld se sweepstakes nie, en met die beste wil ter wêreld nie polities korrek nie.) Ons verwysingsraamwerk bly dieselfde: ons soek gesoute digters (nie noodwendig die bekendstes nie) wat skrywe asof hulle lewens daarvan afhang en wéét dis ‘n nuttelose gebaar, en miskien soms reeds hulle lewens in die proses ingeboet het. Die plan is ook om weer die digters tyd en ruimte en beweging te gee om saam te verkeer, soos met die ‘karavaan’ wat die twee dae van Gesprekke en voorlesings voorafgaan. Tot sover die deurlopendheid – dieselfde plek, dieselfde formaat, dieselfde tent. Maar daar is twee aspekte wat nie omseil kan word nie: dat die besoekers soms van ver kom en iets behoort wys te word van die streek waarnatoe hulle kom en die verskeidenheid van mense wat daar bly, en dat meer plaaslike belangstellendes die kans gegun behoort te word om die besoekers ‘n bietjie te leer ken. Daarom beoog ons vir vanjaar ‘n iets meer omvattende inleiding tot die Kaap vir ons besoekers, en behalwe vir ‘n voorleesluister besoek aan die UWK ook twee geleenthede waar daar op ‘buitewerwe’ kennis geneem kan word van ‘n breër spektrum van Suid-Afrikaanse digters (Wellington en Observatory), dat die Gesprekke meer konkreet sal gaan oor vertaling en vertalings (en dus oor die moete en boute van skrywe), en dat daar dié keer wel ‘n antologie beskikbaar sal wees. Die musiek sal hierdie keer daadwerklik déél wees van die verrigtinge. Ons beoog om meer aandag te gee aan die geprojekteerde tekste. Die ‘vloeibaarheid’ vorentoe kan miskien beteken dat ons die gees van die saambeweeg op ‘n ander wyse probeer vergestalt – miskien in ‘n ander land, of in ‘n propperse karavaan Timboektoe toe.

LE: Die fakkelvers vir vanjaar se fees, is Eugène Marais se welbekende “Die dans van die reën”. Hoekom is daar juis op dié gedig besluit?

BB: Marais is hierdie keer een van ons “abbavaders en voormoeders”, ons beskermgeeste – saam met Hafiz, Cesaria Evora en Amadou Hampâté Bâ. Die oer-gedig, “Die dans van die reën”, versinnebeeld van die temas wat ons dink ons wil illustreer: die beswerende dans, byna ‘n inkantasie, van die mens met haar omgewing, geskiedenis, dalk haar eie natuur en haar reis langs die trajek wat ‘lewe’ genoem word. Ons hoop ook die digters sal lus voel om besit te neem van hierdie teks in hulle eie tale. Nou nie tot so ‘n mate dat dit reën hoef te bring nie!

LE: Verlede jaar het jy voorspel dat die Koreaanse digter, Ko Un, se voordrag die gehoor gaan vlerke gee, en so was dit ook. Enige soortgelyke verrassings vanjaar?

 BB: Elkeen van die digters wat vanjaar kom is uniek, elk ‘n suiwer baster soos dit nie anders kan nie. ‘n Paar van hulle is deurwinterd – Abdellatif Laâbi, Hans van de Waarsenburg, Homero Aridjis – ou trekvoëls en in Laâbi se geval nog tronkvoël ook. Duo Duo kom uit die hartjie van wat ‘n duisend jaar se probeer menswees beteken. Ilja Kaminski gaan ‘n ontdekking wees, maar dit sal help as mense ‘n bietjie gaan oplees oor die Russiese modernisme en veral die groot Russiese voorgangers soos Akmatova en Babel en Mandelshtam en Brodski. En Chagall. So kan ek voortgaan … Ek dink ons gaan almal in die skadu gestel word deur twee baie wyse jong straatdigters van Senegal … En dan het ek nog niks gesê oor ons plaaslike deelnemers nie! By voorbaat al dankie vir hulle gulheid van gees en hulle gasvryheid.

LE: Nog ‘n besonderse toevoeging tot vanjaar se fees, is die bekendstelling van die tweede uitgawe van die literêre joernaal “Imagine Africa”, waarby sowel Pirogue Kollektief as Archipelago Press betrokke is. Vertel ons meer van hierdie besonderse inisiatief?

