Lykdig 17: fanie olivier. herdenking
herdenking
vir jan de bruyn
“Toe hy opkyk, sien hy by sy kop
roosterkoek wat op warm klippe
gebak is, en ‘n kruik water”
l Konings 19:6
nog in die wind wat die berg
stukkend ruk die rotse soos albasters strooi
nog in die trilling iewers onder,
die skudding wat amper ongeërg
krabbers laat kantel die vuur laat prut
in die uitgediende pappot van die krater
nog in die orkaan wat aangedonder
kom in soveel leërmagte oor die see
nog in die droogte wat uitgeswerm swart
oor die geskroeide landskap sit,
was God
nog in die woede van die afsterf van die vlees
die skelet wat hom op die voorgrond druk
nog in die dapperdwaas hart
se geklop nog in die seer van die sluk,
die geskuifel van die voete, hees
oor grond, oor gras, oor plankvloer en tapyt
(nog in die hadida’s se skor gefluister, die mooi
mossies op die dak, die swaeltjies ver en wyd)
hoe hulpeloos het jy nog saamgereis
tot hier, die rand van die woestyn.
hoe hopeloos bly hoop, teen elke prys,
tot hier. vir oulaas het jy vasgeklou
en toe, half onverwags, laat los.
***
dalk wis hy van die besembos
die roosterkoek die koel kruik water
die grot die nag die stilte later
dat vyf perde en ‘n wa
van vuur hom sonder iets van pyn
loshand die hemel in sou dra.