Toska
aan Vladimir Nabokov
“The wonder lingers and the shame remains.”
— Vladimir Nabokov, Pale Fire: Canto One (166)
Sou jy kon sien hoe my leegheid oor jou dood
soos die eb en vloed van die oseaan
uit my tot op hierdie bladsy strek?
Sal jy my weer verduidelik wat die onvertaalbare
Russiese woord “toska” presies behels?
Ek sien hoe jy stilletjies spelde deur
die middellywe van vlinders steek,
terwyl jou hart in my hande klop
soos jy Humbert word en jou Lolita, nes ’n vlinder,
met woorde teen ’n fluweelbord vaspen
(“Carmen, my Carmen . . .”)
of jy jou as John Shade vermom en ’n onvoltooide
gedig nalaat met 999 reëls.
Jy sal in my ore bly asemhaal terwyl ek oneindige
verse komponeer,
met die wete dat jy nooit sal tevrede wees met
waarin ek my verdiep nie.
Die twyfelende sekerheid van jou toekomend-afwesige goedkeuring.
Daar is ’n oneindige stel van 999 reëls in jou pen,
wat jou lojaliteit tot struktuur verseker –
verskoon dat ek nie die amptelike struktuur van roubeklag
hier toepas nie. My liefde is egter koud,
want nes Lot se vrou
wonder ek of jy ooit gewonder het
oor Lolita se vuur in die fuik?
Elkeen van jou verse wat ek lees is vir my ’n verlies,
want ek is stadigaan sinkend na die bodem van die put
waaruit jou gedigte geskep word:
elke gedig wat ek lees maak vir my
een minder ongesiene gedig.
Vandag is jy die skaduwee van die “waxwing slain”,
maar die “false azure in the windowpane”
is eg gemaak deur geraamde vlinders.
Jy sou nie kon sien hoe my leegheid oor jou dood
tot hiér strek nie, want jy is ingestem op kuns ter wille van kuns,
en ek kon jou nog nie met woorde
teen ’n fluweelbord vaspen nie.
