Lykdig 13: Margriet Kotzé. Douglas

Douglas

In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)

 

Uitgestrekte vlaktes,

dog knus met koppies omring;

‘n vaal pad, hoofaar, wat versoenend sing.

Grysgebrande koppies groet jou,

bakens begelei jou:

die ware pad huis toe.

Van bossieveld tot by die see,

het jy geleidelik vorentoe getree.

Uitlating van dit wat binne-in druis,

skets in woorde jou daagliks kruis.

Met bloeiende hart gereeld getugtig

en met konflik deurdrenk,

is jou papie-tot-skoenlapper-reis

bittersoet gedenk.

 

Met kompulsiewe gedagtes kon jy nie meer

onuitgesproke emosies daagliks bly keer.

Jou finale reis bring jou na Drieankerbaai;

dalk het jy in die eensame kilte

van jou laaste oomblikke

weer die engele in Douglas hoor sing …

Kom terug, my kind, beskerm teen die bittere kou’

word jy hier in liefde omvou.

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Lykdig 13: Margriet Kotzé. Douglas”

  1. Samantha du Toit :

    Pragtig geskryf !

  2. Suzette Boshoff :

    Ongelooflik mooi geskryf!! Hou so aan, jys ‘n inspirasie vir ons almal!!!

  3. Archie :

    Jy sien die storie afspeel. So mooi gestel

  •