Lykdig 14: Melanie Grobler. Lykdig
Lykdig
Vir Sheila Cussons
Laas nag het sy geslaap in die huis
van Nasaret, in een van die tallose stil kamers
vanoggend wakker geword in ’n skuit
wat skarrel oor die sand op die strand
die koue van die see rys na die kamers van haar siel
as helder lig uit haar klere stroom soek sy die brose merk
as die brander oopmaak is daar ’n kraak
waar dié wat heengaan oor die grens gesmokkel word
skielik staan sy weer voor die venster, ’n kroon van woorde
in haar hare. ’n ontploffing van klanke en as ek opkyk
draai alles rond; alom is dit donker en stil