Lykdig 34: Alet van Heerden. Elegie aan Elisabeth Eybers

Elegie aan Elisabeth Eybers

 

Vanaf jou eerstelingbundel het jy,

jou woorde liggevlerk, harte gesteel,

met borrels van blyheid,  jou hart gedeel,

woorde weer hulle oggendblos laat kry.

Jy het vrouestemme laat ontwaak.

Met die kronkelpad van jou verbeelding,

oomblikke van ongeskonde skoonheid gebring,

oewerlose vrede, wat sieldiep raak.

Jy kon vlug in rym en ritme vaslê,

die littekens van eensaamheid besweer.

eindelik ook onderdak vind en floreer

in woorde, ‘n laaste toevlugsoord, belê.

Kosbaar was ‘n vertroude grootwordtyd –

om te droom was vir jou ‘n gegewe.

Al loer die bedreiger van die lewe,

was daar ‘n vooruitsien na eindigheid.

Selfs met ouderdom, al verslyt die hart

is balans en ewewig steeds herwin –

vreugde, moederskap, ‘n vrou wat bemin.

Temidde van eenlopenheid en smart:

…”het ek geleer om mens, om vrou te wees

…”een uit die effe menigte” was jy!

Al sou daar begeertes onvervuld bly,

bring jy ons liefste dinge van die gees:

…” En deur die jare het sy self die slot

van die verhaal geword; haar stilte en krag

was skoner as die dinge waarop sy wag…”

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •