Brief aan Boerneef
(1897 – 1967)
Hooggeagte Professor van der Merwe
Die berggans het ‘n veer
laat val met ons ontmoeting
in Carl Boplaas se voorkamer:
1981 – my matriekjaar.
“Daar lê die begin vannie ding
ennie end vannie ding,”
soos jy altoos gesê het.
My oë het joune vasgevang,
lank en eerbiedig soos jy sê
‘n mens na herfs moet kyk
en jy het my, ‘n voshaarnooi,
“glansender en kouer wit
en spokeriger en bleker wit”
deur die glas gepriem en afgeweeg
of ek vir jou nageslag sal deug.
Maar toe het “Boplaas weer toegeval
van wit kapok en dik kapok”
en ons paaie het vertak.
Tog het ek dikwels jou woorde herkou:
“Kyk fyn, kyk fyn, onthou, onthou”.
Daarom het Ceres se gister en eergister
in my are my vir baie jare
jou volkspoësie soos uintjies
uit jou graf laat grawe.
My innige simpatie met Carl
se bloedige dood by die Skurwebergkruis.
Mag julle Kouebokkevellers
se welluidendewipwarrel woorde
nog steeds vir geslagte
soos ‘n klankfontein voort bruis.
* Carel Boplaas was ‘n broerskind van Boerneef en die enigste familielid
wat ook gedig het. Hy het van ‘n krans in die Skurweberge na sy dood geval.

Die beste nog tot sover. Treffend . . .
Regtig baie mooi vir my