Tuin van mondings
(Sylvia Plath)
Toe doen jy dit weer.
Jy was suksesvol, hierdie laaste keer.
Jou nat pensketse van geïnkte winterbome,
oorgroot tulpe, nog ingesneeu
en nabyskote in die leem
van sampioene se sagte vuiste,
nader nog, kring op kring in pers en swart en rooi
die dringende muskus van jou oopgeskilde
blomkrone wat jou asem smoor, bloedpapawers
is jou mond se vel, die saadkapsules vol ingedrinkte
dampe opiaat herinner aan ’n vorige keer,
die moed van geslote monde
en uitmondings se rooi vlamme –
al die rame waardeur
jy na jou wêreld kyk.
Op ’n koue dag in Februarie is jou mond
’n mond van rou wonde, ’n mond
van taai pêrels
in jou tuin van digte mondings
toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat.
Susan, ek het vir n lang ruk ontrek en net gelees. Dit was nodig. Ek sal se ek maak nou net stukkies verse en los woorde bymekaar, eendag hoop ek vind ek orde in die warboel.
Hallo mede-Oos-Londenaar! Dankie vir die kom lees! Hoe gaan dit met jou gedigte?
Treffende laaste reel; die wereld uit jou oe loslaat.
Baie dankie, De Waal! Ek het nogal so ‘n vermoede gehad dat die Neruda-gedig joune is! Baie geluk ook daarmee – treffend en triomfantelik!
Veels geluk met jou gedig, Susan! Die beelde is meesleurend. Die gang van die gedig skep ‘n hoë spanning tot die nvermydelike einde – die dood van die digter.
Dankie, Nicolette. Ek is veral bly oor die kommentare, want dit is van groot waarde!
Pragtige gedig, Susan!!! Baie geluk met jou vermelding in die lykdigkompetisie. Dis ‘n welverdiende vermelding!
Pragtige beelde. Bloed en rooi en tulpe en alles. Super mooi!