BB: Dis “alles een perd”. Dieselfde aanslag of bedoeling geld vir al ons aktiwiteite: dat ons probeer fasiliteer, kloutjies by die ore probeer kry, dat die een se vaardighede of belangstellings die ander s’n sal versterk, dat ons forums en platforms bied, dat ons ‘n etiese verbeelding probeer omlyn, dat die waarheid (waarmaking) mooi is. “Imagine Africa” beoog om die fondamente te probeer identifiseer of lê van ‘n Afrika modernisme, en by name sin te probeer maak (wat nie dieselfde is as betekenis nie) van ‘n komplekse kontinent met gebruikmaak van skeppingsverbeeldings van hier (Afrika) en elders. Die gasredakteur van die nuwe uitgawe is Georges Lory, en hy gaan mét ons wees vir die Dansterfees. Ook ‘n hele paar van die ander bydraers. (En ons is bly om ook twee van jou gedigte, Louis, in hierdie nommer te hê.) Jill Schoolman, uitgewer van Archipelago Press, medewerker en tewens lid van ons Kollektief, kan ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie. Maar Hans van de Waarsenburg wat in sy hoedanigheid as hoofnoof van Maastricht se Eva Tas Stichting dit vir ons finansieel moontlik gemaak het om die jaarboek te publiseer, sal daar wees met kierie en hoed.

LE: Ten slotte, op ‘n meer persoonlike vlak: watter verwagtings hou jy vir jouself in die vooruitsig ten opsigte van vanjaar se dansende digters, Breyten?

BB: Die genoegdoening om op so ‘n wyse te kon saamwerk met ‘n aantal heel besonderse mense, en om my deel van die verantwoordelikhede aan hulle bekwame hande te kan oorgee. Die vreugde om digters as vriende vir wie ek ‘n grenslose bewondering het weer te kan sien en ervaar. Om hulle aan mekaar voor te kan stel – vir dié wat van elders kom en dié van plaaslike teling – en om sommer spoggerig ook te kan wees oor ons meetsnoere en die lieflike plekke waar hulle val. Dat ons gedeelde Afrikaanskap gevier gaan word. Dat die ondermyning van alle orde en verwagtings ‘n dieper spoor sal begin trap. Dat mense sal wil luister na die gedeelde diepklank van al hierdie tale wat met baie liefde aangebied word. Dat die wyn nie lyf sal wegsteek nie.

LE: Baie dankie vir die gesprek, Breyten. By wyse van verdere temptasie plaas ek hieronder jou gedig wat ook op die Dansende Digters se amptelike webblad gevind kan word.

*

who will be / the last to fall?

 

when I arrive in the lecture hall
I see wiser heads nodding in my direction
with an all-knowing smirk or two
here and there a backhanded titter
as if in anticipation of whatever old dog
flushed from the bush when the stone is thrown:
who do these people think I am – Breyten Breytenbach?

while waiting for the presentation to shape
in the presence of tongues still softly clicking palates
to search for the sweet gossip marrow
I realize with a suppressed sob
that I actually pity the slob

but when he prances and prattles on stage
mumblestumbling laboriously to make a case
for the double negation of engagement,
and particularly once he takes cover
behind the biarticulation of empty embodiment
(and forgets the pure light of song)
as he trashes about to snatch image from thought,
I resolve to let him dig his own hole
roomy enough to be a grave

poor shit / so full of / hollow utterances:
let him save face
and commit his own explanation.
I will not try
to take
his place

(c) Breyten Breytenbach / 2014

 

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Dansende Digtersfees. Breyten Breytenbach gesels oor vanjaar se fees”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie Louis, vir julle sensitiewe belangstelling en die ruimte wat julle beskikbaar maak om die komende vees te promoveer. ‘n Klein regstelling (wat jy ook reeds aangekondig het): dat Laâbi ongelukkig sy besoek moes kanselleer. Hy is nie gesond nie en het al vorige keer ook ‘nee’ moes sê omdat so ‘n lang reis vanaf Fez in Marokko (via Europa) net een te veel vir hom sou wees. Dis jammer. In gees is hy met ons.

    En dan die gedig wat jy gebruik het…. Oi veh, ek sal moet gaan kyk na hoe dit op die Dansterfees se webwerf lyk, want hier is darem ‘n paar lelike blapse by. (En die “innerlike verskeuring” of versnippering van ‘vertaling’ is al klaar erg genoeg – soos dit ook op julle tuiste deurslaan met hemde wat geskeur word en onderrokken wat uithang – om nie nog groter verwardheid ook te gaan staan en skep nie!)

    Waarderende groete!

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘fees’ en ‘onderrokke’ sonder ‘n n. (Vok die Nederlandse spellchecker wat kluite in jou mond lê sonder enige toestemming!)

  3. Joan Hambidge :

    Soos jy reeds weet, speel ek gasvrou op Wellington. Ons is daar: Petra, JdL, Andries, Johann Lodewyk, ek, met puik vertalings van Johann de Lange.

    Dis ‘n wonderlike fees hierdie.

  4. Joan Hambidge :

    Dankie vir jou uitnodiging en dat jy digters aan mekaar voorstel.
    Soos jy skryf:”Om hulle aan mekaar voor te kan stel – vir dié wat van elders kom en dié van plaaslike teling – en om sommer spoggerig ook te kan wees oor ons meetsnoere en die lieflike plekke waar hulle val. Dat ons gedeelde Afrikaanskap gevier gaan word. Dat die ondermyning van alle orde en verwagtings ‘n dieper spoor sal begin trap. Dat mense sal wil luister na die gedeelde diepklank van al hierdie tale wat met baie liefde aangebied word. Dat die wyn nie lyf sal wegsteek nie.”

