Lykdig 10: Marthe McLoud. Brief aan Boerneef

Brief aan Boerneef

(1897 – 1967)

 

Hooggeagte Professor van der Merwe

 

Die berggans het ‘n veer

laat val met ons ontmoeting

in Carl Boplaas se voorkamer:

1981 – my matriekjaar.

“Daar lê die begin vannie ding

ennie end vannie ding,”

soos jy altoos gesê het.

 

My oë het joune vasgevang,

lank en eerbiedig soos jy sê

‘n mens na herfs moet kyk

en jy het my, ‘n voshaarnooi,

“glansender en kouer wit

en spokeriger en bleker wit”

deur die glas gepriem en afgeweeg

of ek vir jou nageslag sal deug.

 

Maar toe het “Boplaas weer toegeval

van wit kapok en dik kapok”

en ons paaie het vertak.

 

Tog het ek dikwels jou woorde herkou:

“Kyk fyn, kyk fyn, onthou, onthou”.

Daarom het Ceres se gister en eergister

in my are my vir baie jare

jou volkspoësie soos uintjies

uit jou graf laat grawe.

 

My innige simpatie met Carl

se bloedige dood by die Skurwebergkruis.

Mag julle Kouebokkevellers

se welluidendewipwarrel woorde

nog steeds vir geslagte

soos ‘n klankfontein voort bruis.

 

 

* Carel Boplaas was ‘n broerskind van Boerneef en die enigste familielid
 wat ook gedig het.  Hy het van ‘n krans in die Skurweberge na sy dood geval.


								

		
Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Lykdig 10: Marthe McLoud. Brief aan Boerneef”

  1. Riette :

    Die beste nog tot sover. Treffend . . .
    Regtig baie mooi vir my

  •