Lykdig 11: Solet Scheeres. In Zuid-Afrikahuis is u nie dood nie

In Zuid-Afrikahuis is u nie dood nie

Vir Elisabeth Eybers

 

In die tydelike bewaarkamer

van u werkplek

staan ek met ‘n uitgestrekte hand,

dik stilte

stofdeeltjies wat ’n melkweg skitter

in die oggendson,

met die hoop om iets vas te vat

vir myself te kry.

Hier u boekery,

tikmasjien en jas

wat argeloos aan die kapstok hang.

So lyk die dood dus:

asof u weggeglip het om

even naar buiten te gaan,

miskien om ’n warme broodje bij de bakker te haal

dalk om belastingskuld aan Meneer de Laar te betaal.

 

Ek het u nooit ontmoet nie

oermoeder van alles wat ek

van Afrikaanse digkuns af weet.

Ek ken maar net die oorbekende

swart-wit-foto met die

droewige oë en vasberade mond.

In u woorde het ek die

maan sien loskom

Die teerheid van my

slapende kinders aanskou

En later, hier in Nederland,

u gedigte soos ’n skild teen

die verlange bly hou.

Voetjie vir voetjie word mens immigrant

Toevallig uit, toevallig tuis

Gestrand.

 

Stuur seblief u muse vir my aan,

ek dink dit is ‘n redelike versoek,

U sal my maklik kry, hier waar ek nou woon,

want bo ons hoofde was dieselfde ster

en in ons harte dieselfde droom.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •