betekenis en woordbetekenis
(vir Hector Pietersen, 16 Junie 1976)
dat hy sat is van skrywe oor daardie oerte –
van gorillas en gatril en dwerge en fokkin vokale –
om woorde plat oor die blad
te maneuvreer, soos soveel swart betogers
vuis ten hemele op soek na brand hul dooies
begrawe en bly protesteer teen die seer
van lewe om lewe in so ‘n land
dat dit hom altyd weer tot opgooi bring –
dié walgbeelde op die aandnuus se skerm
van Botha se troepe boer en pandoer
wat met hond en sambok en huilgas en koeël
die kak uit die kaffers moer, en moor:
môre-oggend se tabel van suffel
gebokveld, en die gekermde gesange van duisende naastes
by aanskoue van die bloed so swart
soos drukkersink
brand, brand dié land swart!
‘n duisend woorde maak nie één koeëlgat dig!
dat hy geforseer word om weer die tou
boontoe te werp: enigiets om aan die wurg
van die woord te ontkom…
terwyl hy liefs gedigte sou wil maak,
‘n lyn sou wil bind om God se nek,
van bengelende beelde, van dolfyne
wat Saterdagaande te perd gaan vry
in grys gehemp soos silwerige soetwater
koelvloei oor die borste,
dat die doderyk ver agter die ervaringskim lê,
apart, in ‘n gelede vers, ‘n ander verlede
want ‘n duisend woorde maak nog geen hond gesond!
brand, brand tog hierdie hand ongeskonde…
as die dooie kinders net wil ophou skree vir Afrika…
(c) Breyten Breytenbach / 09.10.84