Opium en morfien
Vir Eugène Marais (9 Jan. 1871 – 29 Maart 1936)
as jy in die hel leef –
daar is ‘n skadu op die son –
doen dit eerder dronk
en sing so die lied van Suid-Afrika
dus die oop o van opium
die toegemaakte m van morfien
jy is in die veld, die Waterberg,
gesels met Darwin oor bobbejane –
die prototipe van wat menslik is –
maar jy verdwyn
dis die oop o van opium
die toegemaakte m van morfien
jy luister na ‘n ou Boesman belas
met die boerenaam en kry van hom
vier dwaalstories van hulle kom
en gaan
jou oop o van opium
die toegemaakte m van morfien
was Winternag jou eersteling –
jy noem die wye dun genade –
dan het jy nog ‘n dertig verse
klaargemaak
net een gedig per jaar
tot met die aftrek van daardie skoot
op Pelindaba met die skadu op
die son
die oop o van opium
die toegemaakte m van morfien
