Barend J. Toerien – nugter ontnugter
geliefde, gehate
(gewoonlik darem net tydelike) korrelkop
komplekse woordkunstenaar
van kwasterig verwytend tot smeulend strelend
die krapperige korrelkop met sy eie teenstrydighede
was literêr konsekwent en eerlik
sy groot stewels wat vaskop
en nog ʼn bergwand wat oorwin word
die uitbundige gees
van die groep geroep deur die natuur
maar hy hou sy donker bui vir die “perfekte” moment
as ʼn woeste woordvulkaan
hom swetsend laat uitbars
dan wanneer geliefdes koes
meet en pas sy ragfyn siel
alreeds die woorde wat
sy hartstog vir geliefdes stort
as kampvegter teen apartheid het sy pen later
frustrasie gespoeg – teleurgesteld oor
nuwe hande wat ook integriteit verloor
en van die selfbeligte Barendbaan ontspoor.
op sy oudag, kort voor sy tikmasjien stil sou word
peins hy oor sy kinderdae …. op Steenwerp
en hoe die onregte van toe tot hom spreek –
net so skerp
dieselfde soort onregte wat hy
as ou man weer sou beleef
die goue draad wat deur sy oortuigings verweef
was ook die tou wat hom kon verstrik
vir die konsekwente kampvegter
en vrederegter vir die underdog