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    En ons dank aan jou, Joan, dat jy ingewillig het om hierdie “fine fleur” van wat op Afrikaans gepoësieer word by wyse van spreke voor te bok. Ek is bly ons kuiermense kry die geleentheid om iets van die diepte en uiteenlopendheid van wat die huidige Afrikaanse digkuns bied aan te hoor – en danksy Johann de Lange se vertalinge ook te mag lees. Hopelik word dit ‘n Gargantuaanse geleentheid van genotvolheid. Ek sien baie daarna uit.

  6. Marlise :

    Enkele lusmakers uit verlede jaar se ‘dansfees’, en wat vanjaar net soveel wonderlike voorlesings gaan lewer:
    The Spier Poetry Festival – Ko Un: http://youtu.be/V10KzeA-h3I
    The Spier Poetry Festival – Caroline Forche: http://youtu.be/VkVDV0DvJOE
    The Spier Poetry Festival – Tomaž Šalamun: http://youtu.be/NlYgJxO5_so
    The Spier Poetry Festival – Breyten Breytenbach: http://youtu.be/6GffnFpDlyg

  7. Charl-Pierre Naude :

    Dit klink na ‘n lieflike gebeurtenis wat wink. Mag die beskermgeeste en die deelnemers en al die geledinge van die gehore dit ten volle geniet en waardeer! En Breyten en Louis – en die ander name wat ook hierbo genoem word wat hul deel gaan bring om die uitgenooide gaste en gehore aan mekaar verstaanbaar en vervatbaar te maak – mag groot ontvanklikheid jul bouwerk begroet. Ek sal self nie daar kan wees nie, maar as medewerker van Pirogue stuur ek my mespuntjie beste wense.

  8. Maria Snyman :

    Marlise, baie dankie vir die skakels. Ek hoop daar word hierdie jaar meer en langer en selfs beter opnames gemaak. Hierdie gedugte digters “wat skrywe asof hulle lewens daarvan afhang” verdien om gehoor en gesien te word op die you-tube, dit kan bydra tot die “ondermyning van alle orde en verwagtings ‘n dieper spoor [laat begin] begin trap.”

  9. Leon Retief :

    @Breyten – ek het sowaar ‘n antwoord van Domanski gekry en sy woorde was: “it’s fine with me.” Gaan dus voor as dit nie te laat is nie, ek sal vir hom dankie se.

  10. Desmond :

    Sien, Die Groot Vleisboek stel nooit teleur nie!

  11. Baie dankie en veels geluk, Leon! Jy het n brug dwarsoor die planeet
    gebou – vir ‘the Bear with the Clear Heart’ en wie weet vir wie nog
    ( in albei rigtings)?

  12. Buiteblaf Breytenbach :

    Beste Leon: Hier vanuit die Kaap (waar die weer nog lieflik is) en mense nie van Vleisboek of sout of water weet nie – ‘n groot baie dankie. En net so ‘n groot dankie vir Domanski. Ek/ons gaan beslis probeer om meer van sy synhelder verse in die hande te kry.

  13. Breyten, die aanprysing vir hierdie inisiatiewe kan ek nie skryf nie- dit laat ek in die hande van die woordkunstenaars. Die uittreksel uit “‘n Mens moet” van Marie Bredenkamp (vertaal in talle tale)beeld vir my die dienende selfloosheid van Dansende Digters waarna ek binne die woordkuns soek uit:

    “‘n mens moet eenkeer
    kan spring waar jy nie sien
    jou oë en lippe sluit
    en in stilte wag
    om te hoor
    of ander jou
    met hul woorde of hande
    in selfloosheid kan dien”

    Daar is honderde woordwerkers daar buite wat graag wil deel in die keur van die digkuns in ander tale. Ook in die oopbreek in Afrikaans van wat hier gebeur met Dansende Digters. My eie pogings om deelname te kry vir vertalings uit talle tale (soos Engels, Spaans, Duits, Frans, Nederlands) om dit gratis te publiseer en wyd beskikbaar te maak, bring nie die entoesiasme wat ek gehoop het nie. Cordis Trust help graag sou daar ‘n behoefte wees.
    Die vermeerdering van die woord!

  14. Maria Snyman :

    Poësie dwing sigself nie meer op mens af nie; dit ontbloot sigself.
    אLa poésie ne s’impose plus, elle s’expose.א
    (Poetry no longer imposes itself; it exposes itself.) – Paul Celan.

    ‘n Lekker los gedagte wat ek pas langs die pad waarop ek is opgetel het.

    Skakel: http://traditionoftheimmemorial.blogspot.com/

  •