Lykdig 2: De Waal Venter. Vaarwel Pablo Neruda
Vaarwel Pablo Neruda
Varend oor die woordesee
beur die boeg
skuimende boë opsy;
die seile sing in die wind,
ekstaties gespan
tot breekpunt.
Op teen die maanwit borste,
een na die ander,
af in die blou skadu
van die kuiltjie.
Voor lê die kalmte
van die koringkleurige keel.
Varend tot by die heimlike glimlag
van die hawe.
’n Soen
wat ’n ryke lading
aan land bring;
ware van gevlegte goud,
materiale van lewende vlinders,
instrumente gelouter met bloed,
vrugte wat die luste van liefde wek,
ligrooi soutrose en kerriegeel swael,
dofglansende pêrels, gevorm in pyn,
katedraalkore van lewensrooi tamaties,
getemperde lemme van hartstogtelike betoog.
Nou is die skip geanker,
stil wiegelend
op die hiernamaalse hawewater.
Nee!
Die wind bars uit,
bult die seile,
ankertoue breek –
die skip vaar juigend,
triomfantelik weer
oor die woordesee.
Vaar, Pablo, vaar.